Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Jy ken hom waarskynlik as Tshepo in “Diepe Waters” en TJ in “Getroud met rugby”, maar vir sy ouers, ouer broer en vriende is hy Johnny.
Afrikaans.com wou so bietjie meer weet van hierdie talentvolle akteur.
Oorspronklik van Orange Farm, is Johnny as klein seuntjie aangeneem deur Christo en Sharon van der Westhuizen en het hy saam met sy gesin en ouer broer, Christopher, in Randburg, Gauteng grootgeword en skoolgegaan – eers Laerskool Unika en toe Hoërskool Randburg. “So ja … ek is maar ’n Joburg-boet.” Skool was vir hom lekker en om in matriek tot die leerlingraad verkies te word, was vir hom ‘n groot voorreg. Tog was dit nogal stresvol, want “jy wat self nie perfek is nie, moet ’n voorbeeld stel vir die graad 8’s … jou optrede word raakgesien en dopgehou en jy moet mooi trap. Ek onthou hoe ek opgekyk het na my matrieks en prefekte en ek wou baie graag soos hulle wees.”
Johnny vertel dat die toneelspeelgogga hom reeds op ’n baie jong ouderdom gebyt het. “Ek het op skool aan kunswedstryde, redenaars en spreekkore deelgeneem. Ek wou altyd deel wees van kultuur en wou stories vertel. Dit was vir my lekker.” Hy lag wanneer hy sê dat daar nog nooit ‘n tekort aan drama in sy lewe was nie – nie met ‘n groot familie met groot persoonlikhede soos syne nie.
Johnny het teen alle verwagtinge in nie drama na skool gaan swot nie, maar toe kies drama hom in elk geval.
In sy eerste jaar op universiteit het hy die kans gekry om ‘n oudisie vir ’n fliek te doen. “Ja, die oudisie vir “Vuurdoop” het eintlik alles vir my verander. Ek was kinderlik opgewonde en toe ons uiteindelik begin skiet, het alles net in plek geval – al was ek op daardie stadium lanklaas voor die kameras of op ’n verhoog. Ek het net tuis gevoel. Dit is tot vandag toe een van die lekkerste stelle waarop ek gewerk het. En om weer met André Velts te werk, was vir my baie spesiaal. “Vuurdoop” het my herinner dat ek tog mal is oor toneelspel.”
Of hy weer sal gaan swot? “Ek dink as ek weer die kans kry om alles oor te doen, sal ek nog steeds dieselfde doen, maar as ek ’n studierigting móét kies, dan sal ek seker iets kreatief wil doen, soos bemarking.”
“Getroud met rugby” (as TJ) was Johnny se eerste groot rol op televisie en hy vertel dat hy as onervare akteur eintlik aan die diep kant ingegooi is, maar baie geleer het. “Veral om saam met akteurs soos Nadia Beukes en Johan Scholtz te werk. Ek dink dit is iets wat geen skool vir my kon aanbied nie. Ek het letterlik geleer van die bestes en ek het geleidelik gegroei en in die proses ook baie foute gemaak. Hulle het my geduldig reggehelp en geleer hoe dinge gedoen word.” Johnny glo ook vas dat ‘n mens nooit ophou leer nie en om soos hy eerstehands alles te kan leer van hoe ’n stel werk, is volgens hom die beste manier. “Dit is wat “Getroud met rugby” vir my gedoen het.”
In “Getroud met rugby” en ook in “Diepe Waters” is albei die karakters wat Johnny vertolk aangenome kinders. Dit is iets waarmee hy kan vereenselwig omdat hy self ook aangeneem is.
“Ek dink ek het ’n beter begrip van TJ en Tshepo gehad en kon relate met baie van die storielyne, want dit is goed wat ek self ervaar het.”
Johnny noem dat sy aanneming die beste ding is wat met hom kon gebeur het. “Ek kon nie vir ’n beter familie gevra het nie. Ek het net nooit uit gevoel nie. Dit was amper asof ek nooit aangeneem is nie. Almal het my net aanvaar. Ek het ook soveel liefde gekry. Die feit dat ek kan sê dat ek nie ’n beter familie kon kies nie, maak my skoon emosioneel, want ek weet almal se stories is nie so nie.”

Johnny en sy ouer broer, Christopher, ook ’n akteur, se verhouding lê hom na aan die hart. “Christopher is een van die beste akteurs wat ek ken. Die manier hoe hy na alles kyk, het my werklik geïnspireer. Ek gaan tot vandag toe nog na hom toe met tekste en storielyne wat ek nie verstaan nie of waarmee ek sukkel en hy help my altyd. Hy is een van die groot redes hoekom ek is waar ek is. Die begrip wat hy het en die dinge wat hy my help om te sien, is onvervangbaar.”
Christopher vertel dat Johnny beslis weet wie hy is en wat hy wil hê en hoewel Johnny huiwer om 100% saam te stem, erken hy dat dit eintlik waar is.
“Ek weet wat ek wil hê en dit maak my soms hardkoppig, maar ek probeer darem om nie te hardekwas te wees nie.”
Johnny beskryf sy rol as Tshepo in “Diepe Waters” as ‘n lekker rol wat hy baie geniet. Hy voel ook dat hy en Tshepo pelle in die “regte” lewe sou kon wees. “Om iemand soos Tshepo in jou lewe te hê, sou great wees. As hy aan jou kant is, is die saak reg, want hy sal jou deur dik en dun bystaan. Hy moet my net nie druk om saam met hom te swem nie, want dit sal nie gebeur nie!”
So van swem gepraat, Johnny erken dat hy nie juis sportief is nie en swem was ook nie sy sterkpunt nie, maar hy moes leer swem vir die rol. En hy swem darem nou beter as vroeër, sê hy. “Ek is gemakliker in die water, behalwe in die winter,” lag hy.

Johnny saam met Neena en Christopher op hul troudag.
En wanneer hy nie toneelspeel nie?
“Ek oefen, kyk TV, en ek irriteer die mense om my … so dis maar goed dat ek besig bly!”
Sy raad aan opkomende akteurs
Johnny reken: “Leer jou woorde. En moenie alles kop toe vat nie. Môre is nog ’n dag.”
Beskryf jouself in ’n paar woorde
Oplettend. Gedrewe. Spontaan.
“Afrikaans is my moedertaal.”
Toe Johnny klein was het hy nie altyd verstaan wat sy ouers in Afrikaans kwytraak nie, maar hy was vanaf graad 1 in Afrikaanse skole en vandag beskou hy Afrikaans as sy eerste taal. “Soos die sanger Appel sê: ‘In Afrikaans het ek geleer hoe om te bid en praat. Dit is my taal, my trots, die rots wat ek by my dra,’ … en dis hoe ek Afrikaans sien.”
Gunsteling- Afrikaanse woord?
“Hartstogtelik. Ek hou van die intense emosie agter die woord.”
En sy groot droom?
“Ek sal graag ’n Silwerskermtoekenning wil wen.”
En dit is Johnny in ’n neutedop … en te oordeel aan sy toekomsdrome gaan ons hom nog lank in ons sitkamers verwelkom. “Ek sal graag oor vyf of tien jaar nog steeds in die bedryf wil wees. Maar … ek hou van verandering, so dalk sien julle my in ’n ander veld, maar beslis nog in die vermaaklikheidsbedryf.”
Afrikaans.com het ook met Righard van Jaarsveld gesels – ‘n skoolvriend en nou ook saam met Johnny in “Diepe Waters” as die karakter Tommie. Ons wou weet hoekom hulle vriendskap werk en hoe hy Johnny sou beskryf.
Sê Righard:
“Ek dink die coolste deel van hierdie vraag is dat as ons al twee dit moes beantwoord ons twee verskillende antwoorde sal hê, maar met dieselfde bedoeling en betekenis daaragter! Ons ken mekaar reeds 14 jaar lank, maar is al vir vyf jaar beste pelle!
“Ons vriendskap werk, want ‘he just gets it’. Ons werk saam, maar kan huis toe gaan en mekaar hel gee soos beste vriende! Ons kan bly wees vir mekaar, terselfdertyd mekaar nederig hou. Ons kan saam lag, maar ook saam huil. Ons kan finansieel goed doen saam, maar ook finansieel sleg doen saam! Alles word saam gedoen. Dis nie OF ek OF hy nie … dis altyd ’n ONS. En dis hoekom dit werk, want ons gun die wêreld en meer vir mekaar! Of dit nou werk is en of dit in ons persoonlike lewe is, ons wil hê ons moet saam suksesvol wees!
“En om eerlik te wees … ek en Johnny steek nie goed weg vir mekaar nie! Ons weet alles van mekaar af … saam het ons in ons lewe deur moeilike situasies gegaan en saam en deur glimlaggies gesweef… ons verstaan mekaar. Daar’s ’n diep liefde wat ons albei het vir ons vriendskap en mekaar!”
So beskryf Righard vir Johnny …
“Hy’s die kleurvolle bron in ons almal se lewens! Hy bring geluk, hy bring liefde! Ek dink nie daar is iemand daar buite wat nie van hom hou nie! ALMAL love hom! Hy oordeel nie… hy raak nie kwaad nie… en hy gaan uit sy pad uit vir mense! Maar,” skerts Righard, “hy kan nie kos maak nie, en hy kan nie ’n swembad skoonmaak nie.”







