Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Elke ouer het dit al beleef: daardie skielike, oorweldigende storm van trane, geskree en ledemate wat soos gaar spaghetti rondgeslinger word. Daar is min dinge so uitdagend soos ’n klein mensie wat vasgevang is in die hoë emosie van ’n “tantrum”. Vir ’n ouer kan dit onvoorspelbaar en selfs traumaties voel. Tog is dit, onder die oppervlak, ’n normale en belangrike deel van vroeëkinderontwikkeling, sê dr. Elizabeth Bezuidenhout, ’n opvoedkundige sielkundige van Roodepoort. “Neurologies word die kind se emosionele brein (die limbiese stelsel, veral die amigdala) hoogs gestimuleer, terwyl die prefrontale korteks (verantwoordelik vir impulsbeheer en regulering) nog onvolwasse en basies ‘aflyn’ is.
Dit beteken dat jou kind nie aspris moeilik is nie, hulle kan eenvoudig tydelik nie selfregulering toepas nie.”
Dr. Ken Resnick, ’n opvoedkundige sielkundige en familie-onderhandelaar van Linden en stigter van The Smart Choice-ouerskapprogram, help al vir meer as 30 jaar gesinne om as ’n eenheid te funksioneer. “Kinders onder vyf se breine word nog ‘bedraad’ as mens dit so kan stel, en na die ouderdom van vyf behoort ‘tantrums’ af te neem. Ouers moet onthou dat kinders baie taai is, en ons moenie hulle hanteer asof hulle van glas gemaak is nie. Kinders word impulsief en selfgesentreerd gebore, en die vonk wat ’n ‘tantrum’ laat ontvlam is meestal ’n ouer wat ‘nee’ sê vir iets. My raad, leer hulle maniere van kleins af, bly kalm en gee aandag aan jou stemtoon.”
Elizabeth stem saam dat algemene oorsake van “tantrums” frustrasie, hongerpyne, oorstimulasie en beperkte vermoë om behoeftes te kommunikeer, insluit. “
‘Tantrums’ is mees algemeen onder twee- en driejariges.
Ouers hoef nie veel daaroor te bekommer nie, behalwe as dit baie intens en uitgerek is, en meer as een keer per dag gebeur. As ’n kind na die ouderdom van ses steeds ‘tantrum’, as hulle aggressief is, hul ontwikkeling vertraag is, of ’n geneigdheid het om hulself seer te maak, moet ouers hulp inroep.”
Ken sê reguit dat ouerskap nie maklik is nie. “In vandag se wêreld het ouers soveel meer uitdagings. Die belangrikste is om altyd kalm te bly. Die fokus wanneer dit kom by ‘tantrums’ moenie op die kind wees nie, maar op die ouers se reaksie daarop. Kinders gee nie sommer in nie, dit is die ouer se rol om kalm en stabiel te bly.” Elizabeth meen ook dat effektiewe strategieë tydens ’n “tantrum” insluit om te fokus op regulering, en nie korreksie nie. “Gebruik kort sinne – onthou jy gaan nie sommer ’n kind uit hierdie situasie kry met jou woorde nie. Maak seker die kind is veilig (dat hy nie iewers gaan afval nie), en bied troos as die kind ontvanklik is daarvoor. Gee hom spasie om self te kalmeer sonder om hom te oorweldig.”

Enige ouer sal graag wil weet hoe ’n mens “tantrums” totaal kan voorkom, maar Ken sê die beste is om ’n plan van aksie te hê. “Moenie bekommer oor snellers nie. Stel grense vir jou kind en bly konsekwent. Fokus op jou eie reaksie en maak seker jy bly in beheer en begin nie ook skree nie. Wees die outoriteitsfiguur en onthou dat kinders reëls en struktuur nodig het. Leer hulle dat as hulle buite daardie struktuur en reëls optree, dan is daar gevolge. Roetine, grense, maniere – dit is jou wagwoorde.” Elizabeth beaam dat ouers hulself moet herinner om nie die kind se reaksie persoonlik op te neem nie (‘hy doen dit, want ek is ’n slegte ouer’), maar eerder moet onthou dat hierdie deel is van die kind se ontwikkeling.
“Fokus op jou asemhaling en hoe jy praat. As die ouer kalm is, is dit ’n eksterne reguleerder en gedrag vir die kind om na te boots.”
Ken beklemtoon dat ouers eerder die fokus moet wees wanneer dit kom by die hantering van “tantrums”. “Ouers moet opgevoed word. Hoe ons praat en ons konneksie met ons kinders is kritiek.” Maar hoe gemaak as jou kind in die openbaar begin met ’n “tantrum”? “Bly gefokus op die kind, nie die moontlike ‘gehoor’ nie. Hou jou reaksies kort en kalm, en vermy dit om in te gee net om die ‘vernedering’ te stop. Konsekwentheid maak meer saak as wat ander mense van jou dink,” is Elizabeth se raad.

Die verskil tussen ’n “tantrum” en ’n emosionele inploffing (“meltdown”)
Die twee lyk dalk dieselfde, maar ’n “tantrum” en ’n emosionele inploffing (“meltdown”) verskil. “’n ‘Tantrum’ is doelgerigte gedrag en gebeur wanneer ’n kind iets wil hê (’n speelding, aandag of om ’n taak te vermy) en hulle het nie die vaardighede om die frustrasie te bestuur nie. ’n ‘Tantrum’ kan stop as die kind kry wat sy wil hê of as die situasie verander,” verduidelik Elizabeth.
’n Emosionele imploffing is die resultaat van emosionele of sensoriese oorlading. “Die kind probeer nie iets bereik nie, hy is net oorweldig en het die vermoë verloor om homself te reguleer. Inploffings stop nie met belonings of gevolge nie, en vereis ondersteuning, kalmering en verminderde stimulasie,” sê sy.
As ouers die verskil ken tussen die twee kan hulle meer effektief reageer – met leiding en grense vir “tantrums”, en kalm ondersteuning vir emosionele inploffings.







