Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Die vermoë om te lees vir betekenis is belangrik aangesien die gemiddelde persoon begin lees sodra hulle hul oë soggens oopmaak. Hulle kyk na boodskappe op hulle selfone, lees etikette op die ontbytpapboks, lees en onderteken hulle kinders se skoolkennisgewings, spoedlees die daaglikse nuushooftrekke op die lamppale op pad werk toe, lees padtekens, en so meer.”– Dr NM Klapwijk
Hoe dikwels hoor ons nie ouers spog oor hoe goed en vlot boetie of sussie kan lees nie, maar niemand sê ooit of hulle verstaan waaroor die storie gaan nie. Kan hulle vrae daaroor beantwoord? Weet hulle wat die woorde beteken? Het hulle die woorde behoorlik geprosesseer om die betekenis daarvan te begryp?
“Die vermoë om woorde hardop, ritmies en sonder haakplekke te lees, is belangrik, maar dis nie die eindpunt nie en hierdie leesvlotheid is ook nie dieselfde as leesbegrip nie.”
“As daar nie begrip is nie, is daar ook nie genoegsame vaslegging vir verdere leer nie.”
Dit is hierdie gaping wat betyds hanteer moet word, want later raak dit moeiliker om reg te stel. Dis is ook dié leerders wat sukkel om Wiskunde-probleme te ontleed, lewensoriënteringsteks te interpreteer, of vrae met insig te beantwoord.” [1]
En dis is juis hierdie begripsaspek wat dikwels geringskat word en waarom Suid-Afrika se graad 3- en graad 6-leerders nie met begrip kan lees nie. Tania Heyns skryf in ‘n 2025-artikel op Maroela Media [2] dat data toon “dat agt uit elke 10 leerders in graad 3 en 4 steeds nie met begrip kan lees nie. Byna sewe uit elke 10 leerders in graad ses kan ook nie op graadvlak in hulle huistaal lees nie.”
In dieselfde artikel skryf Heyns dat die jongste agtergrondverslag van die 2030-leespaneel daarop wys dat “80% van leerders in graad 3 en 81% van leerders in graad 4 nog nie met begrip in enige taal kan lees nie. Tot soveel as 70% van leerders in graad 6 se taalvaardigheid is ook nie op graadvlak nie.” Volgens die verslag van die 2030-leespaneel moet daar nog baie ontwikkeling plaasvind om ‘n werklike verskil aan leesuitkomste te maak.

Hoe om leesbegrip te verbeter [3]
In hoofstuk 11 van die leesreeks, Lees 101, op Netwerk24, gee twee kenners raad oor hoe om leesbegrip te verbeter. Die volgende hoofkwessies is genoem:
- Kinders lees te stadig.
- Paarlees word aanbeveel – die ouer of onderwyser sit saam met die kind en lees die teks saam met hom. Die ouer of onderwyser lees dan geleidelik vinniger en “dwing” die kind om by te bly. So word die gapings gevul en verbeter leesbegrip algaande.
- Nog ’n tegniek is die gebruik van fluisterfone – daardie plastiekpype waardeur kinders hulleself kan hoor lees. Dit verbeter ook spoed en begrip.
- Bepekte woordeskat.
- Lees vir jou kinders. Kinders vir wie gereeld voorgelees word, ken tot soveel as ‘n miljoen meer woorde as die kinders vir wie nie voorgelees is nie. Dit verbeter nie net hulle leesvermoë nie, maar ook akademiese prestasie.
- Interaktiewe lees is daarom belangrik.
- Lees saam met jou kind, vra vrae en praat oor wat julle gelees het.
- Lees met begrip is die basis van leer en presteer.
- Lees fiksie.
- Maak seker die boeke wat gelees word sluit aan by jou kind se belangstellingsveld. Deur te lees vir die pret word kinders blootgestel aan komplekse konsepte, maar op ’n manier wat hulle verstaan en wat vir hulle lekker is. Onthou, kinders verskil – daarom is dit belangrik om te weet waarvan jou kind hou. Hou dan die uitgewers en media dop om te kyk watter boeke daar is. Sluit ook by die biblioteek aan en maak dit ’n weeklikse uitstappie om boeke uit te neem.

Die oorgang van laerskool na hoërskool
In die RSG-program, Ons en die onderwys, van 22 Maart 2026 [4] het Johan van Lill met dr Jurie Joubert gesels oor lees as die sleutel tot leer en waarom dit so ’n kritiese rol speel in akademiese sukses. Daar is gefokus op waarom lees steeds so ’n groot uitdaging in Suid-Afrikaanse skole – veral in die hoërskool – is en hoe lees (met begrip) prestasie op alle vlakke beïnvloed.
Dr Joubert noem die feit dat daar in die meeste Suid-Afrikaanse skole klem gelê word op die onderrig van begripsvaardighede, maar met die aanname dat die leerders wel verstaan wat hulle lees. Die probleem hiermee, volgens dr Joubert, is dat lees nie net beteken ‘vat ’n boek en lees nie’. Daar is baie ander aspekte wat betrokke is en leerders moet daarmee gehelp word.
Nog ’n probleem is die onvermoë van onderwysers om lees te onderrig omdat hulle nie genoegsaam daarin opgelei word nie.
Hier word nie net gepraat van taalonderwysers nie, maar van alles vakonderwysers.

In die oorgang van laerskool na hoërskool is leerders nie noodwendig akademies voorberei wanneer dit by leesvaardighede kom nie. Dr Joubert meen daar is talle probleme waarmee ons te kampe het. Een daarvan is dat ons skoolstelsel sodanig is dat nie alle voederskole (laerskole) op dieselfde vlak is nie. Nog ’n probleem is dat navorsing gewys het dat kinders nie kan onthou wat hulle gedoen het nie – m.a.w. hulle werksgeheue is swak. Hulle fonemiese bewustheid is oor die algemeen ook nie baie goed nie en hulle sukkel om letters in ’n woord bymekaar te sit. Wanneer leerders dan uit verskillende voederskole by die hoërskool uitkom, sit onderwysers met ’n bykomende probleem omdat die vlak van onderwys in die verskillende laerskole nie dieselfde is nie.
Lees is die basis van alle leer – maar wat beteken dit in die praktyk?
Volgens dr Joubert is onderrig gebaseer op geheue. Leerders word getoets op werk wat hulle spesifiek geleer het (feite en vrae) en wat hulle dan moet beantwoord. Dink ’n mens daaroor, beteken dit egter dat as almal dieselfde antwoorde verskaf, daar nie werklike onderrig plaasgevind het nie. Die leerder het nie nodig gehad om verder te lees of te dink nie, of om self die antwoorde te gaan soek nie. Daarom is leer soveel meer as net boekkennis weergee. Denkvaardighede moet ontwikkel word. Daarsonder kan ‘regte’ leer nie plaasvind nie. Die kind moet dus verstaan wat hy lees of hoor en dit dan in sy eie brein van toepassing maak. Eers dan het ware leer plaasgevind.
Hoe beïnvloed dit akademiese ontwikkeling as die leesbasis nie sterk genoeg is nie?
In ’n klas waar nie al die leerders op dieselfde vlak van lees is nie, raak dit ’n probleem omdat die onderwyser nou op verskillende vlakke moet onderrig. Dr Joubert meen dat dit sal help as die hoërskoolonderwyser voorbereid kan wees en weet waarmee hy/sy te make het sodat onderrig daarby aangepas kan word. Dr Joubert sê ook dat dit elke onderwyser se verantwoordelikheid is om toe te sien dat die leerders verstaan wat hulle lees en daarom aandag moet gee aan lees. Dit is dus nie net die taalonderwyser se plig nie. Alle vakonderwysers is betrokke by die leesproses.
Baie kinders hou nie van lees nie en dis buitendien makliker om ‘n video te kyk as om 20 minute lank te lees.
Dr Joubert noem ook dat handboeke oor die algemeen nie juis ontwerp is om lees aan te moedig nie. Dit is bloot ’n klomp feite wat geleer moet word, maar dit dra nie by tot leesvaardighede of denkvermoë nie. Daarom moet die leesproses goed beplan word. Daar moet beter samewerking tussen die verskillende skoolfases wees. Laerskole moet die basis van lees vaslê, maar vir die proses om suksesvol te wees, moet die hoërskole weet wat hierdie basis is om suksesvolle onderrig voort te sit.

Bronne en lees meer:
- Leesvlotheid & Leesbegrip: Die Verskuilde Tekort in Leerders se Leesvaardigheid – Stimulus Maksima
- Meeste gr. 3’s en gr. 6’e kan steeds nie met begrip lees – studie – Maroela Media
- LEES 101 – Episode 11: Lees en verstáán: Hoe om leesbegrip te kweek | Netwerk24
- Ons en die onderwys 22 Maart 2026 – Ons en die Onderwys – Omny.fm
Skokverslag: Net handvol gr. 3’s en gr. 6’e kan met begrip lees | Netwerk24
Onderwysers: Lees ook meer oor leesbegrip en die onderrig en strategieë in die verskillende fases:
Vir ons onderwysers: Leesbegrip: Artikel 1 – Die onderrig van leesbegrip – Afrikaans.com
Vir ons onderwysers: Leesbegrip: Artikel 2 – Die voor-leesfase – Afrikaans.com
Vir ons onderwysers: Leesbegrip: Artikel 3 – Tydens-leesfase – Afrikaans.com
Vir ons onderwysers: Leesbegrip: Artikel 4 – Na-leesfase – Afrikaans.com
Hoekom is leesbegrip so belangrik? – Episode 10 – Afrikaans.com







