Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Die Amerikaanse akteur James van der Beek (bekend vir sy rol in die gewilde Dawson’s Creek van die laat 1990’s) is in Februarie vanjaar op die ouderdom van 48 aan kolonkanker oorlede. Net soos baie ander jong mense, het hy die waarskuwingstekens ongelukkig geïgnoreer.
Kolonkanker klink beslis nie soos iets waaroor jong mense bekommerd moet wees nie, maar volgens Kansa is daar navorsing wat wys dat heelwat jonger individue (mense onder die ouderdom van 50) deesdae met dié gevreesde siekte gediagnoseer word. Dit is die vierde mees algemene kanker in mans (’n leeftydrisiko van 1 uit 83) en die vyfde mees algemene kanker by vroue (’n leeftydrisiko van 1 uit 136) sê die Suid-Afrikaanse Nationale Kanker Register (2023). Dit is volgens Kansa een van die top drie kankers vir beide mans en vroue in Suid-Afrika.
Afrikaans.com het met dr. James Pattinson, ‘n kolon-rektale chirurg van die Joburg Colorectal-praktyk in Parktown gesels. Hy meen in Suid-Afrika is daar beslis ’n styging in jonger mense wat met kolonkanker gediagnoseer word. Kolonkanker kom voor in die kolon (dikderm) en die rektum. Dit begin gewoonlik as ’n poliep, ’n vlesige uitgroeisel in die wand van die kolon. ’n Diagnose van kolonkanker kan ’n jonger individu skok, en dikwels word simptome geïgnoreer of oorgesien.
“Die groot waarskuwingstekens is soortgelyk in jonger en ouer mense,” sê James. “
Bloeding van die rektum, veral met ’n slymerige afskeiding, ’n verandering in ontlastingpatrone (veral diarree), en onverwagte en onverklaarbare gewigsverlies. Hardlywigheid is iets waarmee baie mense sukkel en iets wat hulle bekommerd kan maak, maar dit hou gewoonlik nie verband met kanker nie,” verduidelik hy.
Nog simptome sluit kroniese abdominale pyn of krampe, naarheid, opgeblaasheid, uitputting en ’n gevoel van swakheid in. Baie jong mense sal verskeie van die simptome op dieselfde tyd ervaar. James beklemtoon ook dat ’n mens nooit enige van hierdie simptome moet ignoreer nie, veral nie as daar ’n familiegeskiedenis van kanker is nie. Volgens die Mayo-kliniek is genetika die oorsaak van kolonkanker in tot 20% van mense onder 50 wat daarmee gediagnoseer word.
Ander risikofaktore kan verband hou met algemene dermgesondheid, en hoe baie ‘goeie’ bakterieë in jou dermkanaal leef. Volgens die Mayo-kliniek kan kolonkanker ook geskakel word aan die gebruik van antibiotika, veral van jongs af, aangesien dit die bakterieë in die derms kan ontwrig. Nog risikofaktore sluit ’n ongesonde dieet van kindsbeen af in (veral hoë inname van suikerryke drinkgoed en geprosesseerde kosse), ’n ongesonde leefstyl (soos om ure lank te sit, veral as kind en jong volwassene) en om simptome te ignoreer. Baie mense word nie getoets vir kolonkanker voor die ouderdom van 45 nie, en jonger mense sal dalk dink dat sekere tekens soos bloeding nie iets ernstig is nie.
Wanneer die kanker nie vroeg genoeg gevind word nie, kan dit moeiliker wees om te behandel.

“Daar is nie regtig ’n verskil in die simptome wat ouer en jonger mense ervaar nie. Die verskil is dat jonger mense langer wag voordat hulle ’n dokter gaan sien, en dikwels hulle simptome ignoreer. Kolonkanker in jonger mense blyk ook meer aggresief te wees. Die twee faktore – dat hulle langer wag en moontlik met ’n meer aggresiewe kanker gediagnoseer gaan word – veroorsaak dat jonger mense dan moet worstel met kanker wat reeds ver gevorder is wanneer dit gediagnoseer word,” verduidelik James.
Hy kan die volgende nie genoeg beklemtoon nie: “Gaan spreek ‘n dokter as jy enige van die genoemde simptome ervaar. Moenie wag nie, en moenie skaam voel om hulp te gaan soek nie. As jou algemene praktisyn nie jou simptome ernstig opneem nie, gaan direk na ’n gastroënteroloog of ’n kolon-rektale chirurg vir ’n tweede opinie.”
Praktiese wenke
- Moenie simptome wat vir langer as ’n paar weke aanhou, ignoreer nie.
- Soek mediese hulp as jy enigsins bekommerd is, en vra vir verdere toetse as die simptome aanhou.
- Vra jou familielede uit en wees bewus van jou familiegeskiedenis in terme van alle kankerdiagnoses.
- Weet dat ouderdom jou nie kan beskerm nie – al is jy jonk, dring aan op behoorlike toetse, insluitende ’n kolonoskopie.
- Handhaaf ’n gesonde leefstyl om jou dermkanaal te beskerm. Dit sluit in om genoeg vesel in te neem, jou inname van geprosesseerde en suikerryke kos te beperk, gereeld te oefen en nie vir lang ure te sit nie.
Bykomende bronne:
https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/colon-cancer/symptoms-causes/syc-20353669
https://cansa.org.za/colorectal-cancer/
https://joburgcolorectal.co.za/;
https://www.healthline.com/health-news/colon-cancer-rising-young-adults-symptoms-warning-signs?







