Resep deur: Tiny Brümm
Kinderpartytjies, kerkbasare en skoolsnoepies … Ystervarkies is reeds vir baie jare ‘n groot gunsteling in Suid-Afrikaanse kombuise. Marie Brümm deel haar skoonma se resep.
Bestanddele
Koek
* 1½ k meel
* 1 k suiker
* 30 ml Maizena
* Knippie sout
* 1½ k kookwater
* ¼ k olie
* 2 eiers
* 1 t vanielje
* 15 ml bakpoeier
Sous
* 4 e kakao
* 1½ k water
* 3 k suiker
* 1 e botter
Vir rol
* Klapper (genoeg om blokkies in te rol)
Metode
- Sif die meel, suiker, Maizena en sout drie keer saam in ’n mengbak om ’n ligte, egalige tekstuur te verseker.
- Voeg die kookwater en olie by en meng goed tot ’n gladde beslag vorm.
- Klits die eiers en vanielje by en meng deeglik.
- Voeg die bakpoeier heel laaste by en meng dit liggies en versigtig met ’n draadklitser in — moenie oormeng nie.
- Gooi die beslag in ’n gespuite bak van ongeveer 25 cm x 22 cm. Indien jy ’n plastiekbak gebruik, plaas ’n stukkie handdoekpapier onder in die bak.
- Mikrogolf op hoog vir ongeveer 8–9 minute, of tot die koek gaar is.
- Laat die koek effens afkoel, sny dit in blokkies en plaas dit oornag in die vrieskas.
- Vir die sous: Plaas die kakao, water, suiker en botter in ’n pot en verhit oor matige hitte. Roer aanhoudend totdat die suiker opgelos is en die sous warm en glad is.
- Haal die koekblokkies uit die vrieskas, doop elke blokkie in die warm sous en rol dit dadelik in klapper totdat dit goed bedek is.
- Laat die ystervarkies effens stol en bedien.







