Geskryf namens die AON deur
Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Watter stappe kan jy neem om kreatiwiteit aan te moedig?
Kreatiwiteit is ‘n sleutelvaardigheid in die arsenaal van 21ste-eeuse vaardighede.
Dit neem oor die algemeen tydens die eerste 9 jaar op vier maniere in ‘n skoolsituasie vorm aan:
- Kunssinnigheid: Kreatiwiteit word tradisioneel met kuns geassosieer, soos skilder, teken, beeldhouwerk, drama, dans, en – vir leerders wat oud genoeg is om te kan skryf – kreatiewe skryfwerk.
- Kreatiewe redenasievermoë: Kinders behoort ook teen die agtergrond van die 21steeeuse vaardighede aangemoedig te word om hoër-orde denke te gebruik om hulself kreatief uit te druk. Dit gebeur veral wanneer hulle op ‘n kreatiewe manier wetenskaplik ondersoek instel, en take en probleme op nuwe, vars maniere benader.
- Kreatiewe idees: Een van die hoofredes hoekom kreatiwiteit in die 21ste-eeuse werkplek hoog aangeslaan word is omdat die wêreld vandag sò vinnig verander dat werkers voordurend met nuwe, onkonvensionele idees vorendag moet kom. Navorsers sê jong kinders leer om met kreatiewe idees vorendag te kom wanneer hulle gereeld eksperimenteer om (1) hul eie vrae te beantwoord en (2) uit te toets of hul idees werk.
Kundiges sê jong kinders leer van nature hoe om met kreatiewe idees vorendag te kom. Hulle begin dikwels deur gedrag wat hulle in ’n bekende konteks waargeneem het, in ’n nuwe konteks na te boots. Wanneer die bekende manier nie werk nie, begin hulle spontaan om nuwe idees of oplossings te ontwikkel.
In die lig hiervan is dit duidelik hoe groot die rol is wat ‘n stimulerende omgewing speel om ‘n wegspringplek vir kreatiewe ontwikkeling te skep. Kinders kan immers nie oefen om “buite die boks te dink” as hulle nie weet hoe die boks lyk nie.
- Om kreatief te speel: Jong kinders leer in die eerste plek hoe om kreatief te wees terwyl hulle speel. Kinders kan op verskeie maniere speel en elke tipe spel het ‘n kreatiewe element. Dink maar aan kinders wat bekende speletjies aanpas of nuwe speletjies uitdink – en hoe hulle tydens fantasiespel beplan watter rol elkeen gaan vertolk en die storielyn moet ontvou.
Ons word omring deur kreatiewe geleenthede. Enige aktiwiteit wat kinders aanmoedig om hul gedagtes en idees uit te druk en aanpassings te maak om ander mense se idees, behoeftes en voorkeure te akkommodeer help om kreatiwiteit te bou.
Hoe om ‘n ideale omgewing te skep.
Die volgende aanbevelings word in die literatuur gemaak:
- Bied ‘n oorvloed geleenthede vir kinders om kunssinnigheid te ontwikkel, op ‘n kreatiewe manier wetenskaplik ondersoek in te stel, en hoër-orde denke te gebruik om take en probleme aan te pak. Sulke omgewings sluit in, maar is nie beperk tot nie: boublokke, klei, herwonne materiale, meetinstrumente, items van buite, emmers, balle, en kuns- en handwerkmateriaal.
- Relevante materiaal moet maklik toeganklik wees, en kinders moet vrylik kan beweeg na speelhoekies om op grond van hul belangstellings te innoveer en te skep, met genoeg tyd om hul werk te voltooi en te bêre.
- Stel kinders se werk, projekte en eksperimente uit om idees te vier en gesprekke aan te moedig.
- Verduidelik herhaaldelik hoe bekende dinge stap vir stap gedoen word sodat kinders diè kennis kan gebruik as ‘n vertrekpunt wanneer hulle nuwe planne in nuwe situasies wil maak.
- Moedig kinders aan om te eksperimenteer en foute en mislukkings as leergeleenthede te beskou.
Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk geplaas. Om meer te lees, klik hier.







