Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Wanneer ek vir mense vertel ek bak deesdae my eie brood, is die reaksie gewoonlik, “oe, lekker!”, en hulle swymel behoorlik as ek ook noem dat ek dekadente broodpoeding daarmee maak.
Brood-bak – ek is seker Afrikaans.com se lesers sal saamstem dat daar niks so bevredigend is om iets so alledaags self te maak nie. Die geur van die gis wat sy werk begin doen, die sagte deeg wat eers oppof en dan ’n pragtige goudbruin uit die oond kom. Die resep wat ek gebruik, het ek verlede jaar op sosiale media gesien, en het dit intussen my eie gemaak.
As my gesin nie die hele brood verorber nie, maak ek graag hierdie poeding, en die geure is spesiaal vir my man. Tradisioneel word dié poeding met sultanas of korente gemaak, maar dit maak nie my gesin opgewonde nie. Ek kies eerder ’n ander klassieke geurkombinasie. Lemoen en donkersjokolade is beste maatjies, en hulle baljaar ook heerlik in dié poeding. In April begin die dae korter word en die luggie koeler, en dan is iets soos hierdie brood-en-botterpoeding die perfekte trooskos.
Resepte:
Tuisgebakte witbrood
1 ¾ k warm water (nie kokend nie)
1 pakkie kitsgis
¼ k gouestroop
2 t sout
¼ k gesmelte botter
1 eier, geklits
5 – 5 ½ k goeie gehalte witbroodmeel (ek gebruik Gideon Milling of Eureka Mills)
Metode:
- Plaas die warm water in die bak van jou staanmenger. Klits die gouestroop en dan die gis by en laat vir sowat 10 minute staan tot dit skuimerig is.
- Voeg die sout, eier en botter by en meng goed.
- Skakel jou menger aan (maak seker jy gebruik die deeghaak) en voeg nou koppie vir koppie meel by tot ’n deeg vorm. As jy daaraan raak moet dit klewerig wees, maar nie oormatig aan jou vinger vasplak nie. Knie die deeg met jou masjien vir ongeveer 7 minute tot dit mooi glad en elasties is (jy kan dit ook met die hand knie).
- Bedek die bak met kleefplastiek of ’n groot plastieksak en plaas op ’n warm plek om te rys vir ongeveer ’n uur (dit moet in volume verdubbel).
- Berei die broodpan voor terwyl die deeg rys – ek gebruik een lang pan van 10 x 30 cm, maar jy kan twee kleiner pannetjies ook gebruik. Voer die onderkant uit met bakpapier, en bespuit goed met kleefwerende kossproei.
- Haal die deeg uit die bak en plaas op ’n meelbestrooide oppervlak. Druk dit met jou handpalms versigtig plat sodat dit ’n rowwe reghoek vorm. Rol die deeg nou van die lang kant op en plaas in die voorbereide broodpan.
- Bedek die pan losweg met ’n plastieksak (spuit die binnekant met kleefwerende kossproei vir ingeval die deeg daaraan raak) en plaas weer op ’n warm plek om te rys vir ongeveer 40 minute. Voorverhit die oond tot 180 °C so 10 minute voordat jy die brood insit.
- Bak die deeg in die voorverhitte oond vir 25-30 minute – dit is gereed wanneer dit hol klink as jy daarteen klop. Keer uit en laat afkoel.
Lemoen-en-donkersjokolade broodpoeding
8 opgehoopde koppies tuisgebakte witbrood (verkieslik ’n dag of twee oud), in 2,5 cm blokkies gesny
150 g (een groot plak) goeie gehalte donkersjokolade, grofgekap
3 eiers
1 ½ k volroommelk
1 k room
40 g botter, gesmelt en afgekoel
½ k witsuiker
1 t vanieljegeursel
Die fyngerasperde skil van twee lemoene
Sowat 50 g ekstra botter, gesmelt
Om mee voor te sit: vanieljeroomys, geklopte room, vla
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Klits die eiers liggies saam in ’n groot mengbak, en klits dan die melk, room, botter, suiker, vanieljegeursel en lemoenskil by.
- Plaas die broodblokkies in die eiermengsel en meng versigtig. Laat sowat drie minute staan sodat die brood die eiermengsel kan absorbeer. Meng ¾ van die sjokolade by.
- Skep die mengsel in ’n groot bak (ten minste 2,5 liter kapasiteit) wat met botter gesmeer is. Druk die res van die sjokolade hier en daar tussen die brood in.
- Drup ongeveer 30 g gesmelte botter bo-oor en bak 30 minute tot goudbruin. Die poeding moet gestol wees, maar steeds bietjie wikkel as jy dit liggies skud.
- Drup nog ongeveer 20 g gesmelte botter oor, en sif ’n dun lagie versiersuiker bo-oor (opsioneel).
- Laat die poeding ’n paar minute staan, en sit dan dadelik voor. Vir my gesin is dit die lekkerste saam met vanieljeroomys.
Ek het die resep aangepas vanaf ’n resep op die blog Recipe Tin Eats (recipetineats.com).







