Skrywer: Nicolette Kritzinger
Mense dink babas huil baie. Wag tot jy 30 word.
Ek staan een Saterdagoggend na ’n drafsessie in Kauai en wag vir my cappuccino met ’n bietjie ekstra room (as beloning dat ek nou net drie kilometer gehardloop het en nie my Skepper langs die pad ontmoet het nie).
Ek het vanoggend vir die eerste keer hierdie jaar my oefenbroek aangetrek. Niks daaraan was mooi of gesond nie. Dit het gevoel soos ’n geveg teen elke draairoomys en stukkie knoffelbrood wat ek die afgelope Desembervakansie sonder skaamte verorber het. Dit het so ’n gestoei afgegee dat ek reeds my kalorieë vir die dag verbrand het nog voor ek my tekkies kon aantrek.
Ek haal my lelikste neonhemp uit die kas. Ek lyk altyd asof ek nou net uit ’n foam-partytjie in 2007 gestap het, maar dit trek die aandag van my bobene af, so wie gee om? My man dink ek trek soos ’n buislig aan sodat motoriste my kan raaksien op die pad. Eintlik is dit sodat hulle my lyk vinnig kan opspoor as ek nie die drie kilometer-merk haal nie.
Skielik swaai die voordeur van Kauai oop. Drie Durbanville-swane sweef in.
Dis nou die tipe boude waarvoor mans binne gemeenskap van goedere sal trou.
Dis net bobene en borste waar jy kyk. Ek neem hulle nie kwalik nie. As ek so ’n lyf gehad het, het ek ook elke dag so min klere gedra. Elkeen van hulle is van kop tot tone uitgevat in branded oefenklere. Nee, my begroting laat ongelukkig nie toe dat ek in enigiets bo ’n R100 sweet nie. O, en ek ken daardie lippe. Jy koop dit by dr. Marie Verster se praktyk drie strate op.
“Matcha latté with protein powder, please,” sit een van hulle haar bestelling in.
Ag nee, die lewe is te kort om gras te drink, dink ek.
Dit lyk asof hulle so moeiteloos deur die lewe fladder. Ek wonder of hulle ook vanoggend gesukkel het om in hul oefenbroeke te kom. Seker nie.
Ek sien hoe sy vlugtig na my hemp kyk en dan skielik na haar foon.
My koffie is gereed. “That’s a very nice top. It really suits you,” sê die vrou toe sy my koffie oplui.
Ek staar in ongeloof na haar vir ’n volle tien sekondes. Ek staan reg langs Mej. Suid-Afrika en hierdie engel kies om iets mooi oor die lelikste hemp in die noordelike voorstede te sê.
Die damwal breek. Ek begin huil. Hartstogtelik. Oor alles. Oor die goedheid van ’n vreemdeling, oor my hamster wat in graad drie dood is, oor die wyn wat ek nou die aand op my gunstelinghemp gemors het, maar meestal oor die feit dat my bobene nooit in daardie swaan se tights gaan pas nie.
’n Stilte daal oor die hele Kauai. Het hulle nog nooit ’n huilende highlighter gesien nie?
Hulle dink seker ek is swanger. Almal dink jy is swanger as jy ouer as 30 is en in die publiek huil, maar hulle is verkeerd.
Ek is net moeg.
Ek het eers onlangs 32 geword en ek kan met alle eerlikheid sê dat ek in die afgelope drie dekades nog nooit soveel druk ervaar het as in die afgelope twee jaar nie: om in ’n nommer 32-broek te pas, te trou, ’n baba te borsvoed, ’n maraton te draf, of om proteïenpoeier oor al my disse te gooi nie.
Dit voel of elke tweede persoon die geheim van die lewe ontdek het en dit dadelik vir die hele wêreld wil vertel. Die belaglikhede wat ek die afgelope tyd op sosiale media moes aanskou, is afgryslik.

“’n Gesonde driebestanddeel-brownie gemaak met slegs piesang, kakao en eier.”
Dit verhoog blykbaar jou kanse om tot 80 te leef met 25%. Die enigste nadeel is dat dit terselfdertyd ook jou wil om te lewe met sowat 100% verlaag.
“As jy draf moet jy steeds ’n gesprek kan voer sonder om uitasem te raak. Dis hoe jy weet jy oefen optimaal.”
Ek kan nie eers ’n volhoubare gesprek voer as ek badkamer toe en terug stap nie.
“Jou baba mag slegs uit bottels drink wat van organiese materiaal gemaak is.”
Daardie selfde kind het so pas mond-tot-mond-asemhaling op jou Golden Retriever toegepas.
“Vyf disse wat die vet om jou middel binne ’n week sal laat wegsmelt.”
Luister, ek het hierdie midrif al van graad 9 af. Drie provitas gaan my nie nou skielik in Rolene Strauss verander nie.
“Drie vakansiebestemmings wat jy vanjaar eenvoudig móét besoek: die Maldives, Venesië en Rome.”
Ek kan nie eers ’n staanplek by die ATKV-strandoord in Hartenbos bekostig nie; nou wil jy hê ek moet ’n tannie betaal om my op ’n gondola deur die kanale van Venesië te roei.
Die realiteit is dat die meeste van ons nie hierdie lewens leef nie. Die meeste van ons gaan nie binnekort die kans staan om die wet T-shirt-kompetisie by Klub Mykonos te wen nie. Die meeste van ons se kinders eet grond en dra hand-me-downs waarin hul sussie drie jaar terug ook gekwyl het. Die meeste van ons het nog die voorkoppe waarmee ons gebore is. Die meeste van ons eet by die Wimpy en hou vakansie by substandaardplekke bloot omdat kinders onder twaalf gratis kan bly.
Wens jy nie ook soms jy kan die geraas afsit nie?
Ek wil. Ek wens soms ek kan met my neonhemp winkel toe gaan sonder dat een of ander glansgans my bekyk. Ek wens ek kan ’n vieslike lekker brownie eet sonder om te wonder hoeveel suiker dit bevat en of dit voldoen aan my daaglikse veselinname. Ek wens ek kon my baaibroek aantrek en met my maaskaasbene in die vlak branders gaan baljaar sonder om twee keer daaroor te dink.
Maar iewers in hierdie afgelope 32 jaar het iemand my laat glo dat dit nie ’n moontlikheid is nie.
Mag jy in hierdie jaar wat nog voorlê soms net jou foon op jou bedkassie los, ’n brownie eet en daardie neonhemp dra wat jou soos ’n lopende buislig laat lyk. Trek aan jou swembroek, wys daardie bene en geniet daardie stuk knoffelbrood.
Die lewe is eenvoudig net te kort om dit nie te doen nie.







