Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Is jy lief vir Afrikaanse musiek, én hou jy daarvan om jouself deur kuns uit te druk?
Dan is die tweede Skilder met Woorde-kompetisie net vir jou!
Afrikaans.com se eerste Skilder met Woorde-kompetisie wat in 2021 plaasgevind het, was uiters suksesvol. Die kunstenaar Elsie Jooste en bekende musikant Anton Goosen het tydens dié kompetisie skoolleerders aangemoedig om een van Anton se liedjies te skilder.
“Na baie navrae van ouers en leerders wat ingeskryf het met ons vorige kompetisie, het ek besluit om die projek weer hierdie jaar te loods,” vertel Elsie. “Die inskrywings van ons eerste kompetisie het ons oorweldig. Ek is ’n groot voorstander van kuns in skole, en daarom is dit belangrik om so ’n kompetisie aan leerders voor te stel. Dit gee ook die geleentheid aan leerders wat tuis onderrig word, om hulle kreatiewe talente uit te leef.”
Leerders kan vanjaar uit 15 liedjies kies om hulle te inspireer.
“Die liedjies wat ek sorgvuldig gekies het, sing ’n prentjie. Wanneer leerders na die liedjies luister, kan hulle ’n beeld vorm wat vir hulle uitstaan. Die liedjies wat ek gekies het, is van toeka tot nou; liedjies wat leerders nou luister, en liedjies wat klassiek is in die Afrikaanse musiekwêreld.”
Elsie en die bekende sanger en kunstenaar Jan Blohm gaan die inskrywings beoordeel.“
“Met die beoordeling van die kunswerke, gaan ons kyk na die uitbeelding, emosie, komposisie en tegniek van elke kunswerk. Leerders kan in enige medium werk,” sê sy.
Elsie vertel ook dat vanjaar se kompetisie sommer sy eie stel wiele ook gekry het. “Ek het ’n kombi gekoop by ’n skool wat fondse nodig gehad het vir hulle naskool. Die kombi was reeds geverf en het baie leerders rondgery. Die kombi gaan nou toer na skole vir bewusmaking en bemarking, en leerders gaan die kans kry om veranderinge aan die kombi aan te bring. Mense kan ook die kombi se rondrits op sosiale media volg.”
Hoe werk die kompetisie?
Met die Afrikaans.com- Skilder met Woorde-kompetisie daag ons laerskool- en hoërskoolleerders uit om een van die volgende 15 bekende Afrikaanse liedjies te skilder:
- Lappop (Carike Keuzenkamp)
- Kinders van die Wind (Laurika Rauch)
- Tik Tok (Anton Goosen)
- Inge 2 (Piesangskille)
- Afrikaners is plesierig (Karen Zoid)
- Ou Ryperd (Dozi)
- Vier seisoene (Gian Groen)
- Skepe (Jo Black)
- Sonvanger (Valiant Swart)
- Namibsroos (Theuns Jordaan)
- Groen Trui (Jan Blohm)
- Verander (Spoegwolf)
- Dagdrome in Suburbia (Francois van Coke)
- Draadloosdae (Adam Tas)
- Royal Hotel (David Kramer)
Klik hier om die lirieke van die liedjies af te laai.
Stuur ’n hoëresolusie-foto van jou kunswerk aan Afrikaans.com by myafrikaans.com@gmail.com met jou naam, van, graad, die naam van jou skool, asook die naam van die liedjie waarop die kunswerk gebaseer is, daarby.
Inskrywings open 25 Maart 2026 en sluit op 30 Julie 2026. Let wel, die sperdatum is verleng om voorsiening te maak vir leerders om gedurende die vakansietyd te skilder. Wenners sal teen die tweede week van September aangekondig word.
Vir die volledige kompetisiereëls en bepalings en voorwaardes, klik hier.
Wat kan jy wen?
Deelnemers kan uitsien na kontantpryse ter waarde van R28 000.
Die volgende individuele pryse is op die spel:
LAERSKOOL:
Eerste prys: R3 000 (Die skool waarin die betrokke leerder is, sal ook wegstap met R8 000.)
Tweede prys: R2 000
Derde prys: R1 000
HOËRSKOOL:
Eerste prys: R3 000 (Die skool waarin die betrokke leerder is, sal ook wegstap met R8 000.)
Tweede prys: R2 000
Derde prys: R1 000
*Tuisskoolleerders is ook welkom om in te skryf.
Klik hier om die vorige wenners te sien.







