Skrywer: Karla Janse van Vuuren
“My grootste droom deesdae wanneer dit by my werk kom, is om mense te laat lag.”
“Al die gewroeg van my vroeë 20’s is verby, en ek wil graag stories vertel waarmee mense hulle kan vereenselwig.” Só vertel die gewilde aktrise Christel van den Bergh aan Afrikaans.com tydens ’n telefoniese onderhoud. Dit het ’n week geneem om haar vas te pen vir ’n geselsie, want dié ma van twee klein seuntjies, is buiten ’n aktrise, skrywer, vervaardiger, en regisseur, ook ’n boervrou. Sy en haar man, die akteur David Louw, boer met beeste op ’n plaas tussen Warden en Harrismith in die Vrystaat. “Ons pendel baie, en ek bly maar so tussen vriende en familie as ek in Johannesburg moet wees vir verfilming,” vertel sy. Christel is sedert Augustus 2025 te sien as die formidabele matriarg van die sportiewe Viljoen-gesin in kykNET se telenovela Diepe Waters. Sy speel die voormalige Olimpiese hekkiesatleet Leandri Viljoen teenoor Izak Davel as haar vervreemde (en gewelddadige) man Schalk.
Liefhebbers van die kleinkassie het Christel vir die eerste keer in 2004 leer ken in Plek van die Vleisvreters. Sy was vir 13 jaar ’n vryskutaktrise voordat sy in 2016 die rol van Renate Greeff in Getroud met Rugby losgeslaan het. “Ek dink nie ek sal ooit weer só ’n ervaring hê nie. Om van die begin van die sepie daar te gewees het, was baie spesiaal, en dit was ’n heerlike groep mense om mee saam te werk. Die karakter het my ook as aktrise baie uitgedaag, en het beslis van my ’n beter aktrise gemaak.”
“Om vir meer as vyf jaar elke dag uitgedaag te word, en om te kon doen waarvoor ek lief is – daarvoor is ek baie dankbaar.”
Sy beskryf ook haar rol as Renate as een van die emosioneel uitdagendse rolle wat sy tot dusver moes vertolk. “Sy is deur soveel dinge waarmee baie vroue regtig worstel. Onvrugbaarheid, verhoudingsprobleme, egskeiding – haar en Simon se lewe was baie kompleks en dramaties, maar darem was daar ’n paar komiese oomblikke om dinge so ’n bietjie ligter te maak.” Die rol van Simon is vertolk deur haar man David Louw, met wie sy sedert 2020 in ’n verhouding is. Hulle was 12 jaar lank vriende voordat hulle verlief geraak het, en vandag is hulle die trotse ouers van Daniel (4) en Laudo (3). Hulle dae van saamwerk as akteurs is egter ook nie verby nie, want hulle toer al vier jaar lank die land plat met hulle teaterstuk Trou is nie perdekoop nie.

Sy is ook baie lief daarvoor om agter die skerms te woeker, en sy en David werk gereeld saam aan die skep en vervaardiging van advertensies. “Hy is baie goed om met oulike idees vorendag te kom, waarop ek dan kan voortbou om die advertensie te skryf. Dit is my passie om betrokke te wees by ’n projek van die idee tot die uitvoering daarvan. Ek dink nie ek sou ooit die regie kon doen vir iets wat ek nie self geskryf het nie – wanneer jy skryf, sien jy klaar die eindproduk in jou kop, en dit maak die regie makliker.” Dit is juis hoekom sy beide die skryfwerk en die regie van haar 2022-film, Aangetroud, behartig het. “Ek is mal daaroor om stories te vertel. Regte stories, dinge wat persoonlik met my gebeur het, en stories wat jou laat dink, ‘dit kan nie waar wees nie!’.”
“Ek sal ook graag in die toekoms meer betrokke wil raak by dokumentêre films.”
Christel beskryf haarself as “altyd optimisties”, al het die vermaaklikheidsbedryf die afgelope paar jaar baie verander en selfs meer uitdagend geword. “Almal gons nou oor Showmax wat beëindig is, en ja, dit is ’n donker tyd. Maar ek is positief, ek voel dinge gaan draai. ’n Mens moet aanpas by die tye. Sosiale media het ’n groot impak gehad op ons bedryf, en almal met ’n foon kan deesdae mense vermaak. Maar, daar is steeds ’n verskil tussen ’n ‘influencer’ en ’n akteur. Ek voel mense gaan altyd op soek wees na vermaak, op soek na ’n manier om van die realiteit te ontsnap. Ons moet slim wees, en ons navorsing doen sodat ons kan doen waarvoor ons lief is.”
Sy voel dat deursettingsvermoë ’n moet is as jy in die vermaaklikheidswêreld wil oorleef. “’n Mens moet hare op jou tande hê om al die ‘nee’s’ te kan hanteer. Ek is nou al 23 jaar in die bedryf, en ek is gewoond daaraan. Wat my motiveer, is om terug te kyk oor my loopbaan, om te sien hoe my drome waar geword het. Dit is ook ’n groot motivering om self te skep, en om nie afhanklik van iets of iemand te wees nie.”
“Ek herinner myself gereeld daaraan dat ek baie bevoorreg is om te kan doen wat my gelukkig maak.”
Iets wat haar voete ook op die grond hou, is om lang afstande te gaan draf. Ernstige lang afstande: “Ek het in 2018 die Comrades gehardloop, en beplan om dit vanjaar weer te doen. Dis nou as ek my oefenplan agtermekaar kan kry – my besige skedule maak dit bietjie moeilik om by alles uit te kom,” lag sy.
Sy het ook waardevolle raad vir die volgende generasie Suid-Afrikaanse akteurs: “In ons land is daar baie geleenthede vir entrepreneurs. Daar is soveel opsies – ons hoef nie net vir een kanaal te mik nie, byvoorbeeld. Om jou werk op Netflix of Disney+ te sien, is totaal binne ons bereik, en dit is baie opwindend. My raad is: ‘go for it!’ Moenie dat enigiemand jou in jou drome briek nie. As daar passie in jou hart is, weet dat die Here dit daar gesit het vir ’n rede. Werk verskriklik hard, hê respek vir die bedryf, gaan swot of loop klas om jou vaardighede te versterk, en moenie dat mense in jou pad staan nie. My grootste wenk is om nie dinge persoonlik op te neem nie. Dit het my baie lank geneem om dit te leer, maar weet net, niks is eintlik persoonlik nie.
In alles wat jy doen, hou in gedagte dat aanhouers wen!”








