Skrywer: Karla Janse van Vuuren
As ouers doen ons alles moontlik om ons kinders veilig te hou. Ons leer hulle om versigtig te wees wanneer hulle die pad moet oorsteek, om op hulle hoede te wees rondom vreemdelinge en nooit iewers heen te gaan sonder om vir ons te sê waar hulle is nie. Afrikaans.com het uitgevind dat min van ons dink daaraan om hulle te leer wat om te doen wanneer iemand seerkry of wanneer daar ’n noodgeval ontstaan. Tog kan selfs eenvoudige noodhulpvaardighede ’n kind bemagtig om kalm te bly, hulp te ontbied en moontlik ’n lewe te red.
Om ons kinders oor noodhulp te leer, gaan nie net oor veiligheid nie — dit gaan ook oor die selfvertroue om op te tree wanneer dit regtig saak maak.
Bianca Theron, nasionale koördineerder van Missing Children South Africa, meen dat ’n mens jou kind van so klein as moontlik moet begin leer van noodhulp. “Die geheim is om dit op só ’n manier te doen, dat jy hulle nie onnodig bang maak nie. Gebruik stories en interaktiewe leermateriaal (vir ouer kinders) om hulle voor te berei vir noodsituasies.” Kaptein Jerbes de Bruyn van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, stem saam dat kinders baie kwesbaar is en dit is belangrik dat hulle weet hoe om op te tree in ’n noodsituasie.
“My raad is om rondom die ouderdom van vier of vyf te begin om hulle te leer wat om te doen as hulle hulself in ’n noodgeval bevind.”
Jonathan Hoffenberg van The Parent Centre, ’n organisasie wat hulself beywer om ouers te bemagtig deur positiewe ouerskaptegnieke, sê elke kind van die ouderdom van vyf en op moet die basiese ken: “Waar is die pleisters? Waar is die ontsmetmiddel? Wat doen ek as iemand bloei? Hoe ontbied ek hulp? Hierdie is nie gevorderde noodhulp nie, net huishoudelike geletterdheid, so basies soos om te weet waar die kombuis is. Wanneer ’n kind so 10 of 11 jaar oud is, kan ’n mens eenvoudige konsepte van kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin verduidelik en ’n kind van 14 of 15 kan gerus gestuur word vir ’n behoorlike noodhulpkursus.”
Hy sê verder ’n mens moet jou kind se ouderdom én temperament in ag neem wanneer jy hulle leer oor noodsituasies. “Elke kind is anders; een kind sal dalk vries, ’n ander een sal wil vlug en nog een sal weer alles onmiddellik wil regmaak.” Hy sê ook dit is ’n goeie idee om inligting bietjies-bietjies te gee soos jou kind se wêreld groter raak. “Voorskool is dit meestal jou huis en tuin, laerskool sluit jy die straat, skool en ander mense se huise in. Jong tieners moet weet wat om te doen in die wyer wêreld, insluitende winkelsentrums en openbare vervoer.”

Dit is eerstens belangrik dat kinders weet hoe om hulp te ontbied.
“Maak seker hulle ken die polisie se noodnommer (10111), en nommers vir die brandweer en ’n ambulansdiens.”
“Hierdie nommers moet prominent in die huis sigbaar wees – op die yskas is ’n goeie plek,” is Jerbes se raad. Bianca beaam: “Leer hulle die nommers met die hulp van ’n rympie of aksies, en herhaling is belangrik om dit in te skerp. Maak ook seker dat hulle mamma en pappa se selfoonnommers uit hulle kop ken, en dat hulle byvoorbeeld weet waar die epi-penne gebêre word as daar iemand in die huis is met ernstige allergieë.”
Jonathan voeg by dat hulle ook moet weet watter bure veilig is om na te hardloop as iets tuis skeef loop. “Ken jou bure, en praat openlik oor wat sal gebeur in ’n noodgeval. Kinders moet weet dat hierdie bure reg sal wees om te help, en hulle moet ook darem die mense se naam en moontlik kontaknommers ken. Leer ook jou kinders dat hulle nie alleen is nie, al voel dit so. Iemand probeer altyd help – volwassenes in ’n posisie van outoriteit (veiligheidswagte, paramedici, die polisie) is gewoonlik daar om te help en kinders moet sulke mense kan identifiseer en benader as iets verkeerd gaan.”
Jerbes beklemtoon dat dit belangrik is vir ons almal, insluitende kinders, om basiese noodhulptegnieke te leer. “Jy kan ’n kind al van kleins af leer wat om te doen as iemand hulleself dalk brand of sny. En dat die volgende stap na die basiese hulp is om iemand te kontak, en dan natuurlik ook wie om te kontak en hoe.”
“Wys jou kind hoe om jou selfoon te gebruik en stel jou foon so op dat hulle net een nommer hoef te druk om hulp te ontbied.”
Natuurlik is dit belangrik vir almal om so kalm as moontlik te bly in ’n noodsituasie.
“As volwassenes kalm bly in ’n krisis, sal kinders ook kalm wees. Kinders kyk na volwassenes en sal dadelik paniek aanvoel,” sê Jerbes.
“Wat ook al vir jou werk in oomblikke van stres en krisis – deel en oefen dit met jou kinders. Dit kan asemhalingstegnieke, koue water op die gesig, tel agteruit van tien na een, of ’n spesifieke frase of liedjie wees. Oefen dit wanneer dinge kalm is, sodat dit beskikbaar is om op terug te val wanneer daar ’n krisis is,” is Jonathan se raad.
Hy sluit af deur te sê dat die proses dieper gaan as net praktiese vaardighede. “As jy jou kind leer hoe om te reageer in ’n noodgeval, gee jy hulle die kans om ’n waardevolle lewensles te leer – ’n begrip van stres en hoe hulle daarop reageer. Veg hulle? Vlug hulle? Leer jou kind dat hierdie reaksies normaal is, en eintlik baie slim, want jou liggaam wil jou veilig hou!”