Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Kinders floreer emosioneel binne ’n veilige omgewing waar hulle weet hulle word onvoorwaardelik aanvaar en liefgehê en kan daarom net hulleself wees.
Hulle huis, mamma en pappa en dikwels versorgers is hulle veilige plek, maar binne spesifieke grense. Op dié manier, weet hulle te alle tye wat van hulle verwag word en wanneer hulle gedrag, maar ook die gedrag van ander, aanvaarbaar of onaanvaarbaar is.
Ouers wat hulle sout werd is, gaan uit hulle pad om hulle kinders veilig te laat voel en veilig te hou en weet ook dat dit nie hulle kinders se verantwoordelikheid is om hul eie veiligheid te verseker nie. Daarom moet elke ouer deur hulle optrede vertroue inboesem by hulle kinders sodat hulle weet dat hulle enigiets met hulle ouers kan deel en dat hulle kan staatmaak op die nodige ondersteuning.
Op 19 Februarie 2026 in die RSG-program, Groeipyne, het Anthea Fredericks met geregistreerde berader Lana Theron gesels oor lyfieveiligheid. Lana is tans besig met haar doktorale tesis hieroor en het praktiese raad gegee oor hoe om dit te hanteer, wat dit is en nie is nie en hoe om ons kinders te beveilig.
Afrikaans.com deel graag enkele hoogtepunte uit hierdie belangrike gesprek.
Wat is lyfieveiligheid?
Lyfieveiligheid gaan oor kinders se emosionele en fisiese veiligheid, maar is nie seksuele opvoeding op sigself nie. Dit verwys na die beskerming van die liggaam deur persoonlike grense te stel en om selfrespek te hê. Kinders moet geleer word dat hulle liggame hulle eie is en daarom veilig gehou moet word. Dit is dan ook hoekom hulle die verskil tussen veilige en noodsaaklike aanraking en ongevraagde (onveilige) aanraking moet ken.
Gereelde gesprekke moet plaasvind
Ongelukkig is dit nie net vreemdelinge wat ons kinders se veiligheid bedreig nie, maar meer dikwels iemand wat hulle ken. Daarom moet ons verhouding met ons kinders oop wees en moet kommunikasie aangemoedig word. Kinders moet die vrymoedigheid hê om enigiets met hulle ouers te deel.
Gereelde gesprekke met ons jong kinders op ’n kalm en rustige manier, is noodsaaklik. Rolspel kan gebruik word indien nodig.
Die heel belangrikste is dat ons aan ons kinders in eenvoudige, ouderdomsgepaste taal verduidelik wat lyfieveiligheid is en dat ons hul vrae sal beantwoord.
Ons kinders moet ingelig word, maar ons wil hulle nie bang of angstig maak nie. Hou in gedagte: Dit is ’n veiligheidsgesprek en nie seksuele opvoedingsgesprek nie. En as jy dalk ongemaklik of skaam voel om oor die kwessies te praat, is dit oukei om ’n kundige te raadpleeg om jou hiermee te help.

Bemagtig jou kind
- Verduidelik aan jou kind wat die basiese beginsels van lyfieveiligheid beteken.
- Maak seker jou kind weet dat elkeen van ons deur ’n onsigbare skild of borrel omring word en dat die spasie slegs met sy toestemming betree mag word.
- Verseker jou kind dat hy mag “nee” sê – ook vir grootmense of familie – wanneer hy ongemaklik of onveilig voel en dat jy hom te alle tye sal ondersteun in sy besluit.
- Leer jou kind deur rolspel hoe om “nee” te sê vir ’n grootmens, veral omdat hulle geleer word om ouer mense te respekteer en te gehoorsaam.
- Verduidelik wat is wedersydse respek.
- Leer jou kind die regte benamings vir die verskillende liggaamsdele, asook die funksie van elkeen.
- Jou kind moet kan onderskei tussen veilige en onveilige situasies.
- As iets nie reg voel nie of die persoon sê dis hulle geheim en hy mag dit nie met ander deel nie, is dit ’n rooi lig.
- Jou kind moet die verskil tussen noodsaaklike en nienoodsaaklike aanraking verstaan. Byvoorbeeld:
- Hoewel hy ongemaklik en dalk bang gaan voel by die dokter wat hom ondersoek, is dit noodsaaklik vir sy gesondheid. Of as hy nog klein is, en gehelp moet word om te bad of met toilethigiëne, is aanraking wel nodig.
- As iemand egter sommer net vra dat hy sy privaatdele vir hulle moet wys, of onvanpas moet optree, is dit beslis nie aanvaarbaar nie.
- Laat jou kind ten minste vyf mense identifiseer wat hy vertrou en waar hy weet hy kan hulp kry of met wie hy kan praat as hy onveilig voel.
- Gee jou kind die nodige woordeskat sodat hy sy gevoelens kan verwoord.
- Verduidelik aan familie en vriende hoe julle lyfieveiligheid in julle huis hanteer.
- Nie alle kinders is gemaklik met soengroet, drukkies, skootsit en kielie nie en sal dan hierop reageer op maniere wat nie noodwendig “aanvaarbaar” vir die ander party is nie, maar juis daarom moet jy as volwassene namens jou kind optree en hom ondersteun in sy keuses.
Tekens wat jy nie mag ignoreer nie
Enige ongewone of emosionele gedrag wat jou kind openbaar, moet ondersoek word. Daar is baie hulpbronne op die internet en boeke wat ons kan lees oor hierdie onderwerp, maar jy ken jou kind en weet wanneer die rooi ligte begin flikker.
Tree dadelik op – selfs al is dit op die ou end niks om oor bekommerd te wees nie en was daar ander redes vir jou kind se optrede.
Dit bly jou verantwoordelikheid om ongewone en/of emosionele gedrag te ondersoek sodat jy jou kind kan help. Wat dikwels vir volwassenes ’n klein dingetjie is, is nie noodwendig iets klein vir jou kind nie. Hulle redeneer nog soos ’n kind en het jou leiding en versekering nodig om uiteindelik met selfvertroue te reageer.
Wees bedag as jou kind:
- weier om in sekere mense se teenwoordigheid te wees en selfs aggressie toon;
- skielik weier om na sekere plekke toe te gaan of sekere mense te besoek;
- tekens toon van angstigheid, depressie, onttrekking, of aandag soek deur ongewone optrede;
- skielik weer begin duim suig, bed natmaak, kla van maagpyn, of huilerig is.
Kortom, jou gelukkige kind is skielik nie meer die sorgvrye kind waaraan jy gewoond was nie. Dit is jou taak om agter die kap van die byl te kom en dienooreenkomstig op te tree.
Niks is belangriker as die veiligheid van jou kind nie.
Luister hier na die volledige gesprek oor lyfieveiligheid op RSG se Groeipyne







