Persverklaring
Foto: Ansurette Pretorius
Na die sukses van haar somervrystelling, “Rustyd & Herhaal”, is Luna Paige se nuutste enkelsnit, “Die Oral” (The Everywhere), ’n roerende lofsang vir menslike konneksie en is dit ’n voorloper tot haar jongste album, #DieReisigers.
’n Globale inspirasie
Die inspirasie vir “Die Oral” het vorm aangeneem op ’n stoep in Porto, Portugal, tydens haar reise in 2024. Terwyl Paige die universele taal van liefkosing vanaf ‘n afstand dopgehou het -families wat op die kaai skater tot tieners wat op hawemure flankeer – is sy getref deur die inherente menslike behoefte aan veiligheid en gebondenheid.
“Om ’n vreemdeling in ’n vreemde land te wees, herinner jou net weer aan hoe eenders ons almal is en hoe afhanklik ons van mekaar is,” sê Paige. “Ons verloor so maklik dit wat ons as mense bind uit die oog. Ek het die frase ‘everywhere people loving people everywhere’ neergepen, en met my terugkeer na Suid-Afrika het ‘Die Oral’ lewe gekry.”
Die produksie
Om hierdie visie na die luggolwe te bring, het Paige weer kragte saamgesnoer met die vervaardiger en musikant André Scheepers. Die duo het die oorspronklike 2025-vertoningsweergawe verfyn deur met vokale melodieë en instrumentele oorwurms te eksperimenteer. Die snit spog met die kenmerkende kitaarwerk van Henry Steel wat die lied se klank help vorm het, met Paige wat ’n stemstyl effens buite haar tradisionele gemaksone, verken het.
Die #DieReisigers-toer & KKNK 30
Toerbesonderhede is op Luna se webwerf beskikbaar. Luna Paige se eerste toer van die jaar kom tot ‘n einde by die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) in Oudtshoorn. Paige sal op 1, 2 en 3 April 2026 by Die Windpomp optree. Hierdie jaar vier die KKNK sy 30ste bestaansjaar -’n mylpaal wat Paige beskryf as “’n groot voorreg om in te deel”. Kort voor die fees sal sy haar derde enkelsnit, “Die Lyf” bekendstel. Die volledige albumbekendstelling vind in September 2026 plaas.
Vir ’n volledige toerskedule en om te bespreek, kyk hier: www.lunapaige.com
Kyk die video van “Die Oral” hier:
MEDIAKONTAK
Liny Kruger
E-pos: liny@lkmediabook.co.za
Selfoon: +27 (0)82 464 1926







