Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Foto: Unleashed Photography
“Moet nooit ‘’n gesonde kind as ‘n gegewe aanvaar nie.”
“As jy vanaand ’n gesonde kind in die bed sit, gaan op jou knieë en wees dankbaar,” sê Tayla Venter (28) aan Afrikaans.com. Haar en haar verloofde Addie Jacobs se dogtertjie Ava is op 30 Januarie 2025 op 15 maande aan ’n ernstige harttoestand oorlede.
“Regdeur my swangerskap en selfs met haar geboorte was daar geen rooi vlaggies nie. Ek en almal om my het geglo dat sy gesond is. Dit is eers na sy gebore is wat ek agtergekom het sy sukkel om te borsvoed en dat sy baie swak is.”
Tayla het vir Ava op vyf weke na ’n pediater in Fourways geneem. “Hy het iets gehoor toe hy na haar hart geluister het, maar hy was nie bekommerd nie. Ek as mamma het egter geweet iets is verkeerd. ’n Week later tydens haar ses weke ondersoek by die pediater wat by was met haar geboorte, kon ek sien hoe die dokter se gesig verander terwyl sy na Ava se hart geluister het.”
’n Bors-x-straal het toe gewys dat Ava se hartjie aan die regterkant van haar borskas sit. Die are om haar hart was ook verkeerd, en sy het basies geen hartkamers gehad nie.
“Haar longe het teen daardie tyd reeds skade gehad omdat hulle so hard moes werk. Sy het ook asemhalingsprobleme gehad en was baie swak.”
Ava het die volgende dag haar eerste operasie op ses weke ondergaan. “Die operasie het goed gegaan, en sy kon aansterk by die huis. Op ses maande het sy weer ’n hartoperasie ondergaan wat aanvanklik goed verloop het, maar kort daarna het haar probleme vererger. Sy was toe vir vier maande aaneen in die hospitaal. Ons bly in Koster in Noordwes, so dit was vir ons ’n groot uitdaging omdat ons tussen ons huis en ’n hotel moes bly. Ons moes ook probeer werk en natuurlik na Ava se ouer sussie Tilana (toe 4) omsien.”
Ava is tydens haar laaste hartoperasie oorlede.
“Die operasie moes gedoen word en sou een van twee uitkomste gehad het, lewe of dood. Dit het probeer bou op die operasie wat sy op ses maande gehad het, maar ongelukkig was sy reeds in hartversaking.”

Baba Ava was ’n totaal van agt maande van haar lewe van net 15 maande in die hospitaal.
“Toe ons op ses weke hoor wat alles fout is met haar, was ek en Addie totaal onkant gevang. Ek het dadelik op die internet en sosiale media gaan soek na inligting en ook ander ouers wat deur dieselfde is. Ek kon maar min kry, en het toe besluit om my platform op sosiale media te gebruik om bewuswording te skep.” Tayla het haar gesin se ervaring op haar Facebook-blad gedeel, en haar 89 000 volgelinge het saam met haar die pad gestap en bly bid vir Ava se gesondheid.
“Al is Ava nie meer hier nie, kry ek steeds boodskappe van mense wat dieselfde moeilike pad stap met siek kinders. Ek gebruik my blad om ’n stem te wees en vir mense hoop te gee, en om ’n inspirasie te wees.” Tayla het verlede jaar Bok Radio se Blêrbokkie van die Jaar en ook ’n Netwerk24 Smaakmaker-toekenning ontvang vir haar blad.
“Dit is steeds vir my ongelooflik dat soveel mense my begin volg het as gevolg van Ava. Ek is dankbaar dat ek my doel kon bereik het met my platform, om harte te raak en ander te inspireer. Ek wil ook mense nader aan God bring en hulle aanmoedig om nie hulle geloof te laat gaan nie.”
Dit is ook haar raad aan ander ouers van siek kinders, of ouers wat kinders verloor het. “Moenie dat dit jou verhouding met God knak nie. Sit jou seer eerder voor sy voete neer, vra sy hulp en leiding. Jy sal die krag kry om deur die dae te kom. Ek weet God het my gedra deur die moeilike dae, en selfs met Ava se afsterwe. As ek my geloof verloor het en kwaad was vir God, was ek vandag beslis nie wie ek nou is nie. Ek is sterker en as ek terugkyk, kan ek sy handewerk sien. Ek is ook dankbaar vir die mense om my wat my ondersteun en gedra het.”
Dankbaarheid is ’n groot les wat sy geleer het uit Ava se lewe. “Ek is tans swanger met my derde baba, ’n seuntjie, wat ons in Junie 2026 verwag. Ons het ’n baie volledige anatomie-skandering laat doen om seker te maak hy is 100% gesond. Toe ons die nuus kry dat alles perfek is, was ek net opnuut dankbaar, want ek weet nou, ’n gesonde kind is nie noodwendig ’n gegewe nie.”

’n Sielkundige gee raad
Dr. Carin Bester, ’n kliniese sielkundige en direkteur van die Wellness Collective multidissiplinêre praktyk in Stellenbosch, beklemtoon dat om te praat oor om ’n kind te verloor ’n vreeslike sensitiewe onderwerp is. “Ons almal wat kinders het, voel dat g’n mens kan dit oorleef as jou kind iets oorkom nie. Iets daarvan is só waar, want iets van jou gaan wel dood saam met jou kind wat sterf – iets van jou oorleef nié. Dan begin die rouproses daarna.”
Almal reageer verskillend, en almal rou op hulle eie manier, sê sy.
“Party mense vra oor ’n tydsraamwerk, hoe lank neem die proses. Vir party mense maak tyd die pyn minder, vir ander maak tyd dit weer erger. Alles hang af van wie die persoon is voor die trauma, en wat hy/sy doen met die trauma.”
Bester sê ook mense sal sê “jy moet ‘n sielkundige gaan sien, want jy moet die kind se dood verwerk”. “Maar, mens kan dit nie verwerk nie. Jy moet probeer om daarmee sinvol om te gaan. Dit gaan vir altyd daar wees. Dit beteken nie jy gaan nooit weer jou lag vind nie, maar jy gaan daarna moet gaan soek. Dit gaan nie net vanself kom nie, jy gaan die lewe weer moet terugnooi, terwyl jy weet dat jy nooit weer dieselfde gaan wees nie.”
Verhoudings verbrokkel ook dikwels wanneer ’n kindjie oorlede is, sê sy. “Ons rouprosesse is so verskillend. Party mense wil amper dadelik weer terug wees by die werk, want dit gaan hulle help staande bly. Ander wil weer vir twee weke in die bed bly lê. As dit in dieselfde huis gebeur, kan daar verwyte inkom.
“Elkeen van die pasiënte wat ek sien se proses is so uniek, maar ongelooflik aangrypend. Dit is aangrypend om te sien wat mense met pyn kan doen. Die diepte van verstaan, die wysheid, die meegevoel met ander wat saam met die pyn kom. Die groot proses is die herdefiniëring van jouself.”
Bester sê ook daar kan ’n ambivalensie wees aan die proses. “Iemand kan dalk skuldig voel as hulle weer begin geluk ervaar, soos om lekker te speel saam met hulle ander kinders, en dalk vir ’n oomblik vergeet van die kindjie wat oorlede is. Weet dat jy steeds in rou kan wees, terwyl jy lekker tye het saam met die ander mense in jou lewe.”







