Skrywer: Anita van Niekerk
Dit begin gewoonlik klein. Sy skoolbroek wat skielik “gekrimp” het. ’n Foto waar haar wange voller lyk as wat jy onthou. Of ouma wat voor almal uitblaker: Haai, kyk die kind se babavet!”
Tog weet jy hierdie is meer as net ’n groeifase. Jou kind sukkel met gewig en jy het geen idee wat om te doen of te sê nie.
Jou natuurlike reaksie? Paniek. Kritiek. En dan ’n kombinasie van Google, skuldgevoel en ’n gevaarlike plan, soos: “Van Maandag af eet ons net blare en ryskoekies.”
Maar hokaai! Voor jy die koekblik konfiskeer of ’n kosoorlog ontketen, haal asem. Want hierdie is nie net ’n gesondheidskwessie nie.
Dit beïnvloed selfbeeld, identiteit en die kwesbare manier waarop jou kind hul plek in die wêreld verstaan en beoordeel.
’n Probleem wat jonk begin
Volgens die Wêreld-Gesondheidsorganisasie word meer as 340 miljoen kinders en tieners (5 -19 jaar) wêreldwyd as oorgewig of vetsugtig geklassifiseer. In Suid-Afrika dra ons die dubbele las waar kinders terselfdetyd ondervoed en oorgewig is.
Die NWU Institutional Repository berig dat sowat een uit vier kinders in Suid-Afrika onder vyf jaar, reeds oorgewig of vetsugtig is. Tussen 6 en 13 jaar, is bykans 18% van meisies oorgewig (en bykans 5% vetsugtig). Onder seuns, is dié persentasie net effens laer.
Maar gewig is nooit net ’n syfer op ‘n skaal nie. Dis ’n delikate pad wat jy as ouer met wysheid, sagtheid en emosionele veiligheid as jou kompas moet aanpak.
Hier is ’n paar moets en moenies:
MOET: Kry ’n professionele opinie
Maak seker jou kind het wel ’n gewigsprobleem, en dat dit nie net jou persepsie of eie vooroordele is nie. ’n Afspraak by ‘n dieetkundige is ‘n goeie begin.

MOENIE: Pasop vir oorreageer
Plaas dinge in perspektief. Vra jouself af hoe jy sal reageer as iemand jou swak punte uitlig of slegte gewoontes kritiseer. Of nog erger: jou dreig, dwing of manipuleer om te verander. Jy gaan waarskynlik rebelleer, selfbewus raak, skuldig voel, en jouself nóg meer vergryp.
Hou dit in gedagte wanneer jy hierdie sensitiewe saak in jou kind aanroer. Werk sagkens en versigtig. Wys deernis en begrip. En maak seker jy luister en observeer dúbbel soveel as wat jy praat.
MOET: Tel jou woorde
Dis nie nou die tyd om grappies te maak oor Vet Lettie of Dikdaan nie.
“Jou kind ervaar dalk reeds kwetsende opmerkings. Hulle voel klaar sleg oor hulleself. Moenie dit vererger nie,” sê kliniese sielkundige van Johannesburg, Corné Peach. “Rus hulle eerder toe met vaardighede om snedige aanmerkings te hanteer.”
’n Ouer se eerste stap is om ’n goeie, ondersteunende verhouding te skep waarbinne jou kind geliefd en aanvaar voel.
Beklemtoon hulle goeie eienskappe en op wat belangrik is in die lewe.
“’n Oorgewig kind het nie ’n streng ouer nodig nie. Hulle het ’n veilige ouer nodig,” sê Corné.
Sy stel voor: “Lig jouself in oor die sielkundige en emosionele impak wat gewigsprobleme op ’n kind kan hê. Toets dan die diepte van die water en gesels met hulle oor jou eie ervaring, vertel hoe almal met ’n gedragspatroon of gewoonte sukkel, en assosieer jouself met hulle probleem. Verduidelik ook hoekom jy daaroor praat.”
As hulle negatief reageer, los dit en probeer oor ’n paar weke weer. As hulle self daaroor begin praat, spits jou ore en luister fyn; ook na wat nié gesê word nie. Moet niks afdwing nie. Wees beskikbaar wanneer hulle wel reg is om die probleem aan te pak.
MOENIE: Los jou dieetboeke agter in die kas
Streng diëte en kosreëls werk byna nooit nie, want jou kind hoor nie: “Kom ons eet reg” nie. Hulle hoor: “Daar is iets fout met my.”
“Fokus eerder op gesonde eetgewoontes, nie op gewigsverlies nie,” sê Corné.
“Beperk lekkernye en gemorskos, maar moet dit nie as ’n beloning – of die weerhouding daarvan as ’n straf – gebruik nie.”
’n Goeie riglyn, volgens die Oos-Randse dieetkundige Lidia de Klerk-Venter, is “gereelde klein etes, ’n gebalanseerde kombinasie van kossoorte (wat proteïene, stysel, groente, vrugte, stysel en vette insluit), beperkte suiker en sout, en genoeg vloeistof (hoofsaaklik water)”. Sit skyfies komkommer, suurlemoen, of mentblare in vir smaak.

MOET: Verander die huis, nie die kind nie.
As een persoon in die gesin op ’n “plan” is en die res kan pizza en slaptjips eet, is dit ’n resep vir frustrasie. Wat in die huis beskikbaar is, is wat geëet en gedrink gaan word. Koop dus oordeelkundig!
Gesinsbetrokkenheid is ook een van die beste maniere om goeie gewoontes te vestig. Prakties beteken dit dieselfde kos, roetine en reëls geld vir almal.
“’n Kind doen en eet wat jy doen en eet,” sê Lidia.
Stel die voorbeeld. Eet gereeld, eet saam, eet aan tafel, eet gesond, geniet dit, en moenie oormatige fokus op jou eie gewig, radikale kosplanne of eetgewoontes plaas nie. “Dit kan ’n kind deurmekaar maak oor wat regtig gesond is,” sê sy.
MOENIE: Gesond-eet hoef nie ’n pyn te wees nie
“Een van die moeilikste dinge as ouer is om terug te staan en jou kind beheer oor hulle liggaam en keuses te gee,” sê Corné. Verandering begin wanneer iemand self kies om verantwoordelikheid te neem vir hulle keuses en die gevolge.
Maak dit daarom vir hulle maklik en lekker om reg te kies. “Laat jou kind saam met jou kosinkopies doen. Gee opsies: Eet ons vanaand boontjies of broccoli? En laat hulle jou help om kos te maak en voor te sit,” sê Lidia.
Wees kreatief. Maak kosmaaktyd, geselstyd saam met jou tiener (hulle mag al die vrae vra). Of bedink ’n storie saam met jou jonger kind oor die kaal wortels wat vir ’n spa-dag in die warm water week. Laat hulle die kos op ’n interessante manier op die bord rangskik.
“Kinders wat deel is van die voorbereiding, is meer geneig om die kos te eet waaraan hulle saam gewerk het,” sê Lidia.
MOET: Roetine is jou bondgenoot.
Kinders floreer op voorspelbaarheid. Dit sluit in: gereelde etenstye, gebalanseerde kosblikke, en om ten minste een ete per dag saam as gesin te eet.
Gesonde verskeidenheid is die wagwoord.
Lidia sê: “Maak seker hulle eet ontbyt, al is dit klein.” Niemand behoort ’n dag op ’n leë maag en koppie koffie te begin nie.
Pak ’n gesonde kosblik.
Nie net een of twee voedselgroepe (stysel en/of proteïene) nie. Sit ook ’n vrug, ’n groente en/of suiwel by. En maak seker hulle het genoeg water om te drink.
Hou versnaperinge deur die dag aan die ligte kant. Eet aandete (die hoofete in die meeste huise) as gesin saam, en maak seker die bord sluit proteïene, volgraan-/veselryke stysel, groente/slaai en ’n gesonde vet in.
Hou porsiegroottes matig om te keer dat jou maag te vol is teen slaaptyd.

MOENIE: ’n Gesonde leefstyl hoef nie vervelig te wees nie.
Genoeg slaap en fisiese aktiwiteite speel beide ’n rol om oortollige vetjies weg te smelt. As mens oormoeg is, eet jy maklik te veel vir ’n bietjie meer oemf.
En onthou, kinders wil nie “oefen” nie. Hulle wil speel. Dink: dans, fietsry, aan-aan (last touch) speel, om oor ’n hindernisbaan van huisitems te klouter, of hulle frustrasies ’n uitklophou teen ’n bokssak in die motorhuis te gee.
Maak pretafsprake saam as gesin. Raak aan die beweeg. Daag mekaar uit. Maak dit lekker, en geniet ’n bietjie gesonde kompetisie en die samesyn.
Kortom, met ’n “gewigtige” boet of sus in die huis, is die belangrikste vraag nie: “Hoe kry ek my kind om gewig te verloor” nie. Dis eerder:
“Hoe help ek hom/haar om hulle liggaam lief te hê, te respekteer en goed daarvoor te sorg?”
En dít begin nie by wat op hulle bord is nie, maar wat hulle daagliks in die huis hoor: “Jy is genoeg. Jy word aanvaar. Jy kan staatmaak op ons onvoorwaardelike liefde en ondersteuning – ongeag wat die skaal, maats, of die wêreld oor jou sê.”







