Geskryf namens die AON deur:
Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Alle babagebare is waardevol, maar vyf van hulle word wêreldwyd as rooivlag-mylpale beskou. Dit beklemtoon hoe belangrik hierdie gebare is en dat dit baie voordelig is om alle babas te help om hierdie spesifieke gebare gemaklik en gereeld te leer gebruik wanneer hulle 9 tot 12 maande oud is.
*Minstens vier van die vyf behoort rondom 12 maande in plek te wees om ’n vaste grondslag vir spraakkommunikasie- en taalontwikkeling te verseker.
Wenke
Nota: Die wenke wat volg, help babas om die topvyf-babagebare meer gereeld te gebruik.
Dis wel waardevol om vir babas die babagebaretaal te leer wat op die gebare gebaseer is wat gehoorgestremdes gebruik, maar dis opsioneel.
*Besoek gerus www.babysignlanguage.com vir meer inligting oor babagebaretaal.
1. Handeklap
Tipiese babas begin op 9 tot 10 maande om ’n sleutelpersoon se bewegings na te boots terwyl die persoon voor die kind sit en demonstreer hoe om iets te doen (soos om hande te klap) sonder dat die gedrag bedoel is om ’n boodskap oor te dra. Babas wat gereeld sien dat sleutelpersone hande klap om te wys dat hulle bly, trots of opgewonde is, leer egter spoedig om saam te klap om so aan die emosionele boodskap deel te neem. Sommige babas begin daarna, gewoonlik na hul eerste verjaarsdag, om uit eie inisiatief hande te klap om te wys wat hulle voel, maar baie kom nooit sover nie – so dis nie ’n rooivlag-mylpaal nie. Dis wel ’n rooivlag-mylpaal dat babas meelewend genoeg moet wees dat hulle kan saamklap wanneer ’n sleutelpersoon klap om emosies te wys.
*Babas wat babagebaretaal ken, gebruik soms die teken vir “nog” wanneer hulle opgewonde is, in plaas daarvan om hande te klap. Dis normaal.”
Speletjies
1.1. Gebruik ekstra sensoriese terugvoer om beginners te help om hul aandag op die klapbeweging te fokus, soos om ’n foeliebakkie of ratel in elke hand vas te hou en dit teenmekaar te slaan.
1.2. Klap gereeld self hande om te wys dat jy bly, opgewonde of trots is. Doen dit konsekwent in situasies soos wanneer iemand iets regkry, iets in die hande kry, of enigiets beleef wat applous regverdig. Babas leer deur nabootsing.
1.3. Sê die rympie ‘Handjies klap, koekies bak’ op terwyl jy op die ritme van die woorde handeklap.
Wys ook gerus na afloop van die rympie hoe julle eet deur speel-speel aan julle vingers te knibbel. Stuur die baba se hande om saam met jou te klap en knibbel. Hier is ’n weergawe van die woorde: Handjies klap, koekies bak. Bring die meel, nie te veel. Klits die eiers gou-gou-gou. Kyk hoe lekker eet ons nou! [Njam-njam-njam]
1.4. Speel ’n klapspeletjie in die oggendkring.
Staan op jou knieë agter een van die babas en stuur die kind se arms om op die ritme van die volgende rympie hande te klap: Ek is bly, ek is bly, ek is baie, baie bly. Ek is bly, ek is bly, en so is jý! Wys op die woord “jý!’ na ’n ander baba in die sirkel. Beweeg dan gou om vir die ander baba ook ’n beurt te gee om aan te wees, of vra ’n assistent om te help. Herhaal die rympie ’n klompie kere.

2. Waai om te groet
Babas leer gewoonlik tussen 9 en 12 maande om te waai omdat hulle op daardie ouderdom leer om sosiale roetines te herken en voorspel.
Speletjies
2.1. Wanneer jy by ’n vertrek in- of uitstap, waai en sê “hallo” of “totsiens” sodat die babas gereeld sien hoe en waar die gebaar gebruik word.
2.2. Laat opgestopte diere en handpoppe ook waai wanneer hulle groet.
2.3. Sing ‘Skoppelmaai’ met ’n baba op jou skoot. Wieg vorentoe en agtertoe en stuur die baba se hand om te waai wanneer jy “tatta” sing.
Vers 1: Skoppelmaai, skoppelmaai. Ek ry op die skoppelmaai. Tatta Mamma! Tatta Pappa! Ek ry op die skoppelmaai.”
Vers 2: Skoppelmaai, skoppelmaai. Ek ry op die skoppelmaai. Tatta Boetie! Tatta Sussie! Ek ry op die skoppelmaai.”
Vers 3: Skoppelmaai, skoppelmaai. Ek ry op die skoppelmaai. Tatta Ouma! Tatta Oupa! Ek ry op die skoppelmaai.”
*Volg hierdie skakel om te hoor hoe die wysie klink: https://www.youtube.com/watch?v=CVRWljOwQbY

3. Kopskud om ‘nee’ te sê
Babas leer gewoonlik om hierdie gebaar te gebruik wanneer hulle 10 tot 12 maande oud is.
Speletjies
3.1. Maak grappies wat jou ‘nee’ laat sê. Laat ’n opgestopte dier lawwe dinge doen soos om te maak of hy ’n skoen eet. Sê, “Nee!” en skud jou kop. “Nee! Ons eet nie skoene nie!”
3.2. Wys soms na die verkeerde voorwerp. Sit twee voorwerpe voor ’n baba neer, bv. ’n skoen en ’n kar. Wys na een van hulle en vra: “Is dit die skoen?” of “Is dit die kar?” Afhangende van die voorwerp wat jy gekies het en die vraag wat jy gevra het, sal die antwoord soms wees: “Nee, dis nie die __nie” en “Ja! Dis die __ !” Knik en skud jou kop by die ja’s en nee’s.
3.3. Wys dat jy verstaan wanneer babas hul koppe skud om te wys dat hulle iets nie wil hê nie.

4. Wys met ’n voorvinger
Hierdie gebaar word gewoonlik tussen 10 en 12 maande vasgelê en verfyn. Dit word aanvanklik dikwels met spaakklanke gekombineer, en later met enkelwoorde. Dis belangrik dat babas moet leer (1) om die rigting te volg waarin iemand anders wys, en (2) om self met ’n voorvinger na iets te wys. Sommige babas sukkel hiermee omdat hulle nie begryp dat ’n mens iemand anders se aandag doelbewus kan herfokus om jou eie belangstelling en opgewondenheid met die persoon te deel nie.
*Wanneer babas vroeg reeds (op 9 maande) begin om ’n hand uit te steek om na iets te wys, bly die wenke wat volg belangrik om hulle te help om die bedoeling agter die gebaar te verstaan.”

Speletjies
4.1. Gee lopende kommentaar. Jou lopende kommentaar is die maklikste, belangrikste en mees effektiewe manier om ’n baba aan te moedig om met ’n voorvinger te begin wys. Hoekom? Omdat jou kommentaar vir jou die ideale geleentheid skep om te modelleer hoe jy spontaan met jou voorvinger na iets wys terwyl jy ’n opmerking daaroor maak, bv. “Kyk! Daar is nog sap in jou beker.” of “Kyk! Die bal is langs jou.” Babas leer so uit jou voorbeeld dat ’n mens iemand anders se aandag met ’n voorvinger en ’n opmerking kan herfokus.
4.2. Prys babas wat reageer wanneer jy met jou voorvinger na iets wys deur oogkontak te maak en spesifiek vir hulle te glimlag terwyl jy praat. Moedig die ander aan om ook te kyk na waar jy wys deur liggies aan hulle te raak om hulle aandag te trek.
4.3. Prys babas wat self na voorwerpe wys om jou aandag daarop te fokus met die bedoeling om hul belangstelling met jou te deel. Dis interessant dat daar in die literatuur onderskei word tussen proto-imperatiewe gebare en protodeklaratiewe gebare wanneer die vermoë om met ’n voorvinger te wys bespreek word. Wanneer ’n baba met ’n proto-imperatiewe bedoeling na iets wys, beteken die gebaar: “Ek wil daardie voorwerp hê!” In teenstelling hiermee is die bedoeling agter ’n protodeklaratiewe gebaar om te sê: “Kyk daar! Dis interessant!”
*Protodeklaratiewe gebare kom voor twee jaar baie selde voor onder babas wat op die outistiese spektrum is. Dis ’n handige rooivlag wat ons kan help om hierdie kinders vroeg te ondersteun.
5. Hou ’n voorwerp uit om daaroor te gesels
Babas begin gewoonlik spontaan op die ouderdom van 11 en 12 maande om voorwerpe na mense uit te hou om hul aandag daarop te vestig.
*Prys hierdie gedrag. Dis ’n waardevolle protodeklaratiewe gebaar (sien bo) wat geweldig kosbaar is om kinders se sosiale, verstandelike en taalontwikkeling te ondersteun.”
Speletjies
5.1. Maak beurte om iets vas te hou en aan te gee. Gee vir ’n baba ’n opgestopte dier om vas te hou. Gesels speel-speel met die speelding en vra: “Sit jy lekker by __ (kind se naam)?” Hou jou hand uit en vra of die dier ’n bietjie by jou kan kom sit. Praat dan weer speel-speel met hom terwyl hy by jou is. Vra na ’n rukkie of hy dalk weer ’n bietjie by die baba wil gaan sit. Die baba se rol is eenvoudig om die speelding te vat, vas te hou en later weer aan te gee soos wat dit heen-en-weer tussen die twee van julle aangestuur word.
Die doel van hierdie speletjie is om elke baba gereeld te laat oefen om met ’n sleutelpersoon beurte te maak om aan ’n interessante voorwerp aandag te gee, sonder om bang te wees om die voorwerp te verloor.
5.2. Speel “wys vir my”. Vra terloops deur die dag vir verskillende babas: “Waarmee speel jy? Wys vir my!” Gesels dan daaroor terwyl jy met jou voorvinger daarna wys, sonder om dit weg te neem.
5.3. Gee saam-saam ’n voorwerp vir ’n ander baba (of vir ’n pop) aan. Sê iets soos: “Die beer kry koud. Kom ons gee vir hom ’n kombersie” of “Kom ons gee vir __ (’n ander baba) ’n __ (voorwerp).”
5.4. Wys dat jy dit waardeer wanneer ’n baba sy belangstelling in ’n voorwerp met jou wil deel deur dit na jou toe uit te hou. Wanneer ’n baba spontaan iets interessant na jou toe uithou om dit vir jou te wys, kan jy die kind bemoedig deur iets te sê soos: “Sjoe, kyk net wat het jy!” en “Ah! Dankie dat jy dit vir my wys!”

Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk geplaas. Vir meer inligting, klik hier.







