Weet meer by die skool én tuis
Weet jy van Weet Ag jy weet, daardie wonderlike Afrikaanse e-naslaangids vir leerders. Ja, dáái een! Maar het jy geweet dat Weet al meer as 1 300 goeie, betroubare artikels vir leergierige kinders en nuuskierige agies gepubliseer het? Gaan kyk ‘n bietjie! Dan is jy ook een van die een-en-‘n-half-miljoen gebruikers wat Weet al besoek het en die inhoud al byna 4 miljoen keer besigtig het.
Die Weet-droom is gebore uit ʼn behoefte aan Afrikaanse inligting vir laerskoolkinders op die internet. Die eerste klomp artikels het kurrikulumonderwerpe gedek, veral vir graad 4- tot graad 7-leerders. Maar daarna het dit in allerhande interessante rigtings gegroei.
Wat kan jy alles Weet?
Weet hou jou op hoogte van ou en nuwe nuus. In verkiesingstyd kon jy oplees oor hoe ons politieke stelsel werk en waarvoor die verskillende politieke partye staan. Toe die Olimpiese Spele aan die gang was, kon Weet jou inligting gee oor al wat ʼn sport is. As jy in die verbyry wonder wie die mens agter ‘n straatnaam is, kan jy dit waarskynlik op Weet uitvind. En laas jaar, in die eeufeesjaar van ons moedertaal, kon jy oor alles wat Afrikaans is lees. Daar is boonop ook nog ‘n tydlyn wat Afrikaans se verloop uitbeeld.
Weet spog met artikels oor elke land op die Afrika-kontinent – weet jy wat almal se name is? Wel, ons was verras deur sommige minder bekende lande en het net daar en dan besluit om, saam met die AON, ‘n mooi muurplakkaat van Afrika in Afrikaans te maak, sodat almal dít ook kan weet. Weet deel hier plakkate gratis aan belangstellendes uit – kontak ons gerus as jy een wil hê!
Oor geskiedenis kan jy baie leer op Weet. Ons het die onderwerpe waaroor kinders op skool leer gevat en op allerlei maniere daarop uitgebrei. Al leer jou kind oor demokrasie op skool, kan hulle op Weet ʼn baie breër prentjie van demokrasie en demokratiese leiers kry, en dit sommer ook vergelyk met kommunisme, liberalisme en al die ander ideologiese -ismes. En dit is nie in Grieks geskryf nie, maar in eenvoudige, verstaanbare Afrikaans, sodat ons kinders van jongs af kan verstaan waaroor hierdie belangrike dinge gaan.
Weet vertel hulle ook van Jan van Riebeeck, die Jan van Riebeeck en die Anglo-Boereoorlog. Maar ons bied hierdie gebeure nie as eilande wat op hul eie staan aan nie – ons trek die goue draad deur die wêreldgeskiedenis en wys hoe dit met mekaar verband hou en mekaar beïnvloed. Ons vertel meer oor die mense wat die geskiedenis gevorm het en gee meer as een perspektief op hul verhale. Ons bied balans, diepte en volledigheid. En dit alles in maklike Afrikaans.
Hoe kry ons dit alles reg?
Danksy ʼn gedugte span van navorsers, skrywers, kundiges en taalghoeroes wat daagliks daaraan werk. Nadat ʼn artikel geskryf is, word dit deur ʼn kundige nagegaan om seker te maak die inligting is korrek en volledig. Dan word dit nog ʼn slag krities gelees, die teks word versorg en ʼn laaste keer nagegaan. Daarna kry dit gepaste foto’s of grafika en word dit gepubliseer. Die artikels word jaarliks nagegaan en bygewerk, sodat die jongste inligting en statistiek vir ons gebruikers beskikbaar is.
Behalwe vir goeie inhoud, bied Weet ook nog mooi, gepaste prente en aanvullende leesstof en video’s. Boonop het elke artikel vinnige feite, ʼn inhoudsopgawe wat navigasie maklik maak, ʼn bronnelys waarmee inligting geverifieer kan word en ʼn woordbank wat moeilike woorde verduidelik.
Die kersie op die koek is ons luisterartikels – dit is ʼn versameling van artikels wat ons opgeneem het en waarna daar op enige plek geluister kan word, of dit nou in die klas, op die langpad see toe of in die oggend voor ʼn toets in die kar is.
Weet nog meer met die Weet-app
Meer as 60% van Weet-gebruikers besoek Weet op hulle fone. Hierdie realiteit het ons laat besef: Ons moet ‘n app bou. Ons weet tog dat kinders ʼn nuwe generasie is wat apps gemaklik binne én buite die klaskamer gebruik. Daarom het ons geweet dat die volgende stap om Weet nóg beter en meer toeganklik te maak, is om vir kinders ʼn app te gee sodat Weet in hul handpalm, elke oomblik van die dag beskikbaar is.
Met die app bied ons ʼn platform wat nóg makliker en veiliger is vir kinders en nuuskieriges om op rond te snuffel; ʼn virtuele biblioteek wat altyd beskikbaar is. Alles wat jy tot dusver op Weet.co.za kon kry, is voortaan op ʼn maklike manier verpak in ʼn app. Jy kan kennis én gemoedsrus koop vir slegs R120 per jaar – wat ‘n winskoop!
Hoewel ons baie trots op ons inhoud is, weet ons dat ons werk nie klaar is nie. Nee, ons identifiseer deurgaans nuwe onderwerpe en ons verwelkom voorstelle vir nuwe inhoud van ons gebruikers. Tans werk ons aan artikels oor elke liewe land in die wêreld, en ons takel ook die graad 8-kurrikulum hierdie jaar. Volgende op die doenlys is beroepe van elke kleur en geur.
So, as jy moeg is vir swoeg en sweet, vind uit by Weet!
Tien goeie redes om Weet se app aan te skaf:
- Weet is Afrikaans. Ons skep inligting in goeie, verstaanbare Afrikaans en ons verduidelik Afrikaanse woorde en terme wat dalk vir kinders onbekend is, om sodoende hul woordeskat uit te brei.
- Die app is veilig en toeganklik. Deur die app te gebruik sal kinders nie per ongeluk op vreemde of onvanpaste inhoud op die internet afkom nie.
- Weet is kindervriendelik. Die inhoud is geskryf sodat kinders dit verstaan met baie prente en verduidelikings.
- Weet is maklik om te gebruik. Met die soekblok kan jy ʼn lys van resultate kry en elke artikel het genoeg onderafdelings om maklik deur die inligting te sif.
- Weet is betroubaar. Ons doen goeie navorsing, gebruik verskillende bronne en volg ʼn noukeurige gehaltebeheerproses.
- Weet is gebalanseerd en volledig. Ons gee perspektiewe wat nie noodwendig in skoolboeke beskikbaar is nie en kyk na al die kante van ʼn onderwerp.
- Weet is ʼn hulpbron vir leerders, maar ook vir ouers en onderwysers. Ons help met take, maar bied ook inhoud vir lesplanne, begripstoetse en vraestelle.
- Weet is ʼn inligtingsbron vir nuuskieriges. Daar is al baie meer inligting op Weet beskikbaar as wat kinders op skool leer; iets vir almal se algemene kennis.
- Weet is in oudioformaat beskikbaar. Só kry siggestremdes en lui lesers ook toegang tot ons inhoud.
- Weet is altyd besig om te ontwikkel en uit te brei. Die moontlikhede is werklik eindeloos – daar is altyd nog ʼn onderwerp om oor te skryf en nog ʼn funksionaliteit om te verbeter.







