Deur Karla Janse van Vuuren
’n Droom wat gebore is tydens daaglikse draffies tussen die stof en skape van ’n Noord-Kaapse Karooplaas, sorg nou dat Marie Brümm se resepte in duisende ander Suid-Afrikaanse foodies se kombuise gemaak word. Haar uiters suksesvolle Instagram-blad, waar sy haar kosskeppings deel, het tans meer as 107 000 volgelinge.
Haar sukses op sosiale media het gelei tot die pragboek Karoomanna, wat sy saam met haar ma, Ansu Erasmus, geskep en self uitgegee het.
Marie (uitgespreek sodat dit rym met ‘Sarie’), vertel sy is deur-en-deur ’n boeremeisie.
“Ek het op ’n plaas buite Cradock grootgeword, en my ouers boer steeds daar met merino’s en bonsmaras. Ek was vir 13 jaar ’n koshuiskind en het daarna onderwys in Bloemfontein gaan studeer,” vertel sy vir Afrikaans.com. Sy is nou vier jaar getroud met haar skaapboer-man Heinie en verwag haar eersteling, ’n dogtertjie, in Maart.
Marie is self steeds oorbluf deur die snelle sukses van haar Instagram-blad wat sy in Augustus 2023 begin het. “Na my studies was ek tydelik ’n onderwyseres by ’n skooltjie in die informele nedersetting hier naby ons dorp. Ek het in die tweede helfte van die skooljaar besef dat ek nie die volgende jaar werk gaan hê nie, en die idee van kosvideo’s ‘post’ op Instagram is gebore. Ek voel om kos te maak is my liefdestaal. As ek iemand wil bederf, dan dink ek wat kan ek vir hulle maak wat lekker is. In die kombuis ontspan ek ook, dit is die beste ontvlugting om daar doenig te raak.”
Haar Instagram-blad is “iets wat sy eerstens vir haarself” wou doen. “Hier waar ek bly is daar nie veel nie, nie eens bome nie, en ’n mens kan maar eensaam raak as ’n jonggetroude boervrou, veral as mens nog nie kinders het nie,” lag sy.

“Ek wou nie my ambisie verloor nie, en wou iets doen waaroor ek passievol is. Al is ek ’n groot dromer, en iemand wat altyd positief en vol hoop is, het die sukses van my blad my wildste drome oortref. Toe die idee begin posvat het, het ek baie gaan stap of draf op die plaas en my idee met die Here gedeel. Dan het ek Hom gevra, sal Hy my nie asseblief help daarmee nie? Ek het baie hard gewerk vir sukses, maar ek glo dit het alles volgens die Here se plan gebeur.”
Marie sê sy was so opgewonde om haar heel eerste video te maak en dit te deel. “Daardie eerste video is goed ontvang, en dit was so lekker om mense se terugvoer te kry en te hoor hoe baie hulle dit geniet het. Dan maak ’n mens mos met graagte weer ’n video! So het dit net gesneeubal.”
Kort voor lank het haar volgelinge op Instagram begin smeek vir ’n boek met haar resepte, en die saadjie wat sou lei tot Karoomanna het ontkiem. Die naam van haar boek, Karoomanna, gee ook eer aan God. “Hy het so ’n groot aandeel gehad in die boek, dit kom eintlik alles van Hom af. Ek wou die Here deel maak van die boek, maar hoe doen ’n mens dit in kosterme sodat dit nie ‘weird’ klink nie? Die betekenis van Karoomanna is dat ek voel sy hemelbrood het oor my kom reën in my woestyn hier in die Karoo, en my wens is dat almal wat die boek koop, saam sal smul aan hemelbrood uit sy hand.”
Karoomanna is ook die resultaat van sinergie tussen ma en dogter. “My ma het aanvanklik haar resepte vir my en my sussie bymekaargemaak en wou dit publiseer onder die titel Ansu se Bestes. Vandag is omtrent die helfte van Karoomanna my ma se resepte, en die res het ons opgevul uit my Instagram-skeppings.”

Vir Marie is Karookos sinoniem met huiskos.
“Daar is soveel kultuur in die Karoo. Die kos van jou oumagrootjie, jou ouma en ma – dit proe mos sommer soos huis. Omdat ek met hierdie tipe kos grootgeword het, sal geen ander kookkuns vir my daardie spesiale gevoel kan gee nie.”
Al is Karoomanna ’n ode aan Karookos, vertel Marie daar is ook resepte vir baie ander soort geregte in die boek. “Ons het ’n groot verskeidenheid ingesluit, van alle soort vleis tot pasta en groentegeregte. Ek voel die wenresep van veral my ma se resepte, is dat omdat sy ’n boervrou is, sy kosmaak met wat sy byderhand het. Ons het nie sommer eksotiese bestanddele in die spens nie, so jy leer om kreatief te raak met wat jy het. Dit is ongelooflik wat jy met alledaagse dinge kan skep!”
Ma en dogter het alles, van die maak en afneem van die geregte, tot die bemarking en verspreiding van hulle boek, self hanteer. “Ons het net besef dat dit finansieel meer sin sal maak om alles self te doen. Ek het omtrent al die kos in die boek self gemaak en afgeneem, daar was net hier en daar ’n fotograaf wat gehelp het.”
Karoomanna het in April verlede jaar (2025) die rakke getref, en die Engelse weergawe in November 2025.“
Toe ons die eerste keer gedruk het, was ons maar onseker oor hoeveel om te druk. Maar ons het reeds 800 voorafbestellings gehad, en die eerste 2000 boeke is toe binne twee maande uitverkoop,” sê Marie.
Haar fokus vir 2026 is steeds Karoomanna se bemarking, en om bietjie vooruit inhoud te skep vir sosiale media voordat sy ma word. “Ek sien die video’s wat ek maak as my werk, en ek verbind myself daaraan om te sorg dat daar inhoud geskep word. Mense besef nie altyd dat dit regtig harde werk en baie beplanning vereis om suksesvol te wees op sosiale media nie. ’n Mens kan nie dat jou blad stilstaan nie, want dan verloor jy traksie en volgelinge en moet jy amper weer van voor af begin. Ek maak ook altyd seker dat dit wat ek plaas mooi én lekker is, en dat die resep wérk. Ek het al genoeg internet-resep-flops gehad waar dit wat so dekadent gelyk het aanlyn, ’n algehele mislukkig was toe ek dit probeer maak het,” lag sy.
- Karoomanna is beskikbaar op Marie se webwerf, mariebrumm.co.za.








