Skrywer:Anita van Niekerk
Daar’s min dinge wat ’n Suid-Afrikaner in die buiteland so vinnig verraai soos die woord, “ja-nee”. Jy kan in Perth, Dublin, Toronto of Brussels staan, en nog voor jy jou oggendkoffie bestel, raai iemand: “You’re not from around here.”
Vir ekspats is taal en kultuur soms ’n komiese hindernisbaan. Afhangend van waar jy jouself bevind, probeer jy jou “r” rol of rond maak, jou “a” kap of rek, en om nie jou “th” soos ’n “d” te laat klink nie. Jy glimlag waarskynlik te veel, groet te oorgretig, en is dalkies te optimisties oor nuwe vriende maak.
Maar tussen die kultuurkaskenades, aksentoefeninge en Google Translate, lê ’n ernstiger vraag: Wat gebeur met mens se Afrikaans-wees wanneer duisende kilometers tussen jou en jou geboorteland lê? En raak hierdie wortels vlakker hoe langer jy weg is?
Afrikaans.com het met die Benadies gesels oor hulle ervarings as ekspats in die vreemde.
Vreugde en verlange in Kanada
As die naam Ilne Benadie ’n klokkie lui, is dit dalk omdat jy haar onthou as dr Elana Bester in “Binnelanders”. Ilne en haar gesin het in 2021 na Kanada geëmigreer. “Met agt tasse, twee gevul met lego en speelgoed,” onthou sy.
“Ek en my man, Marcus, het jare lank daaroor gedroom om in Noord-Amerika te bly. Die kans om dit ’n realiteit te maak, was inderdaad ’n wonderlike ervaring.”
Uitdagings en aanpassings
Die magdom administrasie en papierwerk van so ’n groot skuif was aanvanklik ’n reuse-uitdaging, maar so saam met hulle kinders, Mila (10) en Hugo (13), het die Benadies heel gemaklik aangepas.
“Ons het van die begin af gekies om positief te wees,” verduidelik Ilne. “Ons het ons dankbaarheid vir hierdie geleentheid hardop verklaar, en ons doen dit steeds daagliks.”
Vir Ilne was die aanpassing bietjie moeiliker. “Twee weke ná ons skuif, was my man en kinders so gelukkig soos varke in modder. Hulle het gou aangegaan soos gewoonlik. Maar ek het geen kennisse of konneksies gehad nie, en moes van voor af ’n loopbaan soek. Hierdie “af”-tydperk het wel my verhouding met die Here versterk en daaroor is ek baie dankbaar.”
Ilne doen deesdae ’n mengelmoes van dinge. Sy werk as leefstylafrigter (ook vir die SA-mark), skryf graag en het ’n dramaklub begin by die kinders se skool waar sy dramaklassies aanbied en ’n jaareindopvoering skryf en afrig.

Taalmisverstande wat jou laat lag
Veroorsaak die Afrikaans-in-die-huis én Engels-orals-anders, soms ’n misverstand en tongknopery?
Absoluut! Ilne vertel: “Mila was vyf toe sy hier na die kindergarten toe moes gaan. Alhoewel sy ook in Suid-Afrika Engels kon praat, het ons nog altyd gepraat van ’n ysie wanneer ons gevriesde yslollies eet.
’n Maatjie in haar kindergarten-klas het ’n yslollie by die juffrou gekry. “Mila het daai dag in trane in die kar geklim, en gesê net die kinders wat rooi gedra het, kon yslollies kry. Dit was vanselfsprekend ’n vreemde situasie, en ek het gou uitgeklim om met die juffrou te gesels. Ná 15-minute se gesels, het ek en die juffrou uitgebars van die lag toe ons uiteindelik die misverstand kon uitpluis. Mila het vir die juffrou gevra: ‘May I also get an ysie, please’. Die juffrou het nie geweet waarvan sy praat nie, en het gedink Mila vra of sy die A/C (temperatuur) moet verstel.
“Sedertdien maak ons seker dat ons al die regte benamings in Kanadese Engels aanleer en gebruik.”
Ilne se seun, Hugo, sukkel nie met enige van die Afrikaanse klanke nie, maar hy gebruik partymaal die verkeerde woord. Hy noem soms ’n bord, ’n plaat (plate), en hy sal die tweede “nie” aan die einde van ’n sin vergeet.
Mila is weer trots op die “ggg”-klank wat sy so mooi kan uitspreek. Haar oupa se naam is Gawie en sy sê dit al van geboorte af. Maar sy sukkel met die trillende “r” en kry dit net nie uitgespreek nie.
“Ggg” en “rrrr” is die twee klanke wat glad nie in Kanada gebruik word nie.
Lekker, maar die verlange is ook groot
So tussen die lag, die misverstande en die verlange deur, is die lewe in die vreemde vol avontuur én aanpassing.
Ilne sê sy mis die nabyheid en ondersteuning van familie. Hulle mis ook biltong, die see (“Ontario-meer is reusagtig, maar dit het nie gewone seegolwe en -geluide nie”), en hulle smag na Suid-Afrikaanse peuselhappies en kos. “Suid-Afrika het baie beter opsies ten opsigte van skyfies, koeldrank, sjokolade, restaurante en wegneemetes.”
Sy voeg by dat om nie meer onrustig oor haar skouer hoef te kyk nie, ’n groot dankbaarheid en verligting is. “Die permanente vrees wat ons in Suid-Afrika ervaar het, is soos die spreekwoordelike padda in die borrelende pot water. Stadig maar seker raak jy gewoond aan situasies waarvoor jy nooit geskep was om aan gewoond te raak nie. As gevolg van die veilige omgewing hier, kan my siel rus.”
Alhoewel die Benadies hulle nuwe avonture (en veral die sneeu) van Kanada geniet, bly Ilne se leuse: “Afrikaans in taal en volk – en trots daarop!”








