Skrywer:Annelie van Jaarsveldt
Die kort antwoord? Verkieslik nie, want as jou kind in sy moedertaal kan skoolgaan – tot ten minste graad 7, maar langer indien moontlik – word die grondslag vir doeltreffende leer op alle vlakke die beste vasgelê.
Wat is moedertaal dan?
Dit is die taal waarin jy grootword, die taal wat jy tuis praat, die taal waarin jy dink, droom, kuier en die taal wat jy die beste verstaan en waarin jy die gemaklikste is. Dit is die taal en sy gepaardgaande kultuur waarin jy tuis voel omdat jy weet die mense rondom jou is eende van jou dam. Hoekom dan iets probeer “heelmaak” of verander wat werk?
Die realiteit is dat soveel ouers glo dat Afrikaans nie genoeg bied vir hulle kinders om in die werkplek en in die wêreld sukses te behaal nie. “Die hele wêreld is Engels. My kind gaan ’n agterstand hê as hy nie in Engels kan leer en ordentlike Engels kan praat nie! Wat gaan van sy toekoms word?” Maar … dis gewoon nie waar nie en daar is navorsing wat dit staaf. Kinders wat in hulle tweede of selfs derde taal skoolgaan – iets wat deesdae baie gebeur omdat inklusiewe klaskamers aan die orde van die dag is – sukkel dikwels akademies juis omdat hulle moedertaal nie behoorlik vasgelê is nie. Dink self as jy skielik wiskunde of wetenskap in jou tweede taal moet leer. Jy moet soveel harder werk net om die basiese konsepte te verstaan en dan het jy nog nie eers by die res van die werk uitgekom nie!
Dan is daar ook die emosionele kant. As jy gedwing word om in jou tweede of derde taal te praat, raak jy sommer stom.
Veral tieners wil nie afsteek by maats nie. Dit spoel natuurlik oor na die klaskamer toe, en is die leerder geneig om nie deel te neem aan gesprekke nie. As jy egter jou saak kan stel in jou moedertaal, is jy skielik lus vir gesels en is dit makliker om jou standpunt met selfvertroue oor te dra. Kinders wat so ongemaklik en nie goed genoeg voel nie, sukkel ook dikwels met angstigheid, depressie, aggressie en frustrasie. ‘n Gevoel van: “Ek pas nie in nie!”
Dit maak tog sin. As jy verstaan wat jy hoor en lees, is dit soveel makliker om dit oor te dra aan ander, deel te neem en vrae te beantwoord. Skielik is dit sommer lekkerder om te leer. Dus, meneer en mevrou Ouer, hoekom wil jy dan jou kind ontneem van hierdie voorreg? Afrikaans.com noem so paar voordele van moedertaalonderrig en hoekom kenners dit eens is: “Moedertaalonderrig is die beste opsie om sukses te behaal – op skool, maar ook op tersiêre vlak en in die werkplek. Kortom, moedertaalonderrig maak deure oop.”

Die voordele van moedertaalonderrig
“Leerders wat onderrig word in die taal waarin hulle die vaardigste is, vaar die beste omdat hulle die hoërorde-vrae begryp. Daarteenoor struikel leerders wat nie in hul moedertaal leer nie met vrae soos ‘verduidelik in jou eie woorde . . . wat is jou mening oor . . . wat dink jy sal die gevolg wees as . . .’” – Dr. Michael le Cordeur
KwaZulu-Natal se 2025-matrieks het weer die beste presteer (90,6%-slaagsyfer), maar wat is die provinsie se wenresep? Quinton Lourens skryf in ‘n artikel op Netwerk24 (“KZN se matrieks bo – en dis deels aan moedertaalonderrig te danke” – 14 Januarie 2026) dat KZN se prestasie “deels aan moedertaalonderrig en aanlyn hulpbronne te danke is”, aldus dr Jaco Deacon van die Federasie van Beheerliggame. Deacon sê verder: “’n Groot deel van die provinsie se sukses kom van hulle lesse in Zoeloe. Van die onderwysers doen dit skelm, maar die sukses lê daarin.” Hy verduidelik verder dat sekere onderwysers moeilike konsepte in die leerders se moedertaal in plaas van die onderrigtaal (Engels) verduidelik, sodat die kinders dit vinniger en makliker kan verstaan. Emeritus professor Michael le Cordeur sê dat hy ook vermoed dat moedertaalonderrig ’n positiewe impak op onderrig in KZN het. “My eie navorsing wys dat kanse goed is dat jy beter sal vaar as jy nuwe konsepte in jou moedertaal aanleer.” Hy gaan voort en sê: “Die kognitiewe vaslegging geskied beter deur moedertaal in jou brein en die menslike brein is van so ’n aard dat hy feite in die moedertaal nie net beter vaslê nie, maar beter onthou.”
Die slotsom
Te oordeel uit bogenoemde, is dit dus duidelik: Moedertaalonderrig bevoordeel jou kind op alle vlakke. Daarom is die antwoord op die vraag: Moet ek nie maar liewer my kind in Engels (of sy tweede taal) laat skoolgaan nie, ’n doodeenvoudige en besliste “nee”!
Het jy geweet?
Moedertaalonderrig is die beste manier om te leer
Deur moedertaalonderrig word die gehalte van onderrig verbeter, want kinders wat in hulle moedertaal leer:
- Presteer beter, want hulle verstaan beter.
- Het ’n leervoorsprong omdat hul kognitiewe leer en probleemoplossing gevestig word.
- Kan moeilike begrippe selfs in ’n tweede taal verstaan en oordra.
- Pas gouer aan en sê makliker hoe hulle voel.
- Het meer selfvertroue in die klaskamer en tussen vriende.
- Leer ’n tweede of derde taal makliker aan – juis omdat hulle eerste taal (hul moedertaal) goed gevestig is.

Moedertaalonderrig ontsluit jou kind se potensiaal
Moedertaalonderrig:
- Is die brug tussen voorskool en laerskool.
- Maak leer makliker en lekkerder.
- Bevorder veeltaligheid (mits die moedertaal goed gevestig is).
- Maak dit makliker om kennis en begrip van een taal na ‘n ander oor te dra. Wanneer ‘n kind iets regtig verstaan in sy moedertaal, verstaan hulle dit in enige taal.
- Gee jou kind vlerke om te presteer op skool, maar ook op tersiêre vlak en in die werkplek.
Moedertaalonderrig is jou reg en maak deure oop. Dring daarop aan.
Moedertaalonderrig:
- Stel jou in staat om innoverend en kreatief te dink. Onderwysers wat klas gee in hulle moedertaal se las is ook soveel ligter. Die proses is meer natuurlik en lei tot entoesiasme en buigsaamheid.
- Lei tot emosionele stabiliteit wat beter akademiese uitkomste tot gevolg het.
- Help om volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te behaal.
- Bevorder kommunikasievaardighede in meer as een taal wat handig te pas kom in enige werksomgewing.







