Skrywer:Annelie van Jaarsveldt
Marinda Engelbrecht is bekend vir haar eenvoudige, maklike en bekostigbare resepte wat selfs die mees onervare kok kan baasraak. Ons het Marinda in 2014 leer ken op die realiteitsprogram, Kokkedoor, toe sy een van die finaliste was en as onthoukok met haar rooi lippe en interessante bril (en natuurlik haar kookvernuf) kykers vermaak het. Daarna het die TV-kookprogramme, Maklik met Marinda en Stoofstories met Marinda, gevolg.
Nou, meer as 10 jaar later, en ook met ’n hele paar resepteboeke op haar kerfstok, is Marinda weer in die “nuus” – dié keer met haar jongste resepteboek, No thank you to obesity.
Dié boek is ’n praktiese Suid-Afrikaanse gids gebaseer op die konsep van kalorieë tel en gee riglyne hoe jy te werk moet gaan om jou persoonlike kaloriebehoeftes te bereken om uiteindelik volhoubaar gewig te verloor. Afrikaans.com het soos altyd heerlik met Marinda gesels oor haar liefde vir kos, waar dit vandaan kom, haar jarelange stryd met haar eie gewig en waar die keerpunt was om iets daadwerkliks te doen. Ons vertel ook so bietjie meer oor wat jy kan verwag as jy dié besondere resepteboek aanskaf.
Marinda vertel dat sy op ’n plaas grootgeword het en dat hulle lewe om die eetkamertafel en kos gedraai het. “Ons het letterlik gelewe van een ete na die volgende. Ons was nog besig net middagete dan wonder my ma al wat maak ons vir aandete of wat eet ons môre.”
Op die plaas was alles volop en het hulle geëet wat in seisoen was. “Ek dink nie ons het regtig gesonde eetgewoontes aangeleer nie. Jy het maar net geëet wat voor jou was. As jy siek was, is jy getroos met kos, as jy hartseer was, het my ma vir jou iets lekkers gemaak, as daar ’n verjaarsdag was, het ons iets spesiaals gemaak. Kos was maar net altyd ’n integrale deel van my lewe. Kos is ook deel van my mooiste herinneringe. My ma se brode wat sy in die paraffienblikke gebak het, die melkterte vir die kerkbasaar … As jy jou kos opgeëet het, het jy nagereg gekry. Maar … dit het altyd uit ’n goeie plek gekom.
My ma het vir ons omgegee en dit was haar liefdestaal en waarom ons so lekker geëet het.”
Marinda sê dat sy in die kosbedryf beland het nadat haar kinders haar gemotiveer het om vir die eerste seisoenreeks van Kokkedoor in te skryf. Daarna het dit uitgekring en het mense haar begin kontak en genooi om haar kennis tydens geleenthede te deel, juis omdat haar kos so lekker maklik en vinnig gelyk het om te maak. “Ek dink dis ook hoekom my jongste boek so geweldig aanklank vind. Mense besef dat die bestanddele maklik en plaaslik beskikbaar is. Dit wat in jou kas is, kan jy gebruik, want dis gewone huiskosresepte.”
Weet wat jy eet
Deesdae word ons blootgestel aan ’n magdom van klaarverwerkte kos met etikette oor wat die spesifieke dis bevat so lank soos ’n mens se arm. Mens weet ook nie noodwendig wat alles beteken nie. Daarom moet ons onsself vergewis van wat in ons kos is en Marinda se eenvoudige filosofie oor kos aanneem, naamlik om te weet wat jy eet.
’n Hartsaak
“As ek net een mens se lewe kan verander, sal my hart sing.”
Baie van ons blaai graag deur ’n resepteboek. Of dit nou is om iets daaruit te maak, idees te kry of sommer net na die foto’s van die pragtige disse te kyk. Maar ons vergeet dalk hoe duur dit is om so ’n boek uit te gee. Na dese is Marinda en mede-outeurs, Chané Bothma en Lindie Mosehuus, maar alte bewus van hoe duur en intens dit is om ’n gespesialiseerde boek soos No thank you to obesity, self uit te gee. Maar omdat die projek haar so na aan die hart lê, en haar gewone uitgewers nie kans gesien het nie, het sy voortgegaan. Dit is dan ook die rede hoekom die boek tans net in Engels beskikbaar is.
“Ons moes besluit Engels of Afrikaans, want ons het net genoeg geld gehad vir een taal en omdat ek so veel as moontlik mense wou bereik, het ons besluit om die boek eers in Engels uit te gee,” aldus Marinda.
Afgesien van die bloedsweet en nie aldag weet of sy die regte ding doen nie, het Marinda vasgebyt, want “ek weet waardeur ek in my jare lange gewigsreis is. Ek weet van mismoedig wees, ek weet van hartseer wees … van ’n lae selfbeeld. Daarom, as ek net een mens se lewe vir hulle kan verander, sal my hart sing.” En of sy dit weer sal doen? “Halfpad deur die projek het ek gesê ‘nooit weer nie!’, maar vra jy my nou nadat ek beleef en gehoor het wat die boek vir mense beteken, sê ek ‘beslis ja!’”
Die keerpunt
Die boek se naam, No thank you (to obesity), het gespruit uit Marinda se eie stryd om gewig te verloor nadat sy na die geboorte van haar kinders baie gewig opgetel het. “Hier in 1986 toe trek ek die skaal op 114 kg, want ek het mos die ou mense se raad gevolg en vir twee en soms sommer drie geëet!” Toe sy egter op die vliegtuig moes vra vir ’n verlengstuk vir haar sitplekgordel en skaam was oor wat die mense langs haar dalk van die dik vrou gedink het, en te bang was om op ’n gewone tuinstoel te sit, ingeval hy breek, het sy besef: “Nou moet ek iets doen!”
Deur die jare was sy op elke moontlike dieet onder die son en vertel laggend dat haar man haar net elke keer as sy Weighless toe gegaan het, herinner het om net nie nóg ’n skaaltjie te koop nie.
“Die dag toe ek besluit het ek wil nie meer dieet nie – ek wil soos gewone mense eet – was die keerpunt.
Ek het begin kyk wat ek eet en het na die kaloriewaarde van kos gekyk en besef ons het dikwels verkeerde gedagtes oor kos. So het ek byvoorbeeld gedink die Wimpy se kaas-en-tamatie-broodjie het minder kalorieë as ’n hoender-en-mayonnaise-broodjie en eintlik is dit andersom.
“Moenie dink ek het nooit oortree nie. Ek het talle kere van die wa afgeval en was dan moedeloos en teleurgesteld in myself en het soos die grootste mislukking gevoel. Totdat ek besef het, klim net weer op en doen wat vir jou werk. Baie mense sal dalk van my verskil, maar ek weeg elke dag sodat ek onmiddellik iets daaraan kan doen as ek agterkom ek het opgetel. Hierdie metode het vir my gewerk en werk steeds, want agt jaar later was ek op my doelgewig nadat ek 53 kg verloor het.”

“Nee dankie” is ’n volsin
“Ek moes jare lank vir mense jok oor hoekom ek nie kos wil eet as ek op ’n dieet is nie. My verskonings het gestrek van ‘Ag, weet jy, ek het nou net geëet, ek kan nie nou nog iets eet nie.’ ‘Oe, dit lyk lekker, maar kan ek dit huis toe vat om later te eet?’ tot ‘Ek het nou net medikasie gedrink en kan nie eet nie.’ ’n Magdom verskonings dus. Tot ek die dag die vrymoedigheid gehad het om vir ’n vrou wat vir my gesê het, ‘Ag eet net nog bietjie – ag man, drink net nog ’n glas wyn – dit gaan niks maak aan jou nie’, te sê: ‘Nee dankie, ek gaan nie nog eet nie, want ek is op ’n dieet en ek probeer gewig verloor. Sal jy my asseblief help en nie vir my vra om nog te eet nie?’ Daardie dag het ek die wenpad betree.”
Vir Marinda het ‘Nee dankie’ dus ’n volle sin geword as iemand haar gevra het om nog te eet. Sy het ook besef dat sy nie hoef te verduidelik nie.
“Dis absoluut bevrydend as jy daardie twee woorde oor jou lippe kan kry en ophou probeer om ander mense gelukkig te hou net om jouself later te verwyt dat jy nie dapper genoeg was om ‘nee dankie’ te sê nie.”
Die boek kry gestalte
Marinda vertel dat sy altyd geweet het sy is nie die enigste een wat sukkel om gewig te verloor nie. In Europa word obesiteit reeds as ’n siektetoestand beskou. Mense wat Marinda op haar FB-blad, Marinda Kook, gevolg het, het begin vra wat sy gedoen het om so maer te word. En uiteindelik moes sy toegee. Sy het egter besluit dat dit ’n geakkrediteerde boek moes wees. Daarom die besluit om dit saam met twee dieetkundiges, Chané Bothma en Lindie Mosehuus te skryf en ook by die internis, dr Rust Theron kers op te steek. “Ek weet wat mense wil eet, maar ek het Chané en Lindie nodig gehad om die resepte te formuleer sodat die mense nie te veel kalorieë inneem nie.
“Nou, nadat die boek aanlyn versprei is, voel ek met tye oorweldig en wil ek huil van dankbaarheid as ek die positiewe boodskappe kry en besef dat mense hulle met die boek kan vereenselwig.”

Hoekom is die leefstyl wat in die boek beskryf word, volhoubaar?
Marinda sê dat dit werk omdat mens van niks ontneem word nie. Jy kan ’n verskeidenheid van kosse eet – dit hang net af van hoeveel jy daarvan eet. En soos ons almal nou reeds weet, kitsdiëte werk nie. “Onthou, jy het nie jou gewig in twee maande opgetel nie en kan daarom nie verwag om die gewig in twee maande te verloor nie. Hoe stadiger, hoe meer volhoubaar.”
Inspuitings, pille en poeiers
Marinda noem dat baie mense haar nader en uitvra oor Ozempic en Mounjaro – die sogenaamde wonderkure teen oorgewig. Haar antwoord is kort en kragtig: “Dis ’n goeie kruk as jy op die regte pad wil kom, en jou maag bietjie wil laat krimp, maar dis nie volhoubaar nie. Boonop is dit duur en is dit wetenskaplik bewys dat 70% van diegene wat net op die inspuitings staatmaak en dan daarmee ophou, die gewig wat hulle verloor het en nog meer, weer optel. Een groot rede hiervoor is dat jy nie werklik ’n kopskuif gemaak het nie.”
Die waarde van oefening
Gesonde gewigsverlies gaan gepaard met gereelde oefening om spiere soepel en sterk te hou en boonop kalorieë te verbruik. Marinda vertel dat sy spyt is sy het soveel jare gemors omdat sy nie saam met haar man, kinders en kleinkinders aktief kon deelneem aan stap, balspeletjies en swem nie. “Toe ek aanvanklik my leefstyl verander het, was ek in plein Afrikaans net te vet om te oefen. Op die strand het ek onder die sambreel gesit met lae klere aan, want ek was te skaam om te swem. Ek was sonder energie. Ek is so jammer ek het soveel mooi oomblikke gemors omdat ek oorgewig was.”
Na gelang die gewig begin wegsmelt het, het sy stadig begin stap met die honde en vandag trippel sy amper vooruit en moet hulle byhou vir ’n vale. “Onthou net, spiere het kalorieë nodig en jy kan nie net ophou eet of te min eet nie. As jy dit doen, dink jou liggaam jy is besig om hom te verhonger en hou dan kalorieë terug. Eet daarom meer maaltye per dag om jou metabolisme aan die gang te hou. Eet net kleiner porsies op ’n slag.” Marinda noem dat sy haar pap in ‘n sousbakkie skep en ook uit ’n kleiner bord as haar man eet.
Waarna kan lesers uitsien in die boek?
Die meeste bestanddele is in jou kas en jy kan lekker eet. Kaaskoek, pasta, gestoofde appels, smoothies (gladdejantjies), hamburgers, wraps, bobotie en meer – lekker kos wat jy vir jou gaste kan voorsit sonder dat hulle agterkom dis “dieetkos”.

Dis ’n praktiese verbruikersvriendelike boek wat jou leer hoe om jou eie kaloriebehoeftes te bereken en op ’n konstante en volhoubare manier gewig te verloor. No thank you to obesity sluit in:
- 70+ maklike laekalorieresepte
- Vier 7-dae maaltydplanne (gebaseer op die resepte in die boek)
- ’n Volledige inkopielys met kaloriewaardes
- Praktiese riglyne vir alkoholiese drankies en koffiewinkels om die beste keuses te maak
- Laer kalorie-opsies vir wegneemetes
- Al die resepte is vooraf opgelaai op die MyFitnessPal vir vinnige, akkurate maaltydbeplanning
Die boek kos R460,00 en kan aanlyn bestel word by: www.beatdieticians.co.za
As jy sukkel met aanlyn bestellings, kan jy ’n direkte boodskap vir Marinda Engelbrecht stuur op haar Facebook-blad, Marinda Kook. Klik hier Marinda Kook | Facebook
Kyk ook Marinda se weeklikse youtube-video’s – No Thank You To Obesity – Jou Reis Begin Hier – waarin sy mense motiveer en hul hande hoog hou.
Ons wou ook weet:
Wie inspireer jou as dit kom by kosmaak?
Dit was nog nooit nodig om my te inspireer om kos te maak nie – dit maak my opgewonde om vir my liefmense kos te maak, want vir my om kos op ’n bord te sit, is om liefde sigbaar te maak. Ek sal my koshandskoene ophang die dag as my mense nie meer by my kom eet nie.
Wat maak jy met die “flops” in jou kombuis?
Ek het nogal ’n vermoë om ’n flop te verwerk dat dit baie keer lekkerder as die eerste resep is en dan moet ek nou baie mooi onthou hoe ek die flop gekry het tot waar hy nou is. En ek het ’n baie geduldige man. Hy eet graag die flops.
Wat is jou gunstelinggereg?
Die lekkerste iets vir my is ‘n smeltkaasbroodjie onder die oondrooster met ’n klein bietjie rooipeper. En ek is mal oor bobotie. Dis vir my diep lekker. In die nuwe boek is daar juis ’n laekaloriebobotie wat jy nie eers gaan weet dat dit nie sonde is om bobotie te eet nie.
’n Laaste woord van Marinda
In Afrikaans het ons die mooi woord, ‘koester’. En dis die boodskap wat ek ook met my boek wil oordra. Die persoon wat die leefstyl volg soos in my boek uiteengesit, moet nooit voel hulle word ontneem van iets nie. Koesterkos hoef nie vet te maak nie.
Lees ook:
Marinda kook … en nie net in die kombuis nie! – Afrikaans.com







