Skrywer: Anja van den Berg
Mienke Ehlers se sukses het nie oornag gebeur nie. Haar pad na die kollig was ‘n lang en fassinerende reis.
Sy het eers vir jare agter die skerms gewerk, onder meer as stilis en rekwisiete-assistent. Vandag skitter sy in hoofrolle in trefferreekse soos Wyfie en Suidooster.
Tog skuil daar ‘n baie geankerde jong vrou agter hierdie uitdagende karakters. Sy bring haar sportagtergrond na die stel en haar passie vir mode na die digitale wêreld. Boonop is sy verfrissend eerlik oor die kuns van toneelspel en hoe dit haar gehelp het om haar skadukante te aanvaar. Afrikaans.com het met dié dinamiese ster gesels oor haar unieke pad, toekomsdrome en geheime lekkertes.
Jou unieke pad
Jou reis na hoofrolle in reekse soos Wyfie en Suidooster was nie ‘n kortpad nie. Hoe het daardie tyd buite die bedryf en agter die skerms jou ‘gereedskapkis’ as aktrise gevul?
Ek het nie sommer ‘nee’ gesê vir klein werkies nie en het vir omtrent vyf jaar op verskillende stelle gewerk, insluitend Suidooster. Ek was onder andere kostuumontwerper, stilis en rekwisiete-assistent in ‘n paar verskillende departemente.
Dit het my op ‘n baie diep vlak kreatief voorberei as kunstenaar en aktrise, maar dit was ook ‘n ryk dimensie vir innerlike werk. Woorde soos “geduld” en “aanvaarding” kom by my op. Hierdie tyd het my ook voorberei om te deal met dinge wat in die lewe gebeur… ’n mens hoor maar baie ‘nee, dankie’ in ons industrie. Dan kry jy nie die rol of die projek nie.
Vandaar het ek besef dat ek ‘n groter plan moet hê, dat ek ‘n besigheid gaan bou en my eie handelsmerk gaan wees. Ek het ook geleer om daarin te belê, hetsy met gesond leef, oefen, groei op alle maniere, myself bloot te stel en te leer by ‘n verskeidenheid van mense. Ek sien aktrise-wees as ‘n absolute spansport; my rol voor die kamera is net ‘n klein stukkie van ‘n baie groter legkaart.
Karakter vs. self
Karakters soos Mia in Wyfie word beskryf as wild, terwyl jy self baie geanker is in jou geloof en gesin. Hoe trek jy daardie lyn tussen jouself en jou karakters?
Ek dink baie akteurs is geneig om natuurlik te gaan soek na eienskappe wat hulle met hul karakters in gemeen het. My proses is presies die teenoorgestelde. Ek identifiseer die karakter so ver van my persoonlike lewe (en van my persoonlikheid) af as wat ek kan. Uiteindelik deel ek en my karakter net ‘n dop. Soms sluip daar dalk ‘n maniërisme of twee van Mienke in, maar ek gaan soek juis na hoe ek en Frankie, of ek en Mia, mekaar se teenpool is.
Om dit reg te kry, doen ek diep karakteranalise. Ek maak selfs vir my karakter haar eie playlists! Dan gaan dink ek ook oor alles wat haar laat tick, en vra vir myself vrae soos, wat’s haar gunstelingkos? Wat’s haar gunstlingsport? Van watter boeke en films hou sy? Wat’s haar gunstelingkleur? Het sy ‘n bynaam? Ek kleur haar lewe só vol in sodat sy nooit op Mienke se lewe hoef staat te maak nie. Ek sê altyd ek kyk mooi na Mienke sodat my karakters kan floreer.
Van die baan na die stel
Mense weet dalk nie dat jy ‘n kranige netbalspeler en naelloper op Stellenbosch was nie. Wat is die parallelle tussen die adrenalien en dissipline van op ‘n sportbaan staan, en die oomblik net voor die regisseur ‘aksie!’ roep?
Ek dink nie baie mense weet dat ek provinsiaal netbal gespeel het nie. In my matriekjaar is ek gekies om deel van die Suid-Afrikaanse o. 18-netbalspan te wees, en op universiteit het ek so ‘n bietjie vir Maties gespeel. My skedule het net te vol geraak omdat drama ‘n praktiese kursus is, so ek moes netbal opgee.
Dit was baie hartseer, maar ek speel elke dag nog ‘n spansport op die filmstel. Almal het ‘n posisie en ons maak staat op mekaar vir sukses, en die dissipline wat ek in sport geleer het, help my baie met wat ek vandag doen. Ja, daar is adrenalien, ‘n mens kan soms impulsief wees, uit die boks dink, improviseer, planne maak in oomblikke van druk, maar uiteindelik trek dissipline jou deur.
Ek het deur sport geleer om onder hoë druk te oorleef, maar ook te floreer. Ek dink ‘n mens is dalk ‘n bietjie verslaaf daaraan as jy in die filmindustrie werk, want die fluitjie wat blaas of die regisseur wat sê ‘aksie!’ voel presies dieselfde. Dan moet jy spéél, en nie die bal laat val nie.

Jou loopbaan, opgedis
In ‘n vorige lewe was jy ‘n kosstilis. As jou loopbaan as aktrise tot dusver ‘n maaltyd was wat jy moes stileer, hoe sou dit gelyk het en watter bestanddele sou op daardie bord wees?
As my loopbaan ‘n maaltyd was, sou dit ‘n reënboogbraaibord gewees het. ‘n Absolute mengelmoes van alles! ‘n Bord kos wat veilig en tuis voel, soos ‘n skaaptjoppie en ‘n stuk steak wat jou pa gebraai het, jou ma se aartappelslaai en ‘n vars mengelslaai met ‘n klomp verskillende fasette en kleure en geure.
Kuns boots die lewe na
Wat is die diepste waarheid oor jouself wat jy al ontdek het juis in ‘n oomblik wat jy in ‘n ander karakter se skoene gestaan het?
Een van die grootste waarhede wat ek van myself besef het, was toe ek Mia, ‘n sekswerker, vertolk het: Die grootste oordeel wat ‘n mens ooit kan ervaar, is die oordeel teenoor jouself. Ek dink as ‘n mens regtig jouself in die oë kyk – as jy jou diepste, donkerste skaduwees in die oë staar – en jouself kan aanvaar, dis wanneer jy eintlik eers vrede en lewe sal ervaar. Jy moet eers jou skadukant se hand kan neem om saam met jou die pad te stap.
Mia moes ‘n spieël vashou vir die kykers, maar dit was vir my as Mienke die moeilikste om in daai spieël te kyk. Om vir myself te vra: Wat is my insecurities? Wat is my foute? Hoe lyk die donker kant van mý? Hoe kan ek myself vir daai dinge vergewe sodat ek my skadukant kan aanvaar en ‘n plek gun vir elke deel van my?
Outfit angs
Met jou Instagram-reeks Outfit Angs speel jy met mode. Watter rol speel mode in die samelewing, en wat beïnvloed jou keuse van uitrusting?
Ek sien mode en styl absoluut as ‘n vorm van uitdrukking. Ek dink dit is die grootste vorm van kreatiewe expression – en ook die veiligste – wat daar is. Dit hoef nie verduidelik te word nie en ‘n mens hoef ook nie toestemming te vra daarvoor nie. Dis amper soos vryheid van spraak! Dis hoekom styl vir my baie belangriker is as mode.
Modetendense verander; styl is vir ewig en ikonies. Jou klerekas is gereedskap in jou toolbox, want dit wys vir die wêreld die weergawe van jou wat jy gesien wil hê. Ek trek nooit aan per geleentheid nie, ek glo nie daar’s iets soos om overdressed te wees nie. Ek trek absoluut aan vir my gemoed. As ek groot en vol selfvertroue voel, sal ek kleurvol of blink aantrek. As ek klein, donker of swaar voel, sal ek mode gebruik om my gemoed op te kikker en ‘n slegte dag om te draai.
Heldereis
As jy môre ‘n biografie oor enige historiese figuur, bekende persoon of selfs naasbestaande kon skryf – en self die hoofrol vertolk – wie sou dit wees en hoekom?
Ek het baie helde! Daar’s verskillende mense wat verskillende fasette van my lewe inspireer; ek dink dis baie belangrik om mense om jou te hê wat jou help om te groei as mens. Beide my ouers is vir my helde, my oupa was ook ‘n groot held vir my. Van my vriendinne is my helde. Die persoon met wie ek in ‘n verhouding is, inspireer my ook.
As ek nou gedwing word om ‘n enkele held te kies, sal dit my sussie, Landi, wees. Haar morele kompas is die sterkste wat ek al ooit teëgekom het. Ek sal nie omgee om in haar kop in te klim om te sien hoe haar brein anders werk as die res van ons s’n nie. As ek regtig nie weet wat om te doen of wie ek is nie, is ‘n gesprek met haar altyd die eerste plek waar ek myself kan herontdek.

Mienke saam met haar pa en suster.
Toekomsdrome
Jy het onlangs ‘n Silwerskerm-toekenning vir Beste Nuweling gewen. Waarheen mik jy nou? Is daar ‘n spesifieke tipe rol, genre of selfs internasionale projek wat jou hande laat jeuk?
Sjoe, daar is nog baie rolle wat ek sal wil vertolk! Een van die goggas wat my gebyt het, is vir aanbieding en een van my groot drome is om eendag my eie geselsprogram te hê.
Geheime lekkertes
Wat is jou guilty pleasures?
Oe, ek sou sê ‘n bos tulpe, ‘n glas rooiwyn na ‘n lang dag en ‘n tuisgemaakte bord pasta gemaak deur iemand wat lief is vir my. ‘n Drukkie van iemand in my gesin is beslis op die lys, en ‘n oproep van ‘n vriendin na ‘n lang week.








