Geskryf deur Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia
Wêreldhardopleesdag word elke jaar op die eerste Woensdag van Februarie gevier en vanjaar het dié geleentheid op 4 Februarie 2026 plaasgevind. Vóór jy dink dat dit net nóg ʼn kalenderdag sonder enige merkwaardige impak was, dink weer. Hardoplees is ongetwyfeld ʼn waardevolle bousteen vir enige jongeling se toekoms.
Soos gemeenskappe hulself steen vir steen op- en uitbou, vervul waardes, kennis en ʼn liefde vir leer ʼn onmisbare vormingsrol. Een van die mees eenvoudige maniere om hierdie grondslag te versterk, is deur hardoplees. Stories – geskiedkundig, hedendaags en selfs toekomsgerig – vervul soveel méér as net ʼn vermaaklikheidsdoel. Die aanhoor van diesulke stories verskerp taalvaardighede, skep ryke verbeeldingsvlugte, kweek kritiese denke, en inspireer. Dink ʼn bietjie hieroor na.
Wanneer jy vir ʼn kind hardop voorlees, skep jy ʼn gedeelde oomblik wat die potensiaal het om doelgerig hierdie vorming te fasiliteer.
Meer nog, jy stel die kind bloot aan die ritme en melodie van sy of haar moedertaal.
Hardopleesdag vervul nóg ʼn belangrike rol, in die sin dat dit gemeenskappe byeen bring en só verbondenheid bevorder. Ouers, onderwysers, biblioteekpersoneel en kinders word (veral op dié dag) lede van dinamiese lees- en leergemeenskappe. Elke leesoomblik, hoe gering dit ook al mag voorkom, is ʼn belegging in ʼn kind se toekoms. As opvoedkundige en vormingsboublokke dra hardop- en saamlees uiteindelik by om veerkragtige, ingeligte en leergierige volwassenes te ontwikkel.
Maar hardoplees hoef nie (en mag nie) net tot een dag per jaar beperk wees nie. Dit kan ʼn daaglikse, natuurlike deel van die gesins- en skoolroetine word. Selfs vyf tot tien minute per dag kan ʼn merkbare verskil maak. Die geheim lê nie in hoe lank daar gelees word nie, maar in hoe gereeld en met hoeveel entoesiasme dit gedoen word.
Hiermee ʼn paar praktiese maniere om hardoplees te bevorder:
- Ontwikkel ʼn vaste leesroetine
ʼn Kort storie voor slaaptyd, ʼn paar bladsye ná aandete of selfs ʼn vinnige leesoomblik voor skool help nie net om ʼn roetine te vestig nie, maar ook om verwagting te skep. Op hierdie manier voel lees minder soos ʼn taak, en meer soos ʼn natuurlike deel van elke dag.
- Laat jou kind besluit oor wat gelees word
Wanneer kinders self boeke mag kies, ongeag die genre, help dit hulle om lees as iets persoonlik en genotvol te ervaar. Belangstelling is dikwels ʼn sterk dryfveer om lees aan te wakker.
- Maak die leeservaring pret
As jy vir jou kind hardop lees, gebruik verskillende stemme vir verskillende karakters, verander jou toon om spanning of humor te illustreer, en moenie bang wees vir ʼn bietjie drama nie. Hardoplees fokus nie net op woorde nie, maar ook op die kind se belewenis van ʼn storie.
- Gesels oor die storie
Vra eenvoudige vrae: “Wat dink jy gaan volgende gebeur?” of “Hoe sou jy gevoel het in daardie situasie?” Só ontwikkel kinders kritiese denke en leer hulle om hul eie menings met selfvertroue te vorm.
- Elke geleentheid is ʼn leesgeleentheid
Padtekens, resepte, inkopielyste en instruksiepamflette is ook tekste. Deur alledaagse hardopleesgeleenthede in te span, leer kinders dat lees nie net tot boeke beperk word nie, maar in elke aspek van die lewe voorkom.
- Wees self ʼn leesrolmodel
Wanneer kinders volwassenes sien lees – boeke, tydskrifte of selfs e-boeke – leer hulle dat lees waardevol, ontspannend en ʼn alledaagse aktiwiteit is.
- Lees as ʼn gemeenskapsverantwoordelikheid
Skole, universiteite, biblioteke en gemeenskapsorganisasies speel ʼn onmisbare rol om leesgeleenthede toeganklik te maak.
Leeskringe, voorleesprojekte, boekruilaksies en studente wat by skole of tehuise vir die inwoners voorlees, is alles maniere waarop gemeenskappe saam kan bou aan ʼn sterker leeskultuur.
Deur op ʼn bewustelike manier tyd in te ruim vir hardoplees, bou ons nie net saam aan ʼn kultuur van geletterdheid nie, maar laat ons ook ʼn nalatenskap van kennis na wat oor generasies heen ʼn impak sal hê. In ʼn wêreld wat al vinniger en meer digitaal raak, bly die eenvoudige handeling van iemand wat vir ʼn ander hardop lees een van die kragtigste maniere om menslike verbintenis, begrip en leer te bevorder.
Elke storie wat gedeel word, elke stem wat lees, en elke kind wat luister, word boustene in die groot ontwikkelingstaak vir ʼn hoopvolle toekoms.
Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia, meen elke dag bied ʼn geleentheid vir hardoplees. Nie net is hardoplees baie voordelig vir jong kinders nie, dit verteenwoordig volgens Coetzer ʼn belangrike boublok vir individule én gemeenskapsvorming.









