Skrywer: Heleen Meyer
PLANNE met oorskiet-hoender
Het jy dikwels ’n bietjie gaar hoender oor, maar dis net te min vir nog ’n volledige ete?
Dit maak nie saak of die hoender oor die kole gebraai was, in die oond gerooster is, in ’n pan of in die ketelbraai gaar gemaak is nie. Ontbeende hoender is so veelsydig, dat daar baie ‘nuwe’ etes is wat jy daarmee kan maak. Hier is drie idees van Heleen Meyer wat jou mond gaan laat water.
Idee 1: OOP TOEBROODJIES is perfekte somerkos. Meng teelepelsvol pesto met maaskaas en sit met roket of slaaiblare, komkommer en die hoender op ’n broodjie van jou keuse. Volgraan- of suurdeegbrood is ekstra lekker. Garneer met ’n paar klein kruieblaartjies of mikrokruie en ’n lekker draai swartpeper.
Idee 2: SLAAI is altyd ’n wenner. Kombineer die hoender met groenboontjies, slaai- en kruieblare van jou keuse en seisoensvrugte, soos druiwe, perskes, nektariens of selfs mango. ’n Paar geroosterde sonneblomsade, feta en ’n tuisgemaakte slaaisous is al wat nog nodig is vir ’n heerlike ete.
Idee 3: HOENDER en RYS met GROEN GROENTE: soteer ’n ui en geur met gewone paprika of iets soos ’n Chinese 5-speserymengsel. Roer bruinrys by en soteer vir ’n paar minute. Giet die water in en prut tot gaar. Roer die ontbeende hoender en klein broccoli-blommetjies by. Prut vir ’n paar minute tot die broccoli heldergroen en net gaar en die mengsel deur warm is. Roer klein spinasieblare en gekapte sprietuie by en geur na smaak met olyfolie, sout, peper en suurlemoensap.
Fotos: @through_the_lens_with_t (IG)







