Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Foto: Abigail saam met die Wes-Kaap se LUR – David Maynier
Die 2025-matriekuitslae is op Dinsdag 13 Januarie 2026 bekend gemaak en Afrikaans.com het die voorreg gehad om met Suid-Afrika se nasionale sertifikaat- topmatriek vir 2025, Abigail Kok, te gesels.
Ons wou weet wat dit verg om ’n gemiddelde van 98,4% en boonop die hoogste punte vir Fisiese Wetenskap (99%) te behaal, maar wou ook weet wie sy is en wat dit is wat haar laat tiek.
Sommer met die intrapslag weet jy dat jy hier te make het met ’n jongmens wat die lewe vier. Sy het ’n lus vir die lewe, is opgewonde oor wat in die toekoms op haar wag en gryp alles wat die lewe haar bied met oorgawe aan. Hier is iemand wat haar skooljare gate uit geniet het, aan alles en nog wat deelgeneem het, “want sport en kultuur was heerlik en dit was nog altyd vir my lekker om vriende buite die klaskamer te maak, nuwe mense te ontmoet en so verhoudings te bou”.
Sy het grootgeword in Mosselbaai, maar sedert haar graad 8-jaar woon die gesin (Abigail het ’n ouer broer) in George en was sy in York High School, waar sy in 2025 die hoofmeisie was. Om ’n gebalanseerde lewe te lei, is vir Abigail ononderhandelbaar. Daarom kry jy haar nie heeldag agter die boeke nie, want om tyd met haar vriende en gesin te spandeer, is vir haar belangrik. Een van die hoogtepunte van haar week is Sondae, vetel sy, wanneer sy en haar gesin in die berge rondom George gaan stap en koffie drink in die berg.
“Om balans te handhaaf doen ook wondere vir ’n mens se gemoedstoestand, want anders kan die lewe maar soms moeilik raak.”
Haar leierskap en inisiatief kan duidelik gesien word in die klein goedjies – soos wat sy dit noem – wat die matrieks gedurende 2025 aangepak het. “Dit was nogal ’n besige jaar, maar een van die hoogtepunte vir my was die fliekaand wat ons gehou het – kompleet met springmielies, karaoke en kaartjies. Ons het ook vir almal wat die aand bygewoon het, gevra om indien moontlik sanitêre produkte saam te bring wat ons toe later geskenk het. Ons matriekklas het werklik probeer om mekaar by te staan en aan te moedig. Die wat gesukkel het, het ons na die beste van ons vermoë gehelp deur tutorklasse aan te bied. Ek dink regtig dit het gehelp, want York High het weer na twee jaar ’n 100%-slaagsyfer gehad.”
Wat was haar reaksie op die aankondiging?
Abigail vertel dat dit onwerklik gevoel het toe sy hoor dat sy “eerste staan” in die land, en dat dit haar ’n tydjie geneem het om te besef wat dit nou eintlik beteken. “Maar dit was opwindend, want my droom het waar geword en my harde werk het vrugte afgewerp.”
Jy is volledig tweetalig, maar wat beskou jy as jou moedertaal?
Abigail het nog altyd in Engels skoolgegaan, maar beskou Afrikaans as haar moedertaal, want dit is wat hulle by die huis praat. Sy glo egter dat dit beslis in haar guns tel om meertalig te wees, want dit het haar in staat gestel om ander kulture te leer ken. “Hoewel ek in die Afrikaanse kultuur grootgeword het, maar Engels vlot kan praat, kon ek baie vinnig met Engelssprekende Suid-Afrikaners begin gesels wat belangrik is om konneksies te bou, mense te ontmoet en stories uit te ruil.”
Agter ’n suksesvolle jongmens, is ondersteunende ouers
Nie alle kinders is bevoorreg om betrokke ouers te hê nie, maar Abigail noem dat haar ouers haar nog altyd ondersteun het en aangemoedig het om te doen wat vir haar belangrik is. “Hulle het my verseker dat wat ek ook al regkry net vir myself is en nie vir ander nie. Hulle glo in my ongeag, en dit het daartoe gelei dat ek glo dat ek tot enigiets in staat is. As ek oorweldig voel, weet ek dat ek na my ma en pa toe kan gaan en met hulle praat. Hulle is my veilige plek. Ek is werklik bevoorreg.”
Raad vir 2026 se matrieks?
Sy noem die volgende:
- Begin vroegtydig, werk hard regdeur die jaar, moenie uitstel nie, maak jou notas.
- Stel vir jou ‘n skedule op en probeer sover moontlik daarby hou. Hierdie skedule moet ook tyd afstaan aan ontspanning en sport.
- Dit is gereelde en konsekwente werk wat op die ou end tel. Sodat jy nie die week of aand voor die eksamen in aller yl moet swot en jouself onder onnodige stres plaas nie.
- Goeie organisasie is belangrik. Abigail noem dat die laatste wat sy in die eindeksamen geleer het, 19:00 was. “Gewoonlik het ek teen 18:30 my boeke toegemaak en dan gaan hardloop. Dit was vir my belangrik en het my brein kans gegee om te rus en af te skakel sodat ek kon ontspan en behoorlik kon slaap.”

Beskryf ’n goeie onderwyser
Volgens Abigail is dit daardie onderwyser wat regtig omgee en nie net na ’n kind se punte kyk en of hy sy huiswerk gedoen het nie. Dit is die onderwyser wat die kind raaksien. Wat net die beste vir die kind wil hê en in hulle glo. “Ek glo vas dat onderwysers wat wys dat hulle omgee en die kinders sien en hoor, ook nie gaan sukkel om dissipline te handhaaf nie. As die kinders weet jy gee om, sal hulle jou respekteer. Ek was so gelukkig om onderwysers te hê wat ook my raadgewers kon wees.”
Wat is jou raad om boeliegedrag te hanteer?
“Praat daaroor met jou ouers of onderwyser en moet dit nie probeer wegsteek nie. Deur dit te rapporteer is ’n goeie beginpunt en op die manier kan die probleem hanteer word, sodat die persoon wat boelie en die slagoffer gehelp kan word.
“Ek glo dat as dit vir jou nodig is om iemand anders te boelie, dit nie uit ‘n goeie plek kom nie en dat dit eintlik ’n hulpkreet is. En die slagoffer ly natuurlik daaronder. So, die boelie het ook ondersteuning nodig. En as jy dalk die slagoffer is, is dit belangrik om te onthou dat die goed wat die boelie gesê of gedoen het, nie jy is nie. Jy is soveel meer as dit.”
Toekomsplanne?
Abigail gaan Universiteit Stellenbosch toe om Datawetenskap te swot. “Ek gaan in die koshuis bly en kan nie wag nie. Ek sien so uit na die kampuslewe, om te gaan stap in Stellenbosch se berge, deel te neem aan sport. Sommer net alles!”
Sy wil graag eendag Europa verken en in die Alpe gaan stap, maar Suid-Afrika is waar sy wil bly en waar sy eendag haar eie kinders wil grootmaak. “Ek is so lief vir my land, afgesien van al sy uitdagings verruil ek Suid-Afrika vir niks nie. Dis waar ek grootgeword het en dis die land wat soveel vir my gedoen het en daarom sal ek graag my deel hier wil doen en so teruggee.”
Wat maak jou gelukkig?
Abigail is lief vir mense, om met hulle te gesels en om hulle stories te hoor, maak haar gelukkig. “En om in die buitelug te wees, maak my die heel gelukkigste.”
Wie is Abigail?
“Ek werk hard, maar probeer die Here vertrou in alles wat ek doen. Een van die belangrikste waardes vir my is integriteit en om respek te betoon teenoor ander. Ek ‘oom en tannie’ almal en groet met die hand en moet erken party mense het my al skeef aangekyk en gevra dat ek hulle op hulle name noem, maar dis wie ek is,” lag sy. Sy sê ook dat sy hard probeer om ander voorop te stel, om te help waar sy kan en so ’n impak op hulle lewe te maak. “Ek probeer ’n lewe lei wat God sal vereer.”
’n Laaste woord aan 2026 se matrieks?
“Baie sterkte aan al die matrieks. Mag julle drome waar word en mag 2026 die jaar vir julle wees waar julle wel julle beste kan bereik.”








