Skrywer: Anja van den Berg
Wat sal jy doen as jy weet dat jy tot sewe mense se lewens kon help red? Of dat jy soveel as 50 mense se lewensgehalte kon help verbeter? Orgaanskenking is seker dié grootste bydrae tot die mensdom, en ’n wonderlike manier om die geskenk van lewe te laat voortleef na die dood.
Maar het jy geweet dat jy ook ’n lewende skenker kan wees? Jou beenmurg en lewer is twee organe wat nóú reeds lewens kan red! Lewerselle vermenigvuldig weer en die skenker se lewer herstel ten volle. ’n Skenker se liggaam vervaardig ook weer beenmurg.
Al hoe meer gevalle van nierversaking
Gesonde mense kan meestal ook gemaklik met een nier regkom. Natuurlik groei die nier nie terug nie, maar met ’n gesonde dieet en leefstyl sal die skenker steeds voluit kan leef.
Niere is wêreldwyd bo-aan die lys van broodnodige organe. “Ons sien al hoe meer gevalle van nierversaking,” sê dr. Francisca van der Schyff, ’n lewer- en nieroorplantingschirurg by die Universiteit van die Witwatersrand se Wits Donald Gordon Mediese Sentrum (WDGMC). Sy dien ook as president van die Suid-Afrikaanse Oorplantingsvereniging en is ’n genoot van die Europese Raad vir Oorplantingschirurge. “Dis dikwels gekoppel aan leefstylfaktore, maar daar is natuurlik uitsonderings.”
Suretha Campher (38) is een so ’n uitsondering.
Suretha, ’n onderwyseres van Middelburg, was 23 toe sy in 2010 met algehele nierversaking gediagnoseer is. Sy was ’n kranige atleet: fiks, gesond en aktief. Sy was grootliks asimptomaties. Uiteindelik het sy groot onraad vermoed toe ’n verblindende hoofpyn haar na die dokter toe gestuur het.
“Dit was baie letterlik verblindend!” sê Suretha. “My linkeroog was blind en my bloeddruk was 240/160 mmHg.” ’n Gesonde bloeddruk vir ’n volwassene is gewoonlik tussen 90/60 en 120/80 mmHg.
Haar dokter het dringende toetse laat doen en die ergste is bevestig: sy het geen nierfunksie oorgehad nie. Suretha het dadelik met medikasie begin, maar dit het nie gehelp nie. Sy was in die hospitaal vir drie maande. Toe sy uiteindelik kon huis toe gaan, moes sy steeds daagliks dialise kry.

Foto: Shutterstock
Dialise vier maal per dag
“Daar’s twee tipes dialise,” verduidelik Suretha. “Die een is hemodialise, waar jy ingaan na ’n fasiliteit en jy aan ’n masjien gekoppel word. Die ander opsie is peritoneale dialise waar die dokter ’n tuitjie in jou buikholte inplant. Dís die dialise wat ek gekry het.”
Peritoneale dialise gebruik die peritoneum (’n dun membraan in die buikholte) as ’n natuurlike filter. ’n Spesiale dialisevloeistof word deur ’n kateter in die buik getap, waar dit afvalstowwe en oortollige vog uit die bloed opneem. Ná ’n rukkie word die gebruikte vloeistof uitgetap en met skoon vloeistof vervang. Hierdie siklus herhaal om die bloed skoon te hou.
Suretha moes hierdie prosedure self hanteer – vier keer per dag!
Jan (en Janine) Alleman sou maklik negatief of moedeloos geraak het, maar dié tyd was vir Suretha ‘n praktiese ervaring – sy onthou nie eintlik dat sy baie emosioneel was nie. “Ek stel belang in anatomie en biologie, en die hele ding was vir my ’n leerervaring.
“Ek was soms baie moeg en fisies van balans af, maar ek het eintlik min pyn gehad. Die dokters was ook ongelooflik! Met elke sonar het hulle die skerm na my gedraai en mooi verduidelik wat aangaan. Hulle het my deel van die span gemaak!”
Haar ma word ’n lewende skenker
Sy het ook nooit gebroei op alles wat kon fout gaan of dat sy in die middel van ’n lewensgevaarlike situasie was nie. Maar die realiteit was dat sy dringend ’n nuwe nier nodig gehad het.
Haar ma, Maretha (toe 51), het haarself as ’n lewende skenker beskikbaar gemaak en toetse het gewys dat haar weefsel versoenbaar is met haar dogter s’n (dit is nie noodwendig die geval nie).
“Ek het nie eers daaroor gewonder nie,” sê Maretha. “Dit was ’n no-brainer dat ek my nier vir my kind sou gee.”
Vyftien jaar later het sy geen verlies aan lewenskwaliteit of fisiese vermoëns nie. “Ek het nie veel aan my leefstyl verander nie,” sê Maretha.
In 2011 is die oorplanting suksesvol gedoen, maar twee weke later het ’n ernstige komplikasie ontstaan: Suretha se immuunstelsel het teen die nuwe nier begin reageer. Sy moes plasma-uitruilings ondergaan om die vlakke van teenliggaampies te verlaag en die nier te stabiliseer.

’n Nuwe rede vir hoop: Die Wêreldoorplantingspele
Ten spyte van al die kinkels in die kabel het Suretha deurgedruk. ’n Paar maande daarna het sy reeds aan die 2013 Wêreldoorplantingspele in Durban deelgeneem. Die byeenkoms is soortgelyk aan die Olimpiese Spele.
“Dit klink erg om te sê, maar die Spele word elke twee jaar gehou, in plaas van elke vier jaar, omdat orgaanontvangers se sterftesyfer so hoog is,” sê Suretha.
“Maar dis nie sommer fun and games nie! Jy moet steeds kwalifiseer per ouderdomsgroep en medies goedgekeur wees om deel te neem. Kyk, party van daai atlete is so vinnig, hulle laat my lyk of ek parkering soek!”

Suretha het in 2013 ’n wêreldrekord in die 100 meter-wedloop opgestel en ook onderskeidelik ‘n goue medalje in die 200 meter-wedloop en verspring verower. In 2015 het sy Suid-Afrika weer verteenwoordig, hierdie keer in Argentinië, waar sy drie silwermedaljes ingepalm het: een vir die 100 meter-wedloop, een vir die 200 meter-wedloop en een vir aflos. Sy’t ook ‘n goue medalje vir verspring huis toe gebring.
In 2017 was Spanje die gasheerland van die Spele, en Suretha het niks minder nie as vier medaljes gewen: ‘n goud vir verspring, ‘n silwer vir die 100 meter-wedloop, ‘n silwer vir die 200 meter-wedloop, en ‘n brons vir die aflos.
Sy en haar man, Cedric (‘n meganiese ingenieur), het sommer twee vlieë met een klap geslaan en ná die Spele in Spanje aangebly vir hul wittebrood. Hulle het in 2014 ontmoet.
Ten spyte van haar prestasies en uithouvermoë het Suretha en Cedric steeds ‘n geheime droom gekoester: hulle wou bitter graag ouers word. In 2018 kon sy nie aan die Spele deelneem nie, want sy was swanger.
‘n Hoërisiko-swangerskap
“Daar was ’n ellelange lys van alles wat met die fetus kon fout gaan,” onthou Suretha. “Van deformasies, onderontwikkeling, selfs stilgeboorte. My nier kon ook totaal opgee, wat uit die aard van die saak nie ’n goeie einde sou hê nie!”, lag sy. Dit was ’n hoërisiko-swangerskap; haar dokters het haar medikasie verander en haar fyn dopgehou.
Suretha was 31 weke swanger toe David in 2020 deur middel van ’n keisersnee gebore is.
Hy het 1.4 kg geweeg en het ses weke in die neonatale intensiewesorgeenheid spandeer. Dokters het getwyfel of David sou deurdruk. Die geboorte was nie sonder komplikasies nie, en Suretha was vir dae in die hoësorgeenheid. Hulle kon hom uiteindelik op 9 Mei – Moedersdag! – huis toe bring!
Vandag is David springlewendig en gesond, en hou hy sy ouers lekker besig. Suretha het wel besef sy mis die kameraadskap van die Spele. Sy’t iets nodig gehad wat net vir háár was. Hierdie jaar was sy weer gereed om Suid-Afrika te verteenwoordig.

“Duitsland was die gasheerland vir die 2025-Spele en het ons absoluut op die hande gedra. Almal saam was ons omtrent 2 000 atlete uit 48 lande, elk met tussen 20 en 30 ondersteuners. Dit was ook die eerste keer in 50 jaar wat die Spele uitgesaai is! Daar was omroepers en kameras by die onderskeie venues. Hulle het aan elke detail gedink; die reëlings was ongelooflik.”
Sy het ‘n goud in verspring, ‘n silwer in die 100 meter-wedloop en ‘n brons in die 200 meter-wedloop verower.
“Ek is bitter, bitter bevoorreg. Ek het ‘n gesonde kind. Ek het ‘n wonderlike man. Hy raak nie gespanne nie en overthink nie probleme nie. Ons is geseënd met sy werk en het ‘n mediese fonds wat al my medikasie betaal.
“Daar is mense sonder hande of voete, mense wat sonder ondersteuning, met minimum hulpbronne, moet regkom. Een van die deelnemers in die Spele kan byvoorbeeld nie meer behoorlik sien nie; sy het net periferiese visie. Hoe meer ek met mense te doen kry, hoe meer kom ek agter: my situasie is nie so erg nie.”
Wat is jou geheime plesiertjies?
Twintig minute net vir myself! Die kwekery om die draai het ‘n koffiewinkel met die beste wortelkoek. As die dag te veel word, glip ek gou daarheen en bestel sommer ‘n Americano saam met ‘n lekker groot sny koek. Dan’s dit net ek en my Kindle of ‘n boek.
Hoekom neem jy deel aan die Wêreldoorplantingspele?
Die gemeenskap en ondersteuning tussen die atlete is … dis moeilik om te verduidelik. Daar is ’n empatie, ’n begrip wat niemand anders regtig sal verstaan nie. Ek kon vir ’n paar jaar na David se geboorte nie deelneem nie. Maar ek het besef ek begin myself verloor, ek skeep myself af. Ek’s ’n baie beter mens as ek oefen! Ek hou veral daarvan om ’n doel voor oë te hê.
Hoe voel ’n slegte dag?
Ek word maklik moeg en kan nie meer so baie oefen soos wat ek wil nie. Ons hond het eendag my splinternuwe pak pille verskeur, en dis duisende rande se medisyne. Ek weet ek sal altyd op medikasie wees, maar daai dag het ek besef ek gaan dit elke liewe dag van my lewe nodig hê. Selfs kankerpasiënte het ’n kans op genesing; ek sal nooit ‘genees’ kan word nie. Maar op sulke dae onthou ek dat ’n oorplantingspasiënt ’n lewensverwagting van een tot twee jaar het. En ek skop nou al vir 14! Ek maak dan ’n lekker koppie tee en tel al my seëninge.
Om te registreer as ’n orgaanskenker besoek die Orgaanskenkingstigting (ODF) se webtuiste, stuur ’n e-pos aan megan@odf.org.za of skakel die organisasie tolvry op 0800 22 66 11.







