Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Sy borrel, sy bruis … en wat jy sien, is wat jy kry.
Dit is Eloise Cupido. Dalk ken jy haar beter as die gewilde aanbieder van “Intussen” op RSG, of het jy haar op televisie in onder andere “Pasella”, “Kwêla”, “Artcha” en “Belboks”, of as seremoniemeester op die verhoog gesien. Hoe ook al, Eloise is nie iemand wat stil-stil in die agtergrond verdwyn nie. Hierdie mensemens kan enige dag opkikker, met of sonder sequins. Afrikaans.com het heerlik met haar gesels.
In Montagu in die Wes-Kaap gebore en grootgeraak (dis hoe mens in Montagu sê), was Eloise van kleins af kunssinnig en het sy seker gemaak sy word raakgesien. “Wat ’n voorreg dat ek my menswees daar kon kry.” Hulle was vier kinders wat deur ’n enkelma grootgemaak is en al was daar nie ’n oorvloed geld nie, was daar liefde en omgee en was haar kinderjare gelukkig. Haar ma het haar geleer van gulhartigheid en om te deel met ander en hulle het nooit kaalhand by ander opgedaag nie.
“Ek het eers later besef dat twee van die kinders in ons huis deur my ma in pleegsorg geneem is – nie dat dit enige verskil gemaak het nie. Sy het ons almal dieselfde behandel.”
Eloise se ma was ’n verpleegster in diens van die Afdelingsraad en is dikwels deur die plaaswerkers onder haar sorg met sakke vol vrugte bedank. “Ek is tot vandag toe ’n vraat vir vrugte! My gunsteling is ’n taaipitperske uit die boord – stroopsoet en wat knars soos ’n appel as jy hom hap. My ma was ’n merkwaardige vrou en ons het uit die tuin uit geëet. Sy kon kos uit wind uit maak en ’n blikkie vis in haar hande is in ’n hele maaltyd omtower!”
“Alles wat ek vandag is en bereik het, is aan my ma te danke. En ek weet, sy waak steeds oor ons.”
Eloise vertel nostalgies van haar skooljare en hoe sy op ’n keer aan die tamboernooientjies deelgeneem het. “Ons het nie geld gehad vir nuwe tekkies nie, maar my ma het ’n plan gemaak en ek het met tweedehandse tekkies opgedaag. Terwyl ons so in gelid geloop het, het die een tekkie se hak oopgegaan en geflap soos ’n plakkie. Ek was so skaam en het gewens die aarde sluk my in, maar tog het dit my nie gestop nie en het ek deurgedruk. En dit is daardie gevoel wat ek tot vandag toe steeds gebruik – as ek voel ek word onderdruk, lig ek my kop, en gee ek net nog meer. Ek glo dit is te danke daaraan dat ek verder gekom het as wat ek ooit kon droom.”
Eloise is op vyf skool toe. “My ma was toe al so oor al my vrae – blykbaar was my eerste woord, ‘hoekom?’ – dat sy my maar liewer skool toe gestuur het.” Op skool het hierdie boekwurm – wat maar ook onder die boelies moes deurloop – al wat boek is verslind en is sy tot vandag toe versot op woorde en tale. “Ek het sommer van kleins af met die woordeboek langs my gelees, want ek moes weet wat die woorde beteken sodat ek dit in opstelle kon gebruik.” Sy lag en sê dat van die onderwysers nie altyd geweet het waar sy aan alles kom nie en wat die woorde beteken nie.
Eloise was ook nie tevrede om net haar moedertaal Afrikaans en ook Engels te praat nie. Toe sy na skool by Tukkies BA Drama gaan swot het, was Duits en Frans haar ekstra vakke. Nou ja, vir iemand wat daarvan hou om te praat, is dit natuurlik perfek en het hierdie veeltaligheid met tye handig te pas gekom.
“As ’n mens iemand anders se taal praat, kry mens sommer meer begrip vir mekaar en is jy mos koptjommies.”

Op skool het sy musiek geneem, in die koor gesing en trompet in die kadetorkes gespeel. “My ma het ’n engelstem gehad en die koor in die Metodistekerk afgerig. My broer sing ook baie mooi, maar ek het nie gedink ek kon sing nie, alhoewel ek musikaal was.”
Heelwat later het sy en Johan Kelber (van Kanariesfaam) besluit om ’n album op te neem waarop sy sing. “Natuurlik wou ek alles nét so hê, met regte musikante en nie backing tracks nie. Op die ou end het ek dit gedoen, maar wat ek daarmee gaan maak weet ek nog nie,” lag sy.
Vertel meer van toe jy by Amore Bekker oorgeneem het. Dit was groot skoene om vol te staan.
“Sjoe, dit was nie maklik nie. En onverwags. Ek was toe nog by “Ontbytsake”. Ek het in 2022 by RSG aangesluit en het nuus gelees op Amore se program en die Goue Oues-program vervaardig. Dat ek my eie program op RSG sou kry was beslis nie op my radar nie. En toe word ek genader en gevra of ek sou belangstel. Ek het regtig eers gedink hulle is nie ernstig nie.
“Dit was ’n massiewe leerkurwe en ek moes blitsvinnig leer om aanbieder te wees en die tegniese kant te behartig.”
“Soos altyd het ek ‘ja’ gesê voordat ek geweet het waarvoor ek myself inlaat, want soos ’n goeie vriendin altyd sê, ‘ek bou maar die vliegtuig soos wat hy vlieg’!
Ek het ’n uiters gewilde program oorgeneem, wat met liefde gebou is, en het aanvanklik so voortgegaan, want nie alle verandering is altyd goed nie. Ons wou die program stabiel hou en nie die luisteraars vervreem nie. Dit was nog altyd ’n veilige plek om te kom luister en pitkos weg te neem.

“Die naam het verander en die gesig en stem, maar nie die gevoel wat ek by die luisteraars wou los nie. Ek wou hê hulle moes gekoester voel in hulle menswees en ek wou hulle siele voed – met deernis, maar ook met hope humor. Mettertyd het ek en my span ons eie stempel begin afdruk en ek is vandag trots dat my harde werk beloon word met positiewe terugvoer. Ons luisteraarsgroep is divers en dit bly ’n uitdaging om almal se smaak te bevredig, maar ons probeer elke dag om die deur oop te maak na ander kennis en inligting; om saadjies in mense se lewens te saai en te hoop dit maak ’n verskil.”
Jy moes leer om “nee” te sê, want jy beskou jouself as ’n people’s pleaser.
Is dit steeds vir jou moeilik?
Eloise lag heerlik. “Van geboorte af … en ek sukkel nog steeds. Ek was nie altyd gewild op skool nie en dis nie lekker om negatiewe kommentaar te hoor nie, veral omdat die bedryf so subjektief is. Dit kom dus uit vrees dat ’n mens nie gaan inpas nie. Maar op ’n dag het ek besef dat ek nog my lewe lank oorleef het sonder om in te pas – dis juis die eienskap wat my uniek maak. Dis wie ek is. Ek moes dus grense stel sodat ek nie meer uitgebuit word nie. Ek moes leer wie my ware vriende is. Ek moes die sluise as’t ware toemaak. En ja, ek het heelwat ‘vriende’ verloor in die proses, maar vir my eie oorlewing moes ek leer dis oukei om ‘nee’ te sê. Ek hou nie van konflik nie, maar omdat ek respek het vir myself en balans moet behou, is dit belangrik dat ek leer om ‘nee’ sê. En ek hoef nie te verduidelik hoekom nie. Ek besef dit is belangrik vir my geestes- en fisieke gesondheid. Maar glo my, ek is nog lank nie daar nie, maar leer elke dag.”
Jy is baie besig. Hoe hou jy al die balle in die lug?
Eloise erken dadelik dat sy beslis nie al die balle in die lug hou nie en dat haar seun al dikwels die enigste kind was wat nog by die nasorgsentrum wag omdat sy laat opdaag. “As vryskut is dit moeilik om ‘nee’ te sê, en ons werk naweke en in die aand. Ek het egter besef my kind het my nodig en dit is my taak om die fondasie vir sy lewe te lê. Ek moes dus begin prioritiseer. Niemand behalwe my kind gaan onthou dat ek laat gewerk het nie. Moderne mawees en ouerskap is ’n slagveld en sonder familie naby is dit rof. Maar ek het geleer om nie my lewe met ander te vergelyk nie. Ek aanvaar die seisoen waarin ek is en het vrede daarmee. Dit is belangrik dat ek gesond moet wees om my kind te laat groei.”
Wat leer jy jou seun?
“Eerlikheid. Goeie maniere en goeie gedrag.
Respek vir ander.”
“My seun is emosioneel sterk, weet waarvan hy hou en kan sy gevoelens duidelik weergee. Daarom gee ek hom die keuse oor wat hy aantrek en eet. Hy is ook sosiaal en baie lief vir mense. Nie almal verstaan altyd so ’n groot persoonlikheid nie, maar ek probeer om hom groot te maak sonder hang ups. Hy moet weet hoe dit lyk om foute te maak, op te staan en om verskoning te vra. Daarom is dit vir my belangrik om hom met liefde groot te maak en hom te verseker dat hy geliefd is. Hy moet weet sy veilige plek is by my. Hy hoef nooit my liefde te verdien nie – dis onvoorwaardelik.”

Hoe ontspan jy?
Eloise lag te lekker, want om te ontspan is nie juis op haar agenda nie. “Ek slaap – as ek natuurlik kan met ’n agtjarige in die huis. Lees – ek lees alles, maar is ’n romcom fan – iets wat ek sommer vinnig kan lees. Ek is ook mal oor kosmaak en eet. Eintlik is ek ’n private huishen. Ek hou van goed vier en wil in die toekoms meer tyd maak daarvoor.”
Om vakansie te hou, is ook nie iets wat sy sommer doen nie. “The curse of the freelancer!” lag sy. Sy besef egter dat sy daardie vrees om nie werk te hê nie, moet laat gaan. As sy dit kan regkry om met vakansie te gaan, sal dit êrens rustig wees – waar daar nie baie ander mense is nie. “Maar ek moet dit nog uitfigure.”
Wat is vir jou belangrik in die lewe?
Eloise sê dat mense haar passie is. Sy glo haar funksie op die planeet is om liggies in ander mense aan te skakel. Daarom is dit vir haar lekker om ander te komplimenteer. “Ek beskou myself as God se voerbuis. Om getrou te bly aan die Woord. As ek nie meer hier is nie wil ek hê mense moet onthou dat hulle vir my saak gemaak het. Ek gee nie om vir mense se titels nie. Ek gee om vir hulle as mense. Dis vir my belangrik hoe ons ander behandel. Ek wil die mens wees wat ander toelaat om hulleself te wees en hulle aanmoedig om hulle drome voluit na te jaag.”
Wat maak jou gelukkig?
Die lys is lank, maar kos en lekker eet bly boaan. En dan haar kosbare kind.
“Ek is so gelukkig om sy ma te wees.”
Nog iets wat haar gelukkig maak, is goeie vriende – daardie mense in haar lewe wat vir haar spasie hou al kom sy nie altyd by hulle uit nie. Eloise sê dat haar batterye direk deur God gelaai word. Sy leef in oordaad en besef dat sy dalk “te” is, maar al luister sy steur sy haar nie daaraan nie. “Ek keer maar altyd terug na die mens wat God my gemaak het om te wees.” Sy geniet ook Zumba en erken sy ry agter instrukteurs aan wat goeie klasse aanbied. “Ek’s versot op die musiek, kultuur en hoe ek voel as ek dans.”
Wat beteken Afrikaans vir jou?
“Ek is absoluut versot op Afrikaans. Ek droom in Afrikaans en wil myself in die taal indompel. Afrikaans is vir my sensueel en ek wil al my sintuie gebruik om die taal vas te lê. Dis die taal van my hart, my ma se taal – die taal wat ek met moedersmelk ingekry het.
Die taal wat soos gladde klippe van my tong afrol en in ’n poel water val, waar dit uitkring na ander wat ek daarmee kan aanraak.
“Afrikaans is vir my soos ’n vrou wat arms wawyd staan en allerhande tale vat – ’n stukkie hier, ’n stukkie daar, hier los, daar los, omarm, inneem, uitsit, iets anders weergee, ’n ander woord skep, altyd aan die gang en aan die beweeg … en aan die ontwikkel. En natuurlik: Afrikaans betaal ook my rekeninge, want ek werk daarin,” glimlag sy.
“Ek het soveel respek vir my taal. Daarom praat ek graag soos my mense by die huis praat – ons rol ons r’e – maar omdat kommunikasie my taal is, verander ek bietjie my aksent as ek oor die radio praat sodat meer mense my kan hoor. Tog laat ek my komvandaan soms deurskemer, want ek is so trots daarop. Wanneer mense my sien en hoor, wil ek net myself wees – onbeskaamd Eloise.”
Beskryf jouself in ’n paar woorde.
Sy lag oor die “paar woorde”, maar noem dan dat sy lojaal, betroubaar, liefdevol, amper te gulharitg, en loud is. Sit daarby kleurvol, vol energie, passievol … en jy is amper daar. “Ek loop oor van liefde vir mense, my kind en my Skepper. Ek werk nog aan die liefde vir myself-ding. Ek probeer werklik so eg en eerlik moontlik te wees en is konstant aan die groei en leer. Ag, ek is sommer net mal oor alles wat my volwaardig vrou maak.”
En dit is Eloise in ’n groterige neutedop. Sy is veelsydig, uitgesproke, outentiek, soms “te…”, maar saam met haar kan jy berge versit en sommer heelwat pret hê in die proses.








