Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Ons almal ken waarskynlik ’n “moeilike” tiener wat verkies om alleentyd agter ’n toe kamerdeur te hê. Hulle noem dit “privaatheid” en wee jou as jy dit skend! Dikwels is dit sosiale druk, hormone en dies meer wat daartoe aanleiding gee. So ’n tiener is ook nie altyd in ’n slegte bui nie en al is jy ook hoe lief vir hom of haar, is dit soms maar ’n uitdaging om van hom of haar te hou. Dit is egter die tiener met ‘n lae selfbeeld wat ons aandag vereis. Daardie jongmens wat twyfel in sy eie vermoëns en in sy dop gekruip is, wat emosioneel afgestomp is, moeilik vriende maak, ongemotiveerd is en bang is om homself in die verleentheid te stel of te misluk. Hy voel eenvoudig net nie goed genoeg nie en sy selfvertroue is op ’n laagtepunt.
Dit is belangrik dat tieners ’n goeie selfbeeld en selfwaarde moet hê, want dit vorm die grondslag vir hulle selfbeeld as volwassenes – wanneer dit belangrik is om selfvertroue te hê om risiko’s te neem en nuwe moontlikhede te ondersoek en nie te verval in negatiwiteit nie.
Afrikaans.com wil graag bewusmaking skep oor hierdie belangrike kwessie wat tot soveel probleme – dikwels ook op die lang termyn – aanleiding kan gee. In die artikel noem ons kortliks wat so ’n lae selfbeeld kan veroorsaak, gee ’n paar wenke oor wat jou tiener kan doen om beter oor homself te voel en gee jou as ouer raad oor hoe jy dit kan benader.
Wat veroorsaak ’n lae selfbeeld?
Wat dit ook al is wat die tiener se selfbeeld beïnvloed en hom minderwaardig laat voel, hy sal waarskynlik altyd homself die skuld gee en dink dit is iets wat hy doen of gedoen het wat die situasie veroorsaak. Daar is baie oorsake, maar hier is so ’n paar:
- Probleme binne gesinsverband.
- Ouers met ’n outoritêre opvoedingstyl (“My woord is wet en basta met die res!”)
- Swak prestasie op skool.
- Slagoffer van boeliery.
- Voorkoms: dalk oorgewig of te maer, nie lank genoeg nie of te lank, velprobleme.
- Voel uit plek uit binne ’n bepaalde groep.
- Gebrek aan ouerondersteuning in besluitneming.
- Sosiale media wat daartoe lei dat die tiener homself vergelyk met ander, of kommentaar en terugvoer op plasings wat sy selfvertoue knak.
- Die tiener se stem van sy gewete (“inner voice”) wat tot negatiewe gedagtes lei en hom net laat fokus op sy sogenaamde mislukkings en nie sy prestasies nie.
Op die lang termyn kan ’n lae selfbeeld onder meer lei tot angstigheid, paniekaanvalle, verhoudingsprobleme, alkohol- of dwelmmisbruik, depressie en toksiese vriendskappe.
Hier is vyf oefeninge wat jou tiener kan probeer om sy selfbeeld te verbeter en sy selfvertroue ’n hupstoot te gee:
1) Positiewe bevestigingsdag (“affirmation day”) een keer per week.
Doen dit so …
- Gee jou tiener opdrag om op daardie dag net positiewe dinge te sê en te dink oor homself.
- As gesinslede moet julle hierdie positiewe dinge en denke bevestig. Hy voel dalk positief oor sy vermoë om mooi te teken. Bevestig dit as julle saamstem en sê hoe trots julle op hom is. Dit moet egter realisties en eerlik wees. Moenie krediet gee vir iets wat dit nie verdien nie.
- Moedig jou tiener aan om ’n joernaal te hou waarin hy net die positiewe in sy lewe neerskryf. Jy as ouer kan dieselfde doen.
- Begin die dag op hierdie positiewe noot.
Wat leer jou tiener hieruit?
Hy kom skielik agter dat daar heelwat dinge is waarin hy goed is en dat ander mense daarmee saamstem.
2) Positiewe doelwitte-dagboek
Doen dit so …
- Verdeel die aktiwiteit in twee afdelings:
- Stel van doelwitte en
- Hindernisse en strategieë.
- Onder die eerste afdeling: Vra jou tiener om sy doelwitte vir die volgende paar dae, volgende maand, na ‘n jaar en vir die volgende vyf jaar neer te skryf.
- In die tweede afdeling: Vra jou tiener om neer te skryf hoe hy beplan om hierdie doelwitte te bereik en watter moontlike probleme hy voorsien.
- Sodra jou tiener sy doelwitte behaal het, kan hy sy selfbeeldprestasies ook in die dagboek aanteken.
Wat leer jou tiener hieruit?
Hy leer dat om doelwitte te stel, planne en strategieë te beraam om hierdie doelwitte te bereik, hom in staat stel om sy doel en nut in die lewe te bepaal.

3) Skryf mislukkings of foute neer in ’n boek
Doen dit so …
- Vra jou tiener om sy mislukkings of foute uit die verlede en wat hom die meeste geraak het, neer te skryf.
- Hy moet ook terselfdertyd die redes neerskryf wat volgens hom tot die mislukkings kon aanleiding gee.
- Moedig hom daarna aan om met oplossings vorendag te kom om soortgelyke probleme in die toekoms te vermy.
Wat leer jou tiener hieruit?
Hy leer dat mislukkings deel van die lewe is en dat daardie foute of mislukkings hom kan help om dinge anders te doen sodat hy in die toekoms meer sukses kan behaal. Hy leer dus uit sy foute. Dit onderdruk die negatiewe gevoelens en dra by tot ’n meer positiewe selfbeeld.
4) Positiewe woord van die dag
Doen dit so …
- Vra jou tiener om met ’n positiewe woord vorendag te kom, maar wat verband hou met een goeie optrede/aksie wat hy daardie dag vermag het. Byvoorbeeld: Hy het sy pa gehelp grassny. Sy woord van die dag kan dan “behulpsaam” wees.
Wat leer jou tiener hieruit?
Dit leer jou tiener dat hy baie goeie kwaliteite het en dat hy in staat is om dinge te doen wat deur ander bewonder en waardeer word.

5) Staan voor die spieël en kyk na jou liggaamsbeeld en lyftaal
Doen dit so …
- Vra jou tiener om voor die spieël te staan en drie dinge oor homself te noem waarvan hy hou of wat vir hom aantreklik/mooi is.
- Hierdie oefening moet gereeld herhaal word. Dit raak geleidelik makliker met beter resultate.
- Terwyl voor die spieël, laat hy sommer kyk na sy lyftaal wanneer hy aan iets negatief dink. Vra hom nou om die negatiewe gedagte met ’n positiewe gedagte te vervang en dan weer na sy lyftaal te kyk.
- Vra hom om die verskille in lyftaal tussen die positiewe en negatiewe denke neer te skryf.
- Praat oor die veranderinge wat selfversekerdheid kan teweegbring.
Wat leer jou tiener hieruit?
Die tiener met liggaamsbeeldprobleme leer om homself te waardeer, gemaklik in sy eie vel te voel en op te hou om sy selfwaarde en bevestiging by ander te soek. Mettertyd sal hy leer om sy liggaam te waardeer en ontslae raak van sy negatiewe beeld en gedagtes oor sy liggaam. Dit lei ook tot selfpersepsie en hy leer om lyftaal in te span om ander se indrukke oor hom te verander.
Wat jy kan doen om jou tiener se selfbeeld te verbeter
- Wys jou tiener jy is onvoorwaardelik lief vir hom. Jou liefde berus nie op prestasie, skoolpunte, vriende of gedrag nie. Hy sal steeds foute maak, slegte dae beleef en redekawel. Dit beteken egter nie dat jy jou deur jou tiener laat misbruik nie, maar stel dit duidelik dat jy hom liefhet – ongeag.
- Aanmoediging. Tieners het gewoonlik vasgestelde idees oor wie hulle is en wat hulle kan doen. Help jou tiener om nie beperkinge op homself te stel nie. Moedig hom aan om te groei en bevestig dit as hy vordering maak. Hulle moet besef daar is altyd ruimte vir groei en om te verbeter.
- Laat ruimte vir mislukking. Niemand is perfek nie en jy kan nie van jou tiener verwag om altyd perfek te wees nie. As jou tiener ’n fout maak, is dit belangrik om hom nie bloot net te kritiseer, tereg te wys of ontsteld op te tree nie, want hy kan vinnig voel daar is nie hoop op verbetering nie en dat jy nie vir hom lief sal wees as hy nie perfek is nie. Bly daarom kalm en praat met jou tiener. Vra liewer:
- Waar het dinge verkeerd geloop?
- Wat het jou besluit beïnvloed?
- Wat het jy daaruit geleer?
- Hoe gaan jy positief aanbeweeg?
- Jou tiener word voortdurend blootgestel aan druk by die skool en van vriende en dit bring nuwe uitdagings en emosies na vore. Verseker hom dit is normaal. Om sy selfvertroue en selfbeeld te bou kan jy hom bystaan om belangrike besluite te neem oor vriende en sy stand in sy sosiale kring. Stel hom gerus dat dit oukei is om toksiese vriendskappe te beëindig of om ’n aktiwiteit bo ’n verhouding te kies. Hy moet weet dat dit soms nodig sal wees om moeilike besluite te neem. Dis deel van grootword.

- Selfgeldende optrede. Tieners ken nie altyd die verskil tussen selfgeldende, passiewe en aggressiewe kommunikasie nie. Leer jou tiener dat sy stemtoon kommunikasie kan beïnvloed en dat selfs lyftaal en nieverbale tekens impak kan hê. Deur selfgeldend op te tree, leer jou tiener om op ’n direkte maar eerlike wyse te kommunikeer sonder om ander se gevoelens seer te maak.
- Ongevraagde raad. Leer om minder raad te gee al is dit moeilik. Om altyd tot jou tiener se redding te kom en sy probleme namens hom op te los, help hom nie werklik nie. Hy moet leer om vir homself te dink, met oplossings vorendag te kom en sy eie probleme op te los. Dit is juis dan wanneer sy selfvertroue ’n hupstoot kry. Dit beteken nie jy los hom om heeltemal op sy eie reg te kom nie; jy kan nog altyd daar wees en leiding van die kantlyn af gee.
- Stel die voorbeeld. Weet dat jy fyn dopgehou word. Wat jy sê, hoe jy optree, wat jy oor jouself kwytraak, en of jou geluk van ander afhang, jou tiener sien dit raak. Wees daarom eerlik oor jou optrede en verseker hom jy werk aan jou eie tekortkominge. Dit spoor hom aan om ook na sy eie optrede te kyk.
- Die voordeel van positiwiteit. Moedig jou tiener aan om homself te omring met mense/vriende wat hom aanmoedig, ondersteun en in hom glo. Mense wat die lewe met ’n postiewe gesindheid benader. Op dié manier verbeter sy selfwaarde en voel hy geborge. Hy voel dat ander hom verstaan en vir hom omgee en dit lei tot ’n gesonder selfbeeld.
’n Laaste gedagte
Soms is dit beter om die hulp van ’n kundige in te roep en jou tiener vir berading te neem om sy selfvertroue en selfbeeld te verbeter. Jy as ouer kan as mentor optree en jou tiener verseker dat jy altyd daar is vir hom. Leer hom deur jou voorbeeld om lief te wees vir homself en diegene rondom hom. As jy hom kan leer om in homself en sy vermoëns te glo en dankbaar te wees vir dit wat hy het, kan dit hom help om uiteindelik te besef: “Ek is goed genoeg, want ek is genoeg!” Dalk makliker gesê as gedaan, maar nietemin moontlik.
Bron en lees meer: www.mumjunction.com







