Vir baie mense is ’n koolslaai sinoniem met fyngesnyde kool, gerasperde wortel, dalk ’n bietjie pynappel en ’n redelike hoeveelheid mayonnaise. In hierdie resep van Heleen Meyer is daar geen teken van mayonnaise nie. Die slaaisous het ’n lipafleklekker basis van sojasous en gemmer en is perfek saam met die vars bestanddele. Jy kan amper enige kombinasie van vars bestanddele gebruik. Selfs seldery of appel, nog soetrissie of klein spinasieblare kan gebruik word. Hou dit kleurvol en onthou dat die slaai die heel lekkerste is op die dag wat dit gemaak word.
Lewer 6 – 8 porsies
250 ml (1 k) fyngesnyde witkool
250 ml (1 k) fyngesnyde rooikool of nog witkool
1 groot wortel, grof gerasper
¼ pynappel, afgeskil en in dun wiggies gesny
¼ komkommer, in dun wiggies gesny
1 rooi of oranje soetrissie, ontpit en in repies gesny
’n handvol vars kruisementblare of koljanderblare
1 groot spinasieblaar, in repies gesny
30 ml (2 e) sesamsaad, gerooster
Slaaisous
45 ml (3 e) olyfolie
15 ml (1 e) sojasous
15 ml (1 e) appel- of rooiwynasyn
10 ml (2 t) heuning
15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
sout en peper
- Slaai: Meng al die slaaibestanddele, behalwe die sesamsaad, in ’n groot mengbak saam.
- Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en geur na smaak.
- Skink die slaaisous oor die vars bestanddele en meng goed deur. Sprinkel die sesamsaad oor en sit dadelik voor.
Resep deur Heleen Meyer | Fotograaf: Adel Ferreira







