Skrywer: Heidi Malan
Het jy al ooit probeer om jou tiener se aandag te kry terwyl hulle op hulle selfoon is – en net stilte, ’n gegrom of ’n vertraagde “Wag, wat?” terugkry? Dis nie jou verbeelding nie. Al hoe meer ouers, opvoeders en navorsers stel dieselfde vraag: Is ons tieners werklik verslaaf aan daardie aanhoudende blaai deur plasings op hul selfoon? Die kort antwoord? Ja – en wetenskaplike navorsing ondersteun dit.
Hoekom blaai so goed voel
Dit gaan oor dopamien, die chemiese breinstof verantwoordelik vir genot, motivering en beloning. Elke keer as jou tiener ’n nuwe plasing sien, ’n like ontvang, of ’n kort video kyk, kry hulle brein ’n klein inspuiting van dopamien. Hierdie oomblikke is onvoorspelbaar – soms is die inhoud snaaks, skokkend, of bevestigend, en soms nie. Daardie onvoorspelbaarheid lei tot ’n veranderlike beloningstelsel – dieselfde beginsel wat dobbelmasjiene so verslawend maak.
Kombineer dit nou met die eindelose geblaai – geen natuurlike afsnypunt nie, geen aanduidings om ’n ruskans te neem nie. Anders as ’n TV-program of ’n boek met ’n duidelike einde, is sosiale media ontwerp om eindeloos aan te hou … en aan te hou. Dit is nie net vermaak nie, dit is gedragskondisionering.
Die adolessente brein is veral kwesbaar
Tydens adolessensie ondergaan die brein ’n massiewe herbedrading of herstrukturering. Die prefrontale korteks (verantwoordelik vir selfbeheer en besluitneming) ontwikkel nog, terwyl die emosionele en beloningsentrums reeds hoogs aktief is. Dit maak tieners baie meer sensitief vir dopamien-gedrewe terugvoer en nog minder in staat om te onttrek.
Boonop kan oormatige skermgebruik inmeng met:
- Slaap (blou lig onderdruk melatonien)
- Gemoedsregulering (minder regte verbintenisse = meer angs en eensaamheid)
- Aandagspan (gefragmenteerd deur konstante wisseling)
Hierdie gevolge is nie net slegte gewoontes nie, dit is tekens van afhanklikheid.
Wat kan ouers doen?
Dit is waar ouerdoeltreffendheidsopleiding (Parent Effectiveness Training) so handig te pas kom en ’n benadering van verhouding voor reëls volg.
- Gebruik aktiewe luistermetodes (Active Listening)
Wanneer jou tiener sukkel om af te skakel en verdedigend optree, reageer met empatie – nie oplossings nie.
“Dit klink asof blaai (scrolling) jou help om af te skakel… maar dit laat jou ook ’n bietjie uitgeput voel?”
Dit bevestig hul ervaring sonder om die gedrag goed te praat.
- Gebruik Ek-boodskappe (I-Messages) in plaas van blameer
Vermy stellings soos “Jy is verslaaf aan daardie foon!” Beskryf eerder hoe hulle gedrag jou raak:
“Wanneer jy so laat op jou foon is, maak dit my regtig bekommerd. Jou gesondheid is vir my belangrik, maar ek voel ek het nie beheer daaroor nie.”
Dit hou die gesprek oop sonder konflik.
- Doen saam probleemoplossing
In plaas daarvan om eensydige skermtydreëls neer te lê, betrek jou tiener sodat julle saam ’n werkbare oplossing kan vind.
“Watter soort aandroetine sal jou help ontspan sonder op die hele tyd op jou selfoon te wees? Kan ons iets bedink wat vir ons albei werk?”
Wanneer tieners voel dat hulle gerespekteer en gehoor word, is hulle meer geneig om eienaarskap van hulle keuses te neem.
Slotgedagte
Dit is ’n feit – baie tieners is verslaaf aan blaai op hul selfoon, maar dit is nie ’n morele tekortkoming of ’n ouer wat in sy ouerskapstaak gefaal het nie. Dit is die gevolg van die verskuiwings op sovele vlakke, verwagtinge en ’n veranderende wêreld. Die antwoord lê nie in meer beheer nie, dit is gesetel in hegter verbintenisse. Deur gebruik te maak van die kommunikasievaardighede in ouerdoeltreffendheidsopleiding, kan ons die soort emosionele veiligheid skep waarbinne werklike verandering kan plaasvind – van binne na buite.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog op Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training se webtuiste, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.









