Persverklaring
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) kondig met trots die 2025-Kokerwenners aan – ’n uiteenlopende groep taalpraktisyns, opvoeders, skrywers, kultuuraktiviste, kunstenaars en jong rolmodelle wie se werk die veelsydigheid, kreatiwiteit en lewenskrag van Afrikaans bekragtig. Vanjaar se wenners vorm saam ’n indrukwekkende tapisserie van talent en toewyding wat Afrikaans se plek in die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap bevestig en versterk.
Die Kokertoekennings bekroon jaarliks mense wat uitsonderlike bydraes lewer tot die bevordering en beskerming van en bemagtiging deur Afrikaans asook uitnemendheid in onderwys, jeugleierskap en lewenslange diens aan die taal. Hierdie toekennings is nie net ’n viering van persoonlike prestasie nie, maar ook van die krag van gemeenskappe wat deur taal verbind en opgetel word.
Volgens dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, weerspieël vanjaar se wenners Afrikaans se groeiende inklusiwiteit, veerkragtigheid en is dit ’n bewys dat Afrikaans se hart wyd klop oor kultuurgrense en geografiese afstande heen:
“Afrikaans leef in sy mense – in hul stories, hul kreatiwiteit en hul moed om die taal op nuwe maniere te laat skyn. Dié wenners wys vir ons dat Afrikaans nie net ’n erfenis is nie, maar ’n kragtige instrument vir gemeenskapsbou en vernuwing.”
Hy beklemtoon dat die Kokers juis erkenning gee aan die mense wat agter die skerms werk: die mentors, die skrywers, die onderwysers, die organiseerders, die joernaliste en die storievertellers — dié wat elke dag help bou aan ’n inklusiewe en dinamiese Afrikaanse ekologie.
Die voormalige ATR-voorsitter, dr. Hendrik Theys, beklemtoon die waarde van die Kokers se rolspelers:
“Hierdie individue en organisasies is bakens in hul gemeenskappe. Hulle dra Afrikaans met oorgawe – nie om grense te trek nie, maar om brûe te bou.”
Vanjaar se Kokerwenners (2025)
Lewenslange bydrae:
Leon van Nierop
Die legendariese akteur, skrywer, vervaardiger en rolprentresensent word vereer vir ’n loopbaan wat oor dekades strek. Sy buitengewone bydrae tot Afrikaanse media, letterkunde, fliekgeskiedenis en uitsaaikuns het hom een van die invloedrykste stemme in Afrikaanse kultuur gemaak. Sy werk op RSG en kykNET, asook talle publikasies, dramas en rubrieke, vorm ’n kosbare nalatenskap.

Lewenslange bydrae:
Dr. Fanie Marais (Cordis Trust)
Dr. Marais word vereer vir sy deernisgedrewe werk deur Cordis Trust, met beklemtoning van woordkuns, jeugontwikkeling, geestelike projekte en die bevordering van Afrikaanse kreatiwiteit. Die trust het oor dekades heen talent, skrywerskap en kultuurontwikkeling ondersteun en versnel.

Bevordering van Afrikaans:
Bohemia Hoffmeester-Jumatt
Bekroonde joernalis en skrywer wat Afrikaaps en gemeenskapsverhale in die media laat skitter. Haar verslaggewing het onmeetbare impak op lesersgemeenskappe en taalgebruik, veral op die Kaapse Vlakte. Bohemia meen dat haar grootwordjare in haar oorlede grootouers se huis, ’n groot invloed op haar liefde vir Afrikaans uitgeoefen het. “Daar was geen rykdom of prag of praal by my ouma se woning nie, maar Afrikaans het ons bymekaargebring en gelukkig gemaak.”

Beskerming van Afrikaans:
Marion Erskine
Stigter van die invloedryke Lekkerleesboekrak — die grootste Afrikaanse boekgroep op sosiale media. Hy skep ’n unieke ruimte waar lesers, skrywers en uitgewers direk met mekaar kan skakel en Afrikaans se literêre gemeenskap versterk. Al woon Marion al 23 jaar in die verre Frankryk, het hy nooit sy taal gelos nie — Marion maak Afrikaans relevant én hoorbaar, selfs uit Frankryk.

Bemagtiging deur Afrikaans:
Stefaans Coetzee
Organiseerder van die Sanctuary/Klerksdorp Boekefees, slypskole en skrywersprojekte. Hy ontwikkel nuwe stemme, bevorder literêre kruisbestuiwing en skep platforms waar skrywers van alle vlakke tot hul reg kom.

Beste Onderwyser:
Edwina Solomons
’n Uitstaande Afrikaansonderwyser wat die taal modern, kreatief en relevant maak deur tegnologie, poësie, kultuuraktiwiteite en leerlingbemagtiging. Haar dinamiese benadering skep trots en selfvertroue by haar leerders.
“Ek verbind in my klas,” sê Edwina. “Ek bou hierdie brug tussen identiteit, die kind en taal. Hierdie beroep is my alles.”

Jeugtoekennings
Sumayyah Petersen
Afrikaansonderwyser, gemeenskapsaktivis en bekende jong stem wat Afrikaans as taal van trots, identiteit en sosiale geregtigheid bevorder. Gereeld beskryf as die “Godmother van Afrikaans”.
Sumayyah meen Afrikaans is veel meer as die bokse waarin mense dit soms probeer druk. “Afrikaans leef in casino’s waar mense lag en hul drome waag, dit leef in kerke waar stemme saamfluister en -sing, dit leef in moskees waar gebede sag oor lippe spoel. Afrikaans loop kaalvoet deur dorpe en dra hoëhakskoene in stede.” Sy sê Afrikaans se hart klop vir almal. “Ons taal is ’n mosaïek gebou deur baie hande, met baie historiese paaie, baie seer en baie hoop. Juis daarom is dit sterk, is dit waardig en het dit ’n toekoms.”

Geralt Cloete
SAFTA-bekroonde akteur, regisseur en teatermaker wat die Nama Khoi-gemeenskappe, inheemse kennis en Nama-Afrikaans bevorder. ’n Rolmodel vir jong kunstenaars.
“As Nama wat Afrikaans as huistaal praat, dra ek ’n dubbele erfenis – van Afrikaans en Nama. Vandag gebruik ek Afrikaans as teatermaker om ons te help om nie net Afrikaans te bevorder nie, maar ook om Namataal te bevorder en te ontwikkel.
“Hierdie Koker herinner ons dat elke woord, elke storie en elke handeling ’n impak het. Dat taal nie net ‘n manier is om te kommunikeer nie, maar ’n manier is om te genees, te bou en saam te bring. Mag hierdie Koker my aanmoedig om nog harder te werk, meer stories te vertel en ons mense se stemme te laat klink in Afrikaans en in Nama.”

Chrislynn Sias-Louw
’n Multimedia-storiemaker wat Afrikaans op TV, radio, drukmedia en digitale platforms tot lewe bring. Met groot deernis en kreatiwiteit bring sy die stories van gewone mense na vore — mense wie se stemme andersins dikwels stil sal wees.
“Dis lekker om te weet die werk wat jy doen en die bydrae wat jy maak tot die taal, word raakgesien – dit maak saak. Hierdie toekenning is nie net vir my nie. Dis vir alle bruin kinders wat lyk soos ek, wat klink soos ek en wat leef soos ek leef. Die toekenning is ook vir mense wat werk in Afrikaans, wat leef in Afrikaans, wat bid in Afrikaans en wat liefhet in Afrikaans. Dis lekker om te skep in ’n taal waarin jy leef, ’n taal waarin jy voel, en ’n taal waarin jy bid.”

Erepenning:
Anschen Conradie
Een van Suid-Afrika se mees toegewyde boekfluisteraars (iemand wat boeke aanbeveel). Sy lees, bespreek en resenseer byna daagliks boeke in alle genres. Haar gewilde #uitdieperdsebek-top-5 video’s en resensiewerk skep ongeëwenaarde leesbevordering in Afrikaans.
“Afrikaans was my konstante metgesel deur my lewe en dit is hoekom Afrikaans, tot nou toe, vir my belangrik is.”

Die ATR bedank al die wenners vir hul merkwaardige werk en hul volgehoue toewyding aan Afrikaans – ’n taal wat groei, vernuwe en verbind.







