Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Anchen van Dyk presteer en inspireer ten spyte van sistiese fibrose.
So dikwels aanvaar ons dinge vanselfsprekend, dink nie twee keer daaroor nie – dit kom sommer vanself. Soos om asem te haal, ’n ent te hardloop sonder om te snak na asem, trappe te klim sonder om kortasem te raak. Tog is daar diegene wat elke dag moet dink oor hulle volgende asemteug. Mense soos Anchen van Dyk, wat op 3 maande oud met sistiese fibrose gediagnoseer is en tot op die ouderdom van 23, toe sy ’n dubbele longoorplanting gekry het, elke dag moes veg om oorlewing. Dramaties? Nie regtig nie. Afrikaans.com het met Anchen gesels oor haar jarelange saamleef met sistiese fibrose. Lees gerus oor haar ervaring en hoe sy ten spyte daarvan steeds presteer en inspireer en elke dag ten volle leef.
Anchen vertel dat haar grootwordjare oorheers is deur hospitale en IV’s.
“Dit is my grootste herinnering. Laerskoolonnies wat my skoolwerk hospitaal toe bring, en ek wat toets skryf in die hospitaal. ’n Juffrou soos Beulah Coetzee-Cummings wat altyd gesorg het dat ek niks misloop nie.”
“My punte is soms aangepas, maar ek was so vasbeslote dat ek altyd dieselfde as al die ander kinders behandel moet word, dat ek my bes gedoen het om by te bly. Soms het hulle my vir die dag uit die hospitaal laat gaan om te gaan eksamen skryf! Ek onthou ook dat ek sulke knit one, slip one-klasfoto’s gehad het, want ek was nie altyd daar op fotodag nie.”
Nog ’n staaltjie uit haar laerskooldae gaan oor die Creon-ensieme wat sy moes drink om haar pankreas te help om kos te verteer. “Ek kon nie die pil sluk nie en my ma het dit oopgebreek en in ’n houertjie gegooi. Ek is deur die ander kinders gespot oor die voëltjiesaad wat ek moes drink. Nou ja – dit het gemaak dat ek baie vinnig en tot vandag toe pille soos ’n regte junkie kan sluk. Sommer ’n handvol op ’n slag!
“Sistiese fibrose gee jou ook clubbing-vingers – dis wanneer die vingerpunte vergroot en die naels skuins af en gerond loop – en die kinders het my hieroor ook gespot en gesê dit lyk soos gloeilampe! Ek het dus tot vandag toe ’n kompleks daaroor, maar het darem nie permanente letsels oorgehou daarvan nie,” lag sy.
Anchen sê dat sy baie liefde en ondersteuning gekry het, maar finansieel en emosioneel het haar gesin swaar getrek en soos sy sê haar ma moes altyd saamleef met ’n swaard oor haar kop, want die dokters het gesê sy sou nie baie oud word nie. Maar, soos wat ’n mens dadelik agterkom van hierdie jong vrou, is dat opgee nie ’n opsie is nie. Anchen glimlag en sê met ’n tikkie trots: “My ma sê ek is haar rolmodel, want ek is veerkragtig, is ’n aanhouer en het uithouvermoë wat sy nooit sal hê nie.”
Tot op 17-jarige ouderdom het sy altyd in Panorama Medikliniek gelê waar sy haar hospitaalkamer soos haar eie kamer ingerig het, “met my eie kussing, eie nebuliser – alles om dit vir my so normaal as moontlik te laat voel. Die verpleegpersoneel het my so goed behandel en ek het deur die jare met van hulle kontak op Facebook behou.”
Op skool het sy aan alles moontlik probeer deelneem, maar het uiteindelik besluit om net op drama te fokus omdat sy gevoel het sy hou die sportspanne terug. Dit is op die verhoog dat sy haar plek gevind het. “Dit was ook moeilik vir iemand soos ek, maar ek het dit verskriklik geniet en aan alles deelgeneem.”
Na skool wou sy graag arbeidsterapeut word, maar is nie gekeur nie. Natuurlik het hierdie vasbyter haar nie laat onderkry nie en het sy besluit om uiting te gee aan haar ander groot passie, velsorg. “Ek het ’n drie jaar lange kursus by Camelot International gevolg – en dit was die moeilikste tyd van my lewe. Ek was siek, ek moes swot en moes boonop 300 ure prakties aflê. Ek onthou goed hoe ek die meeste oggende vyfuur moes opstaan, my behandeling doen (nebulise), regmaak vir kollege, in die kar klim en dan letterlik moes uithou en aanhang tot twee- of vieruur in die middag sodat ek by die huis kon kom en weer kon nebulise. Teen die tyd wat ek by die huis gekom het, het ek gehyg na asem en kon ek nie wag om net weer asem te kan kry nie.” Afgesien daarvan het Anchen goed gedoen in haar kursus, “want dit was en is my passie”.

Hoe Anchen self haar IV toegedien het
Anchen vertel ook heel terloops dat sy toe sy ouer geraak het, self haar behandeling en medikasie oorgeneem het.
“Ek het die IV’s met die infusiepomp self gedoen, het geswot en gewerk met my IV’s – alles self gemeng en altyd my wekker gestel vir al die dosisse. Ek wou altyd alles self doen en wou nie my ma daarmee pla nie. Sy was ’n enkelouer en het baie hard gewerk.”
Die kliniek waar Anchen haar prakties gedoen het, het aan een van haar dosente by Camelot behoort en sy het haar toegelaat om haar eie kliënte daar te behandel. “Ek het dus toe reeds my eie besigheid op klein skaal begin. En dit het goed gegaan, maar ek moes ’n manier vind om meer geld te verdien, want my mediese onkoste was baie hoog en ek wou dit self betaal. Daarom het ek aanhou werk soek, want dit was my droom om my eie estetiese velsorg-kliniek te hê. Ek het werk gekry by ’n kliniek, maar hoewel ek baie daar geleer het, het ek net opnuut besef ek moet my eie besigheid begin.
“In 2020 het ek ingeskryf by Isa Carstens om my vierde jaar deeltyds te doen. En toe … covid! Die dokter by wie ek gewerk het, het gevoel ek is ’n hoërisikogeval en kon sy kliënte aansteek. Ek moes dus ophou werk en het besluit om sy afleggingspakket te aanvaar.”
Anchen vertel dat sy toe moes plan maak. ’n Goeie vriendin en self ook iemand wat ’n longoorplanting gehad het, se man het aangebied om die geld voor te skiet om haar eie estetiese velsorgkliniek – midde-in die pandemie – oop te maak.
“Dit was die mees irrasionele, spontane, ondeurdagte besluit van my lewe! Maar … dit was die beste ding wat nog ooit gebeur het en na ’n jaar kon ek hom uitkoop sodat ek my eie ding kon doen.”
Anchen lag en sê dat die hele ding eintlik so tipies is van hoe sy haar lewe lei. “Ek sal nooit vir enige iets ‘nee’ sê nie. Ek doen altyd alles voordat ek dit heeltemal deurdink het. En dan spring ek pens en pootjies daarin en ‘fake it till I make it’!” Sy dink so bietjie … en sê dan: ”Ek dink dis omdat ek altyd daardie gedagte in my kop het dat my lewe kort is, so ek is bang ek loop iets mis wat ongelooflik kon wees net omdat ek dalk te bang was om te waag.” Vandag is Anchen se velsorgkliniek, Bespoke Skin Solutions, reeds vyf jaar aan die gang en “is dit my trots en die rede om elke dag op te staan en op te daag. Daar is niks waaraan ek harder werk as my besigheid nie en om aan die lewe te bly!”

Haar hondjie lê elke dag so by haar kliënte.
Die keerpunt
Anchen was 22 toe haar pad met die van dr Greg by UCT Private Academic-hospitaal gekruis het. Dit is hier waar sy vir die eerste keer werklik besef het: “Ek is flippen siek, dit maak nie saak hoe ek daaroor dink nie en hoeveel ek die feit ontken nie!”
Op daardie stadium was haar longfunksie ’n skamele 27% – ver onder die gemiddelde om in aanmerking vir ’n oorplanting te kom – en kon dr Greg nie glo dat sy nog lewe nie en ’n redelik “normale” leefstyl handhaaf nie.
“Ek was ontsteld, maar tog ook hoopvol om te dink dat daar dalk ’n beter lewe is as die een wat ek op daardie stadium gehad het.”
“Ek was ook nie op die standaard protokol vir sistiese fibrose nie en was daar nog heelwat medikasie waarop ek nie was nie. Ons het toe besluit om dit te probeer, maar as dit na ’n jaar nie suksesvol is nie, sou ek op die lys vir ’n dubbele longoorplanting geplaas word.”
Anchen sê dat haar optimisme haar deurgedra het, want sy glo daar is niks in die lewe wat sy nie kan doen nie. Na ’n jaar het ’n baie siek Anchen toe die besluit geneem om voort te gaan met die operasie, want sy het die dokter vertrou en soos hy tereg gesê het: “Jy lewe, maar jy bestaan net. Jou gehalte van lewe is nie die van ’n jong mens nie.”
Sy was 23 jaar oud.

Die aantal pille wat Anchen daagliks neem
Die operasie
Anchen sê sy moet hard dink daaroor, want haar brein het die trauma geblok, maar daar was pyn en ongemak.
Sy sê egter sonder huiwering dat dit die beste besluit van haar lewe was.
Wat sy wel onthou is dat sy op die operasietafel gelê het en daar ’n Juan Boucher-liedjie gespeel het. “Toe ek wakker word, kon ek beslis nie diep asemhaal nie – nie soos wat ’n mens in die flieks sien nie,” lag sy, “maar dit was seer en ek het gefluister, want my borskas het swaar gevoel. Daar was ook baie slym. Na so ’n operasie moet ’n mens ook so gou moontlik opstaan en beweeg. Die verpleegpersoneel het gedink ek is soos altyd oordramaties toe ek sê dat ek nie kon asemhaal nie, maar hulle het gou besef my een long het platgeval as gevolg van ’n mukusprop. Ek is toe geïntubeer en die prop is onder plaaslike verdowing uitgesuig. Maar dit was die enigste komplikasie wat daar was.”
Met haar ontslag het die dokter vir haar gesê sy is nou ’n professionele oorplantingspasiënt.
Haar dag was skielik gestruktureer en dit was ’n geval van opstaan in die oggend, pille drink, gaan stap, iets eet, weer stap, en weer oefen en rehabilitasie doen, en iets eet, weer stap en pille drink. “En dis wat ek gedoen het – twee maande lank en by die huis!”
Dié aanhouer laat haar egter nie terughou nie en so bietjie meer as twee maande na haar operasie het sy haar eerste parkrun in Hermanus gehardloop. Sy lag en vertel dat die 5 km haar ’n uur lank geneem het, “maar ek het dit gedoen!” Dis nie waar dit opgehou het nie. “Ek het daardie week ook ’n dagstap aangedurf. Ek het net skielik ’n lus vir die lewe gekry en wou net meer en meer doen. Ek was ’n nuwe mens! Ek het alles met oorgawe aangepak. Ek moet darem net erken, ek was gelukkig om min komplikasies te hê en ek het hard gewerk aan my rehabilitasie, het gereeld oefeninge gedoen, fisio gehad, en gestap, want ek wou net so gou en vinnig as moontlik op ’n plek kom waar ek nie meer ’n ‘pasiënt’ was nie.”

Grootste uitdaging na oorplanting
Anchen vertel dat sy ongeveer twee jaar lank nie heeltemal tuis in haar eie liggaam gevoel het nie. “Ek moes aan al die medikasie gewoond raak, en die newe-effekte was nie altyd lekker nie. Die kortisoon veral het my manies gemaak. Ek het ook baie gewig opgetel. Ek het gevoel ek moes nog aanpas by hierdie ‘nuwe’ liggaam van my. My longe het altyd soos my eie gevoel, maar ek het ook geweet ek moet na hulle kyk.
Wat was die grootste verandering in jou lewe na die oorplanting?
“Ek kan letterlik enigiets op aarde doen! Daar is amper niks (darem binne perke) wat ek nie mag doen nie, maar ek moet my pille drink. En o ja, ek mag nie pomelo’s eet en dry lemon en tonic drink nie. En tegnies mag ek ook nie sushi en biltong eet nie omdat dit lewendige bakterieë bevat.
“Deesdae mag oorplantingspasiënte nie voor ’n jaar na die operasie begin draf nie, maar destyds was dit nog nie op my van toepassing nie. Ek moes net versigtig wees met my litteken vir moontlike infeksie. En ek moes wag vir ’n tatoe – hieroor was my dokter baie streng – want daar is ’n hoë risiko vir infeksie. Oor die algemeen het ons maar die grense so liggies verskuif en het ek gewoonlik eers daarna vir die dokter daarvan gesê. Ek het net gevoel ek het ’n tweede kans op lewe gekry en wou daardie kans nie verbrou nie.
So ek doen selfs cross-fit – ‘n groot liefde in my lewe!”

Vertel ons van jou deelname aan die Nasionale Orgaanoorplantingspele op Coetzenburg in 2024 en die Wêreld- Oorplantingspele wat vroeër vanjaar (2025) in Dresden, Duitsland plaasgevind het.
“Na my oorplanting het ek by ’n gym aangesluit om meer intens te oefen en spiere te bou. Hier het ek Esmari le Roux ontmoet en sy het my vertel van haar ma, Rentia, wat jare gelede ’n nieroorplanting gehad het en die voorsitter van die Wes-Kaapse Oorplantingsvereniging en ook die ondervoorsitter van die SA Oorplantingsvereniging was.
“Ek was destyds huiwerig om deel te word van so ’n gemeenskap, maar het besef dat ek tog ’n rol kon speel om bewusmaking te skep en die negatiewe persepsies rakende oorplantings te verander. In 2023 het ek toe die bul by die horings gepak en by Bellville Atletiekklub aangesluit.
Ek kon nie hardloop nie, maar die afrigter het voorgestel ek neem aan die velditems deel – gewigstoot, diskus en spiesgooi.
In September 2024 het ek gekwalifiseer en op Coetzenburg deelgeneem. Ek het in al drie items die nasionale rekords verbeter. Ek moet erken, dit was nogal cool!
“Ek was ook mal oor my mede-atlete, want ek kon my met hulle vereenselwig. Ek het aanhou hard oefen en baie opofferings gemaak. Met die aanbreek van die Wêreldspele, moes ek mooi daaroor dink, want dit was duur en ek wou nie alleen gaan nie en wou my vriend, Evan, saamneem. Maar ons het gegaan, en al betaal ek steeds af daaraan, was dit oor en oor die moeite werd. Die kameraderie wat ek ondervind het was uit ’n ander wêreld. Ek het net gevoel ek ‘behoort’.
“Ek was natuurlik baie angstig, maar het die gewigstoot gewen. Direk daarna moes ek aan die spiesgooi deelneem en op my vierde gooi het my voet gegly omdat ek nie die regte spikes aangehad het nie – en het ek my enkel geswik, my knie gedraai en my kruisligament – “ACL” – morsaf geskeur. Ek het eers gedink ek’s oukei, maar my been het soos ’n slap noedel gevoel met geen stabiliteit nie. Ek moes ongevalle toe gaan en onttrek uit die diskus uit, maar dit was nogal ironies dat ek selfs met die besering steeds ’n bronsmedalje in die spiesgooi losgegooi het.

“Maar ek was so teleurgesteld en kwaad vir myself. Ek het so goed voorberei en alles volgens die boek gedoen en skielik was alles oor. Twee weke later is ek geopereer. Behalwe die herstelproses, was dit vir my geestelik baie moeilik. Vir iemand soos ek wat heeltemal onafhanklik is, en alles vir myself doen, was dit ’n groot toets vir my geduld. Ek glo tog dat dit die Here se manier was om my te dwing om dit rustiger te neem en op te hou om myself aan ander te probeer bewys. Ek besef nou dat ek nie almal tevrede hoef te stel nie.
“’n Hoogtepunt in hierdie tyd was die eretoekenning wat ek by my skool ontvang het en die Oorplantingsatleet van die Jaar-toekenning wat ek by die atletiekklub ontvang het.”
Een van Anchen se drome vir die toekoms is om vir minder dinge ‘ja’ te sê en op haar besigheid te fokus en dit uit te brei sodat die besigheid haar eendag sal kan onderhou.
“Ek moet myself meer in ag neem en stadiger oor die klippe!”
Sy sê darem ook in dieselfde asem dat sy dit wel oorweeg om in 2027 aan die Spele in België te gaan deelneem, maar die tyd (en beskikbare fondse) sal leer.

“My lewe is in die Here se hande, maar ek wil vir so lank as moontlik so gesond as moontlik bly sodat ek kan trou en kinders hê. Ek wil ’n lewe saam met my kinders hê en so normaal as moontlik in my omstandighede leef. Ek wil net suksesvol en gelukkig wees.
Eintlik is ek op my heel gelukkigste as die mense rondom my, my familie, Evan, vriende en kliënte, gelukkig is.”
Nog iets wat haar gelukkig maak is die vermoë om te kan oefen en aktief te wees. En haar ‘happy place’? “Dis maklik, Sondae-oggende se stap of hardloop langs die Seepuntpromenade en daarna ontbyt saam met Evan. Die eenvoudige dinge in die lewe!”
Trikafta – ’n wonderkuur vir sistiese fibrose
Anchen vertel dat sy baie dankbaar is dat haar mediese fonds die medikasie goedgekeur het, want dit is duur. Trikafta is egter “ongelooflik en lewensveranderend” vir mense met sistiese fibrose. Hierdie geenmodulator-middel teiken die spesifieke proteïen waar die defek is en maak die dik en taai slym wat geproduseer word, normaal. Lyers se longfunksie verbeter ook fenomenaal en hulle kan skielik soos ander ‘normale’ mense aan sport deelneem en sukkel ook nie so met hulle spysvertering nie. Sê Anchen: “Ek het dit begin gebruik omdat ek baie sukkel met my sinusse. Voor trikafta moes ek elke twee weke my oor-neus-keelspesialis gaan sien en is my sinusse fisies skoongemaak, maar nou is ek die gesondste mens wat ek moontlik kan wees. Die medikasie het ook my spysvertering beter gemaak. Dis regtig ’n wondermiddel.”
Orgaanskenking is iets waaroor baie mense twyfel – of hulle dit moet doen. Wat sê jy vir hulle?
“Dit maak my emosioneel om daaroor te praat. Daar is so baie mense wat elkeen hulle eie mening hieroor het. Ek wil net hê mense wat nie orgaanskenking wil oorweeg nie, moet ophou verskonings maak. Besluit ‘ja’ of ‘nee’ en hou daarby. Jy hoef nie redes te gee nie. Wat ek wel kan sê: As jy besluit om ’n orgaanskenker te word, doen jy die mooiste ding in die lewe, want jy red letterlik iemand anders se lewe nadat joune tot ’n einde gekom het. Jou storie is klaar geskryf, maar daardie persoon wat jou organe ontvang se storie is nog nie klaar nie.
“Self kan ek maar net my vel skenk, maar hoekom sal ek nie.
As jy iemand deur jou onselfsugtigheid kan lewe gee, gee jy ’n dieper betekenis aan die lewe.
So, registreer as orgaanskenker en sorg dat jou familie daarvan bewus is.”
Anchen sluit af met die woorde:
“As jy met sistiese fibrose gediagnoseer is, moenie hoop verloor nie. Daar is lig aan die einde van die tonnel. Hou vas aan jou geloof. Die regte goed gebeur wanneer dit moet. Daar is lewe na sistiese fibrose.”







