Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Fotos: Verskaf en Instagram/Facebook
As aanbieder van die jongste en baie gewilde realiteitsprogram, Boer soek ’n vrou, het Reandi Grey nie veel bekendstelling nodig nie. Lesers sal haar waarskynlik ook onthou as Esti destyds in die sepie 7de Laan en deesdae is sy ook te sien in Diepe Waters waar sy die rol van Anja met soveel oortuiging vertolk. Dit maak nie saak waarmee Reandi besig is nie, of dit nou aktrise, aanbieder, sakevrou of net ’n mamma vir haar twee dogtertjies is, sy doen dit met oorgawe. Soos altyd wou Afrikaans.com die mens agter die openbare figuur leer ken en ons deel graag ons gesprek met Reandi.
Gebore en grootgeword in Pretoria, het hierdie jongste van twee sussies, in ’n liefdevolle en gelukkige gesin grootgeword, met wonderlike kinderjare en ouers wat kwaliteittyd bo die materialistiese geplaas het.
“My ouers het ons plekke gaan wys, ons het saam gekamp, tyd saam spandeer – alles om kosbare herinneringe te maak. Daarom speel die materialistiese goed nie regtig ’n rol in my lewe nie.”
Reandi is getroud met Dewald en hulle is die trotse ouers van twee dogtertjies, Heidi en Lente.
Reandi vertel dat sy op laerskool pynlik skaam was en haar ma gevra het om haar te laat dramalesse neem sodat sy kon selfvertroue kry en “sodat ek letterlik net maatjies in die oë kon kyk, want dís hoe skaam ek was”. Drama was ’n hoogtepunt vir haar, want sy kon stories vertel oor enigiets waarin sy belangstel. “Ek het byvoorbeeld in die laerskool ’n hele stukkie geskryf oor diere se voetspore. Dit was vir my só lekker om my te kon uitleef deur middel van drama en storievertelling. Dit is waar die gogga my behoorlik gebyt het!”
As aktrise vertolk Reandi ander se emosies en beskou sy dit as ’n groot voorreg. “Dit is iets waarmee ander hulle kan vereenselwig en dit kan bydra tot hulle genesing of dalk kan dit antwoorde verskaf op kwessies waarmee hulle sukkel. Mens weet nooit wanneer ’n storielyn met iemand resoneer nie.”
As aanbieder word die bordjies egter effens verhang en moet jy ander se onmiddellike en soms onverwagse emosies hanteer. “Dis net jy en jou emosies – wat nie aan enige teks gekoppel is nie. Ek glo dat my empatiese persoonlikheid en die feit dat ek ’n diep denker is, my gehelp het om Boer soek ‘n vrou aan te bied. Ek wil regtig mense se stories hoor en ek voel saam met hulle. Ek wil uitvind wat in hulle harte en koppe aangaan. Dis ook vir my belangrik om die persoon gemaklik te laat voel en ek wil seker maak hulle vertrou my en dat hulle veilig by my voel, ten spyte van die kameras en ander mense rondom hulle.
Hulle moet voel hulle praat regtig nét met my en dat ek opreg luister en belangstel.”

Hoogtepunte van Boer soek ’n vrou? Reandi sê dit is altyd ’n hoogtepunt as ’n boer liefde vind – of dit liefde is vir hulleself of liefde vir iemand anders – “as mens liefde kry uit die proses is dit net so ongeloofllik mooi”. Vir haar persoonlik, sê sy, was dit lekker om die geleentheid te kry om soveel nuwe dinge te kon leer oor goed wat haar regtig interesseer: die plaas- en dierelewe, bome, die klimaat – “ek het daar weggestap met soveel nuwe kennis en feite.”
Reandi is bekend as kampvegter vir vroue en in haar rol as Anja in Diepe Waters, baklei haar karakter juis vir die vroue rondom haar se regte. Sê Reandi:
“Ek het ’n passie vir vroue en is verskriklik lief vir hulle en die balans wat hulle kan handhaaf: Tussen sterk wees, maar sag wees, tussen die rots wees, maar terselfdertyd ook kwesbaar te kan wees.”
Sy vertel dat dit daartoe gelei het dat sy en ’n vriendin funksies aanbied waar hulle kleuranalises doen om vroue bewus te maak van die rol wat die regte kleur vir hulle in hulle lewens kan speel om weer vreugde in hulle lewens terug te bring. “Ons vroue dra soveel verantwoordelikhede met ons saam. Daarom is dit ’n voorreg om deur my platform ’n inspraak te kan lewer op die lewens van ons vroue – ek beskou dit as ’n roeping.”
Reandi glo sy is besonder geseënd met ongelooflike sterk vroue in haar lewe. Vriendinne, haar ma en sussie – vroue wat haar dra – of dit opdraand of afdraand is. “Vroue met wie jy enige tyd van die dag of nag gesprekke kan aanknoop en dan te weet hulle luister. Jy hoef letterlik net te sê, ‘bid’ en hulle weet net wat om te doen sonder om een vraag te vra.” Daarom is dit vir haar moeilik dat sy nie gereeld by haar vriendinne uitkom nie, want sy is gewoon net te besig met die eise wat die lewe en werk aan haar stel. Die kort rukkies wat sy dan wel het, spandeer sy saam met haar gesin – haar eerste prioriteit. Sy vertrou egter dat haar vriendinne weet hoeveel sy omgee en hoe lief sy vir hulle is, al sien sy hulle nie so baie nie. “Dis die klein goedjies wat wys dat jy omgee wat belangrik is.”
Sy huiwer effens, maar erken dan dat haar dogtertjies die twee vroue in haar lewe is wat haar die meeste inspireer.
“Mens dink altyd jy is die ouer en moet hulle grootmaak en alles leer, maar daar is soveel wat ons van kinders kan leer.”
“Hulle uitkyk op die lewe. En hoe rou en eerlik hulle kan wees en hoe opreg hulle liefde is – sonder enige voorbedagte rade. Alles wat hulle my van die lewe en myself leer. Dinge wat ek nie eers geweet het ek mee sukkel of dinge wat ek nie eers geweet het is vir my regtig spesiaal nie. Hulle wys dit vir my deur net absoluut hulleself te wees.”
Reandi is ’n sterk vrou en erken dat sy geen idee het hoe om haar dogtertjies groot te maak om sterk vrouens te wees nie. “Daar is nie ’n resep nie. Ek weet net dat ek geen besluite neem sonder om nie eers met die Here daaroor te praat nie. En dis hoe ek my dogtertjies grootmaak. Om te bid oor alles. Dis vir my so mooi om te sien hoe lief hulle vir Liewe Jesus is. Ek vertrou dat Hy hulle die wysheid, insig en die onderskeidingsvermoë sal gee om te weet wat reg en verkeerd is.”

Reandi is vir baie van ons die toonbeeld van vroulikheid, maar sy lag lekker daaroor en reken sy is maar steeds ’n tomboy en dat dit eintlik so interessant is dat haar baie vrouliker sussie twee seuntjies het en sy, wat dalk meer as ’n seuntjiemamma beskou is, twee dogtertjies het. “Ek wou visvang, vuil word en in bome klim … nie tutu’s aantrek nie. Maar toe kom ek agter hoe uniek ons eintlik is. Dogtertjies kan steeds tutu’s en prinsesrokke aantrek, hulle naels cutex en vra vir ’n prinsespartytjie, selfs al is hulle nie noodwendig girly girls nie. Ons jongste veral is ’n regte rowwe rabbedoe, maar speel ook prinses-prinses. Dit wanneer jy agterkom dat daardie balans natuurlik kom, solank jy net gemaklik is met wie jy is.”
Reandi voel sterk daaroor dat vroulikheid nie iets is wat ons moet stereotipeer nie. Dit beteken iets anders vir almal.
“Vir my is vroulikheid iemand wat gemaklik is met haarself.”
“Wat aantrek wat vir haar mooi is en waarin sy gemaklik en mooi voel. Vir my is ’n vrou op haar mooiste wanneer sy haar natuurlike self is, en dat sy haar skoonheid vind in hoe die Here haar geskape het. Om ‘comfortable and confident’ in haar eie vel te wees.”

GreyC (Grey Creations)
“Passievol oor alles kleurvol en kunstig, is GreyC ’n droom gebore uit die begeerte om te meng en pas, vrylik te beweeg, verskillende vorme aan te neem en gemaklik in jou vel te wees.”
Reandi is gaande oor verskillende kleure, teksture en patrone. Soos sy self sê, as dinge nie pas nie, is dit vir haar veral mooi. Omdat sy gesukkel het om klere te kry wat by haar persoonlikheid en voorkeure pas, het sy haar eie klere begin maak en die uiteinde was GreyC. Intusssen het die onderneming verder uitgebrei en het hulle begin met wat bekend staan as CMT (cut, make, trim). Hulle maak dus vir ander klerereekse ook klere. Sy sê dis vir haar heerlik om nuwe opkomende klerereekse te help en besigheidsadvies te gee oor alles van webtuistes tot by watter lap gaan werk of nie. “Dis lekker om plaaslike entrepreneurs te ondersteun, want hulle sukses is so in gedrang met aanlyn winkels en invoere soos onder andere Temu en Shein. Dis regtig ’n riem onder die hart as ’n mens hulle kan ondersteun en daartoe kan bydra dat hulle groei en hul deure oophou.”

Wat maak haar gelukkig?
“Baie goed maak my gelukkig, maar die plek waar ek op my gelukkigste is en waar my beker vol word, is tyd saam met my man en my dogtertjies.”
Raad vir voornemende akteurs?
Reandi sê dat die beste raad wat sy kan gee, is om ’n agent te kry. Jou drome en harde werk kan jou net sover bring, maar die realiteit en die praktiese waarheid is, sonder ’n agent gaan jy nie weet van oudisies nie. Produksiemaatskappye en skrywers gaan jou nie noodwendig kontak nie. Dis jou agent wat jou inlig oor die geleenthede wat beskikbaar is. Dit is die persoon wat jou raad en leiding kan gee.
Persoonlike motto?
“Droom groot, want drome word waar.”

En die toekoms?
Reandi sê dis moeilik om presies te bepaal, want sy is ’n dromer, maar ook baie aanpasbaar. Sy het duidelike drome oor wat sy wil hê, maar is nie noodwendig seker hoe die paadjie tot daar gaan lyk nie. “My ideaal is om meer by my kinders en man te kan wees. Om dit moontlik te maak, sal ek my klerereeks op ’n plek wil hê waar dit my totaal finansieel kan onderhou, sodat ek drama en aanbieding kan doen omdat ek wil en nie moet nie.”
Reandi beskryf haarself as ’n eenvoudige, kreatiewe en dankbare dromer en te oordeel aan wat sy alles aanpak, haar waardes en suksesse, is sy dit beslis. Dit is egter haar energie, haar lus en liefde vir die lewe en mense wat ’n mens die meeste inspireer.
Gaan loer gerus na Reandi se klerereeks hier: GreyC|Home – Grey Creations







