HET JY dít oor EIERS GEWEET?
EIERS is een van die mees basiese en bekostigbare bestanddele. Om nie eers te praat van hoe veelsydig dit is nie. Het jy geweet dat eiers as ’n superkos beskou word? Dis nie net ’n volledige proteïen nie, maar ook ryk aan belangrike vitamiene, minerale, antioksidante en veral gesonde vette. Nogal indrukwekkend! En die lys van maniere waarop dit gaargemaak kan word is lank.
Heleen Meyer deel 10 INTERESSANTE FEITE OOR EIERS met ons:
- STOOR eiers met die kleiner punt na onder – dis soos hulle in die kartonboksies gepak word. Dit hou die groot lugborrel in die breër, ronde deel van die eier in plek om die eiergeel te beskerm.
- Eiers hou vir tot 3 weke in die YSKAS, maar net 5-7 dae teen kamertemperatuur, veral in die warmer maande.
- EIERDOPPE is poreus en absorbeer maklik reuke, so stoor dit verkieslik ver weg van sterk reuke soos uie, knoffel, koejawels of vis.
- Haal eiers so 30 minute voor dit gekook gaan word, uit die yskas. Teen KAMERTEMPERATUUR kraak eiers nie so maklik wanneer dit gekook word nie. Eiers teen kamertemperatuur klits ook tot ’n groter volume, as jy bv. bak of meringues maak.
- HET jy GEWEET? Eiers stol teen ongeveer 60 °C? Daarom is dit belangrik om eiers altyd oor ’n matige temperatuur gaar te maak, ongeag van die gaarmaakmetode. Dit verhoed dat die eiers skif of vinnig oorgaar en rubberig word.
- KOOK eiers só:
SAGTE, loperige geel: 4-5 minute
MEDIUM-sagte geel: 5-6 minute
HARDGEKOOK: 8-10 minute
Dompel die gaar eiers dadelik in KOUE WATER en KRAAK die doppe liggies. Dan verkleur die eiers minder. Laat die eiers heeltemal afkoel en dop dan af – dis soveel makliker.
- EIERWITTE moet altyd in ’n skoon, droë bak en met skoon klitsers geklits word. Enige vetterigheid of vog sal verhoed dat die eierwitte tot ’n groot volume klits.
- Eierwitte VRIES uitstekend en na dit ontdooi het, klits dit selfs tot ’n beter volume.
- PRET-FEIT: Het jy geweet dat ’n rou eier nie behoorlik kan tol nie, maar ’n gekookte eier maklik in die rondte tol? Probeer dit bietjie. Die lugborrel in ’n rou eier probeer die eiergeel stabiel hou, so darom wikkel dit net rond, maar gaar spin dit soos ’n tol. ’n Lekker wenk as jy wonder of die eiers in die yskas rou of gekook is.
- Eierdoppe is ideaal vir ’n KOMPOSHOOP of wurmplaas, so moet dit nie in die asdrom weggooi nie.
Foto: Neville Lockhart







