Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Leer deur kreatiewe spel
Volgens die “21st Century Skills Early Learning Framework” kan speelervarings baie effektief gebruik word om innoveringsvaardighede te bou.
Die verslag beklemtoon dat ons kinders voorskools moet toelaat en aanmoedig om te speel op maniere wat vir hulle nuut is, en dat hulle kan leer om speletjies en aktiwiteite aan te pas en herontwerp.
*Wat speletjies met reëls betref kan kinders oefen om reëls te verander, aanpassings te maak wat die verloop of doelwit van ’n spel verander, of eienskappe van een spel na ’n ander oordra. Kinders leer innoveer terwyl hulle op nuwe maniere speel en eksperimenteer met hul eie idees.
Wat vryspel betref moet kinders waarlik vrylik en skeppend kan speel.
21ste eeuse opvoeders moet waak teen voorskriftelikheid terwyl kinders fantaseer of met rolspel besig is. Kinders moet self kan kies watter rolle hulle vertolk, hoe die storielyn ontvou, watter werktuie (indien enige) hulle wil gebruik en wat hulle daarmee wil doen. Hulle moet vry voel om onkonvensionele dinge te doen – soos om ’n karakter deur die venster van ‘n gebou te laat ingaan, op die son te gaan uitkamp of ’n koei te laat vlieg.
Ons ontmoedig innovering wanneer ons kinders wat besig is om te fantaseer probeer leer hoe om “reg” te speel.
Wat speletjies met reëls betref kan kinders ook soms beurte maak om die rol van die onderwyser in te neem, om só te oefen om innoverend te dink.
Hulle kan byvoorbeeld beurte maak om aan mekaar uidagings te stel, of om instruksies te gee terwyl die klas Volg-die-Leier of Simon-Sê speel.
Hier is ’n paar wenke
- Mylpale vir innovering tydens fantasiespel
Juniors kan self besluit watter voorwerpe hulle wil gebruik. Hulle leer baie as hulle ander kinders en grootmense naboots, maar eie idees is goud werd.
Seniors behoort self ’n rol te kan kies, aankondig wat hulle besluit het, en beskryf wat die rol behels.
Graad R’e kan stelle en rekwisiete (gebruiksvoorwerpe) ontwerp soos om kleinwêrelde te bou, huise te ontwerp, of mikrofone uit toiletrolle te maak.
- Mylpale vir innovering in speletjies met reëls
Juniors kan een reël of komponent van ’n speletjie op ‘n keer verander, soos om agteruit te tree in ‘n speletjie waar daar gewoonlik vorentoe getree word, of hulle hand in ‘n sak steek om ‘n getal te trek in plaas daarvan om ‘n dobbelsteen te gooi.
Seniors kan begin om te reflekteer om te innoveer. Dit beteken dat hulle kan begin saamgesels oor hoe hulle allerlei speelervarings op nuwe maniere kan kombineer. So kan Hopscotch dalk met ‘n balspeletjie gekombineer word, of aangepas word om ‘n wiskunde speletjie te speel.
Graad R’e kan heeltemal nuwe speletjies ontwerp. Dis ‘n goeie vertrekpunt om bestaande speletjies te herontwerp, komponente van bekende speletjies te kombineer en miskien bordspeletjies, fisiese speletjies en gebeure uit stories te kombineer.
- Speletjies met reëls kan in fases aangebied word om dit vir innovering te “hergebruik”.
Fase 1 fokus op bekendstelling. Tydens hierdie fase oefen kinders om basiese reëls en stappe baas te raak. Hulle speel die speletjie op die standaardmanier om die beplande leeruitkomste te bereik.
Fase 2 fokus op innovering. Die klem verskuif na innovering wanneer die onderwyser of ouer tevrede is dat die aktiwiteit sy doel gedien het.
Kinders word in fase 2 aangemoedig om te koukus oor hoe reëls, stappe of doelwitte kan verander.
Hierdie artikel is met vergunning van die AON geplaas. Vir meer inligting, besoek hul webtuiste: https://aonetwerk.co.za/








Dit klink belowend vir n dagsorg juffrou of tuis bly mamma