Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Al ooit gevoel asof jy op ‘n mallemeule is en die wêreld om jou tol? Jy is dronk in jou kop, die vloer voel skuins, maar in werklikheid het daar geen beweging plaasgevind nie. Dan het jy waarskynlik vertigo beleef. Party van ons is gelukkig en dit gebeur selde, maar daar is ook diegene wat gereeld simptome ervaar.
Wat is vertigo?
Dit is ‘n toestand wat veroorsaak word deur probleme in die binne-oor of vestibulêre stelsel wat help om balans te reguleer. In akute gevalle, sukkel die persoon om te loop sonder om aan voorwerpe rondom hom vas te hou en kan naarheid en soms braking voorkom. Die persoon is egter die hele tyd by sy bewussyn.
Oorsake
- Die binne-oor is aangetas as gevolg van harde geraas (geweervuur, harde musiek, ontploffings, ens.) en die gehoor is beskadig (desibeltrauma).
- Infeksie of virusontsteking.
- ’n Kristalletjie wat in die binne-oor vorm en vertigo veroorsaak as die persoon sy kop op ’n speifieke manier draai (posisionele vertigo).
- Menière se siekte.
- ’n Skedelfraktuur of as die oordrom gebars het.
- Tumors of groeisels in die binne-oor.
- Belemmerde bloedvoorsiening na die binne-oor.
- Soms weens ’n ligte beroerte – veral in ouer mense.
Simptome kan die volgende insluit:
Duiseligheid, tollende sensasie, naarheid, braking, verlies aan balans en probleme om regop te staan of te loop. Party mense ervaar abnormale oogbewegings, hoofpyne of ‘n suising in die ore (tinnitus).
Indien simptome aanhou of jy bekommerd is, is dit altyd raadsaam om jou mediese praktisyn te raadpleeg, veral omdat vertigo en die simptome ook met ander ernstiger siektetoestande geassosieer kan word.
Die volgende oefening word aanbeveel vir posisionele vertigo:
Die Epley-maneuver kan tuis gedoen word en kan verligting gee vir posisionele vertigo omdat dit die kristalle in die binne-oor herposisioneer sodat die gevoel van duiseligheid verdwyn.
Stap 1:
Bepaal watter kant geraak is – gewoonlik sal die simptome voorkom wanneer jy op die betrokke kant gaan lê.
Stap 2:
Sit op jou bed met jou bene reguit en met genoeg plek agter jou om te lê. Plaas ‘n kussing wat jou middelrug ondersteun agter jou op die bed. Die kussing moet so geposisioneer word, dat jou kop effens agteroor kan buig.
Stap 3:
Draai jou kop na die kant toe wat die simptome veroorsaak – ongeveer 45 grade. Lê nou terug op die bed met jou rug gestut en jou kop effens agteroor. Jou kop moet steeds gedraai wees. Jy sal nou vertigosimptome ervaar. Bly in die posisie totdat die draaisensasie weggaan.
Stap 4:
Draai nou jou kop na die teenoorgestelde kant en wag totdat die duiseligheid weggaan.
Stap 5:
Rol om tot op jou kant met jou kop na die nie-geaffekteerde kant en bly so lê totdat die draai- of tolsensasie verdwyn.
Stap 6:
Sit regop op die rand van die bed. Bly sit totdat jy seker is die duiseligheid is weg voordat jy opstaan.
Kyk gerus hierdie video vir stappe om te volg:







