Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Ja, daar is ’n verskil. Migraines, ook bekend as skeelhoofpyne, is ’n tipe neurologiese versteuring en nie net ’n gewone hoofpyn nie. Hierdie hoofpynversteuring kom ook meer algemeen onder vroue voor. Hoewel oorerflikheid ’n rol kan speel, is stres en hormonale veranderinge dikwels die sondebok. Daar is ook ander oorsake, maar dit wissel van persoon tot persoon.
So ’n migraine-aanval kan ure en selfs dae lank aanhou en kan met of sonder ’n aura voorkom. Dit beïnvloed dikwels ook die persoon se dagtaak. Party mense ervaar voorafgaande waarskuwings dat ’n migraine op pad is, ure of selfs dae voor die tyd, soos byvoorbeeld gemoedskommelinge, nekstyfheid, ’n lus vir spesifieke voedselsoorte, waterretensie.
Simptome van ’n migraine
- Gematigde tot intense en polsende pyn – tipies aan die een kant van die kop, agter een oog of oor.
- Naarheid en/of vomering.
- Lig-, klank- en reuksensitiwiteit.
- Visuele steurnisse, bekend as auras. Die persoon kan flitsende ligte, spikkels, sigsag-lyne of blinde kolle ervaar.
- Naald-en-speldsensasies.
- Moegheid en konsentrasieprobleme.
Snellers
- Hormonale veranderinge (bv. tydens menstruasie).
- Stres of angstigheid.
- Sekere kossoorte en drankies (bv. kaffeïen, alkohol, beleë kaas, sjokolade).
- Slaapversteurings.
- Omgewingsfaktore (bv. helder ligte, sterk reuke, verandering in die weer).
Migraine vs. gewone hoofpyn
‘n Hoofpyn kan dikwels toegeskryf word aan spanning of sinusprobleme en die pyn is tipies lig tot gematig. ‘n Gewone hoofpyn kan ook meestal met ’n oor-die-toonbank pynstiller en rus behandel word, terwyl migraines dikwels spesifieke voorskrifmedikasie vereis.
Dit is belangrik om die verskil te ken sodat die regte behandeling gevolg kan word. Indien migraines dikwels voorkom en ernstige pyn veroorsaak, is dit raadsaam om ’n dokter vir ’n diagnose en ’n verpersoonlikte behandelingsplan te raadpleeg.
Wie kan help?
- Jou dokter of neuroloog. Hulle sal die nodige toetse doen en ander oorsake, soos tumors of spesifieke siektetoestande ondersoek.
- As die migraine stres- of spierverwant is, kan ’n fisioterapeut help met akupunktuur of massering om die simptome te verbeter.
- ’n Dieetkundige. As die oorsaak dieetverwant is, sal die pasiënt gevra word om boek te hou van voedselinname waaruit daar dan sekere afleidings gemaak kan word. Die pasiënt is dalk nie sensitief vir ’n spesifieke kossoort nie, maar dalk een of meer van die bestanddele of preserveermiddels wat dit bevat. Daar is ook sekere aanvullings wat voordelig kan wees, soos magnesium, vitamien B2, vitamien D en so meer.







