Hoe om pasta te kook …

Tuis 5 Kook dit 5 Hoe om pasta te kook …
Heleen Meyer-Pasta
BASTA met papgekookte PASTA!

Sukkel jy om pasta suksesvol te kook? Hier is Heleen Meyer se pastawenke om dinge makliker te maak.
Dis eintlik so ’n eenvoudige gaarmaakproses, en tog sukkel baie mense daarmee.

  • die POT: maak seker dis groot genoeg om ten minste 2-3 liter water per 250 g rou pasta te kan gebruik. As die pot te klein is, kook dit net die heeltyd oor.
  • die WATER: soos die Italianers sê: die pot moet ‘sing’ voor die pasta ingegooi word. Laat die water vinnig kook en borrel en gooi dan die pasta in – sodoende kleef die pasta minder aan mekaar vas.
  • SOUT? Moenie vergeet om die water goed te geur nie – ongeveer 15 ml sout vir 500 g pasta. Onthou, jy dreineer dit, so dis nie alles deel van die ete nie. As die pasta self geurig is, het jy minder sout in die sous nodig.
  • OLIE of nie OLIE? Moenie olie by die pastawater gooi nie – dit dryf net bo-op en keer nie regtig dat die pasta saamkleef nie. Roer liewer ’n geurige olie oor die gaar pasta om te keer dat dit aan mekaar vas sit.
  • ROER dit: roer die pasta sodra dit in die water gegooi is en dan elke paar minute terwyl dit kook – dit keer dat die droë pasta net sink en hou dit los van mekaar.
  • AL DENTE: dis die term wat Italianers gebruik om te beskryf hoe perfek-gekookte pasta proe. Sag en gaar, maar steeds iets ‘om te kou’ – beslis nie papgekook nie. Volg die instruksies op die verpakking vir die gaarmaaktyd.
  • DREINEER pasta dadelik en sit dit terug in die warm kastrol. Behou ’n paar eetlepels van die warm pastawater en meng dit met ’n skeut olyfolie deur die gaar pasta. Dit keer dat die pasta aan mekaar kleef.

Foto deur: (FB) @AdelFerreiraPhotography (IG) @adel_ferreira

by | Nov 6, 2025 | Kook dit

Deel hierdie plasing