Skrywer: Seugnet van Zyl
Sy droom sedert haar kinderjare om te skryf en skryf nou vir kinders
Van kleins af het Troula Goosen stories gemaak, maar die lewe het eers ander draaie met haar geloop voordat sy hierdie kleintyddroom kon uitleef.
Troula het sowat ’n jaar nadat haar man, Chris, ’n predikant in Bettysbaai afgetree het, vir ’n aanlyn skryfkursus ingeskryf in die hoop om hierdie kinderdroom van haar om te skryf, ’n werklikheid te maak. Voor die skryfgogga haar beetgepak het, het sy vele besige jare as binneversieder op Riversdal in die Wes-Kaap gewerk.
In 2016 word Spooksoene, haar eerste vollengte jeugverhaal, met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon.
Behalwe stories vir opvoedkundige uitgewers, het nog sewe jeugromans, waarvan drie met historiese agtergronde – Raaiselster, Raaiselsee en Raaiselklip – sedertdien gevolg en die negende sal volgende jaar verskyn.
Sy sê laerskoolboeke word nie regtig voorgeskryf nie, maar “Lakadiga, die geheim van die verlore stad, wat by Oxford verskyn het, is destyds KABV-goedgekeur en Raaiselster en Raaiselsee, wat van gratis klasgidse voorsien is, word deur ’n paar skole gebruik”.
Afrikaans.com het met Troula oor ’n koppie koffie by die Spier-wynlandgoed in Stellenbosch, waar hulle deesdae woon, gekuier om oor haar jongste boek, Chris, Taffie en die Gruwelike Grypdief, te gesels.

Sy sê baie beskeie dat sy dink haar boeke is “bietjie anders”, omdat sy verbeelding en fantasie in haar stories inbring.
Dit blyk haar suksesgeheim te wees, want buiten vir haar eie boeke, verskyn daar volgens haar nie baie kinderboeke met dié elemente in Afrikaans nie.
“Ek gebruik meer magiese realisme, waar die karaktertjie in die werklike lewe leef en dan kom hy amper in hierdie fantasie-situasie. Kinders se verbeelding is nog so lekker, enigiets is eintlik nog moontlik. In my stories is daar altyd ’n geheim wat ontrafel, daar is ’n bietjie liefde en ’n fantasie-element.”
Troula het met stories grootgeword, waar haar ma elke aand vir hulle stories voorgelees het. Vakansietye het haar pa dié rol oorgeneem.
“Dis waar ons nou met Langenhoven se spookstories en Loeloeraai (Langenhoven se wetenskapfiksieroman) te doen gekry het.”
Omdat kinders juis lief is vir spookstories het sy daarmee begin.
Troula vertel dat sy altyd ook so ietsie insit van waar sy vandaan kom soos in haar drie Raaisel-boeke, waar Ceres, die Overstrand en Simonstad te voorskyn kom.
Haar jongste boek speel in Bettysbaai af, maak ’n draai by die Hangklip-vuurtoring op die oostelike punt van Valsbaai in Kaapstad en Dappat se gat, ’n strandjie en grot in die Kogelberg-natuurreservaat naby Gordonsbaai. Ene Dappat het boere se vee in die omgewing gesteel en dan in sy grot oftewel gat weggesteek.
“Dis ’n woeste stormnag op Bettysbaai. Skielik skree ’n skril stem bo Chris se kop. Sy nekhare rys. ’n Boosaardige bruin oog gluur hom aan. ’n Blink lem blits voor sy neus verby … So ontmoet Chris vir Tawwe Taffie, die dapperste seevaarder aan die kus van Afrika”, lui ’n kort opsomming waaroor dié boek handel.
Troula se eerste kleinkind, Chris, wat nou 13 jaar oud is, het as inspirasie vir hierdie boek gedien.
Die seerower-deken en die model van ’n outydse seilskip, die Barbadossa, wat sy destyds vir Chris se kamer as baba by hulle huis ingerig het, het Troula verder inspireer om lewe aan haar jongste kinderboek te gee. Stephen Wallis het met sy prentjiemooi illustrasies Chris, Taffie en die Gruwelike Grypdief afgerond.
Sy dink na oor die vraag of dit vir haar makliker was om hierdie boek te skryf omdat sy hierdie gebied so goed ken.

“As ek nou mooi dink, begin my stories eintlik almal by ’n plek. Dis asof ek dink: ‘Waar gaan die storie gebeur, wie kan almal daar wees en wat kan met hulle gebeur?’. Ek vat elke keer so ietsie van myself en waar ons was.”
Troula lag lekker as sy sê sy het nog haar innerlike kind.
“Ek kom maklik by hom uit. Daarom speel my stories in ’n fantasiemilieu af. Ek kan ’n ander wêreld skep solank dit vir kinders soos ’n regte karakter voel.”
Sy erken dis wel vir haar vreeslik moeilik om ’n storie uit te dink, maak nie saak watter storie nie.
Die lekker deel vir haar is om aan dit wat sy geskryf het, te “poleer, reg te trek en af te rond”.
Troula se man van die afgelope 55 jaar lees al haar stories.
Chris sê dan die boekkarakters lewe in sy vrou se kop.
Mag Troula aan nog plekke dink waar sy was en nog vele kinders op ’n fantastiese wyse daarvan vertel.







