Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
In ’n artikel op Netwerk24 van 28 Oktober 2025 skryf Llewellyn Prince dat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) besorg is oor die swangerskappe van leerders van 10 tot 14 jaar. Volgens die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het soveel as 2 833 kinders vanaf 1 April 2024 tot 31 Maart 2025 swanger geraak. Gwarube sê dat dit ’n gruwelike skending van kinderregte en ook strafregtelike oortredings ingevolge die wetgewing is.
Gwarube voer verder aan dat die Departement sy samewerking met alle relevante instansies sal versterk “om te verseker dat die mees kwesbare leerders teen seksuele uitbuiting en misbruik beskerm word, en dat swanger leerders die nodige ondersteuning ontvang om hul skoolopleiding in ’n veilige en waardige omgewing voort te sit”.
Omdat onderrapportering ’n probleem is, het die onderwysdepartement “tans ‘n datadeling-protokol met die departement van gesondheid wat toegang tot gesondheidsgeriewe se data oor bevallings of aborsies onder individue tussen 10 en 19 jaar moontlik maak” en wat volgens die minister meer akkuraat is.
Die DBO en provinsiale onderwysdepartemente word gelei deur die Beleid oor die Voorkoming en Bestuur van Leerlingswangerskappe in Skole en die Protokol vir die Bestuur en Rapportering van Seksuele Misbruik en Teistering in Skole en skole is verplig om die aangewese protokolle te volg. “Skoolhoofde en onderwysers is volgens die Kinderwet en die Wet op Seksuele Misdrywe verpligte aanmelders.”
Die minister erken dat hierdie krisis “’n diep maatskaplik-ekonomiese kwessie is wat verder as die grense van die skoolomgewing strek en word ’n hele-regering-hele-samelewing-benadering vereis” om die kwessie op te los.
(Bron: Swangerskappe onder 10- tot 14-jariges ‘skending van kinderregte’ | Netwerk24)
Gaan lees gerus ook die artikel op Afrikaans.com oor tienerswangerskappe en die uitdagings daaraan verbonde. ’n Kenner op die gebied gee waardevolle raad en riglyne oor die hoofoorsake van tienerswangerskappe, hoe om die situasie te hanteer, en tienerswangerskappe te verhoed. Lees die artikel hier: Tienerswangerskap. ’n Steeds groeiende kwessie onder die jeug – Afrikaans.com







