Skrywer:Annelie van Jaarsveldt
Martelize Brink kies die lewe …
Haar droom om professioneel tennis te speel, is dalk deur die noodlot gestuit, maar dit het haar nie gekeer om ’n vervulde en interessante lewe te lei en daagliks ’n verskil in sovele se lewens te maak nie. As jy gereeld RSG luister, ken jy vir Martelize Brink – geliefde radio-omroeper, motiveringspreker en seremoniemeester – en reeds 21 jaar deel van die stasie; die afgelope paar jaar as aanbieder by driesestig waar sy beslis die program se leuse – Jou blik op die wêreld – gestand doen. Die programinhoud is natuurlik so reg in haar kraal, want sê sy: “Ek is nuuskierig oor alles. Alles is vir my interessant. Ek wil dadelik weet wat iets is en verstaan waaroor dit gaan en dan het ek natuurlik die behoefte om met ander daaroor te gesels. Veral as dit hulle kan help. Dis belangrik om jouself in ander se skoene te probeer plaas.”
Afrikaans.com het die voorreg gehad om met Martelize te gesels oor haar grootwordjare, haar loopbaan, en veral haar menswees.
Martelize, die jongste van vyf kinders, is in die Paarl gebore, waar sy in ’n pastorie grootgeword het en haar skoolloopbaan by Paarl Gimnasium voltooi het. Haar pa was die alombekende dominee Matie Brink van die Toringkerk, wat veral bekendheid verwerf het met sy potjiekos en resepteboeke. Die Brinks, vertel Martelize, is almal obsessief oor kos en sy dink met heimwee terug na die tye waar hulle berge aartappels en groente geskil het vir die massiewe potte en pakke snoek moes vlok vir haar ma se bekende snoekpatee. “Harde werk, maar ek het dit so geniet!”
Martelize het uitgeblink in netbal, tennis en swem op laerskool en het aspirasies gehad om professioneel tennis te speel, maar haar skielike verlamming op 13-jarige ouderdom het daardie planne in die wiele gery. Sy was ook lief vir musiek en het klavier en dwarsfluit gespeel. Later het sy haarself leer kitaar speel en is lief vir sing alhoewel die baie praat op die radio haar stem bietjie seergemaak het, sê sy. Na skool het sy nie ’n idee gehad wat sy wou doen nie en het nie eintlik rigting gehad nie en het toe maar ’n jaar lank ’n “gap”-jaar geneem. Daarna is sy Universiteit Stellenbosch toe waar sy ’n graad in Sielkunde en honneurs in politieke wetenskap verwerf het.
Tydens haar jare op Stellenbosch het sy betrokke geraak by Maties Radio (vandag MFM). “Dit was ’n perfekte leerskool, want ons het alles gedoen. Ek het geen ervaring gehad nie, maar het gekyk, dopgehou en gedoen – die tegniese kant en ook die uitsaaigedeelte.
Ons het regtig hard gewerk en om dit te maak werk, moes jy eenvoudig eienaarskap neem.
Na so ’n dag van uitsaai (dikwels van 05:30 tot 20:00) en die tonne adrenalien wat vrygestel word om alles reg te doen, het dit gevoel asof ’n mens ’n marathon gehardloop het. Maar dit was lekker – al was ek na vier jaar effe uitgebrand.”
Tog, toe sy in 2004 begin werk soek na haar studies, was radio nie deel van haar toekomsplanne nie. “Maar,” sê sy, “toe bel Susan Booyens van RSG en vra my om haar jeugprogramme oor te neem. Ek was dus op die regte plek op die regte tyd en radio het my toe eintlik gekies.” Tog is sy nie een dag spyt nie en is dit juis radio en uitsaai wat haar die gelukkigste maak. Dis nou behalwe Marius, haar lewensmaat en sielsgenoot. Martelize blom behoorlik wanneer sy oor die man in haar lewe praat. “Ons ag mekaar in alles, het respek vir mekaar en gee om vir mekaar. Daardie wedersydse respek vir mekaar se werk en menswees en ’n diep begeerte om daar te wees vir mekaar, is wat ons verhouding laat werk. En dis lekker om verlief te wees,” glimlag sy.

Martelize is dalk in ’n rolstoel, maar dit maak haar nie minder besig nie.
Haar daaglikse skedule sal menige mens uitput, want om omroeper te wees is nie net agter die mikrofoon inskuif en praat nie.
Daar is ’n klomp goed wat moet gebeur voordat ’n mens op lug gaan, en terwyl jy op lug is, doen jy meer as een ding gelyk en kan die take ophoop. Maar … Martelize verseker my sy geniet elke aspek.
“Ons Brinks is almal praters en toe ek as die jongste saam met die ander aan tafel was, het niemand ooit vir my geluister nie.
Ten minste moet die luisteraars nou na my luister solank hulle radio’s aan is!” lag sy.
“Selfs die ry en verkeer elke dag ateljee toe uit die Paarl uit, is lekker en ek doen dit met ’n glimlag in my hart. Ek het 12 jaar lank in ’n woonstel in Seepunt gewoon – skaars ’n kilometer van die werk af – maar om terug te wees in die Paarl en in ’n huis met ’n tuin te woon, is heerlik en so ’n groot voorreg. Boonop is ek tussen mense wat ek ken en ek en Marius is ook naby ons ma’s, wat belangrik is vir ons.”

So bietjie meer oor hoe om kop bymekaar te hou in die ateljee, veral die tegniese aspekte.
“Aan die begin was dit effens anders as nou. Toe ek in 2004 Susan Booyens se programme oorgeneem het, het ek nie lewendig uitgesaai nie en het ons opnames gemaak en dan op die band geredigeer. Dit het beteken om na die opname te luister, die gedeeltes wat jy wou uithaal, te merk en letterlik uit te sny en dan te las. Dit was nogal moeilik, maar ek het dit vinnig aangeleer en die meer gevorderde tegnologie het ook nie lank daarna gevolg nie. Uiteindelik het ek soggens saam met Johan Rademan begin uitsaai en later het ons die middagprogram, driesestig, begin aanbied waar ek deesdae hoofsaaklik alleenaanbieder is.
“Die ateljee self was gelukkig dieselfde as waaraan ek gewoond was by Maties. Ek dink tog ’n mens moet ’n mate van aanleg hê om te kan uitsaai en ’n onderhoud voer, terwyl jy die tegniese kant ook behartig. ’n Mens moet letterlik jou oog op die ‘bal’ hou – noem dit maar hand-oog-koördinasie. Daar gebeur werklik baie agter die skerms en soms raak dit woes. Ek kon gelukkig nog altyd goed visualiseer en dan uitvoer. MFM was ’n goeie leerskool.”
Jy is geliefd by die luisteraars.
Wat dink jy doen jy anders om uit te staan en elke dag op te daag.
“Ek is nie regtig seker nie, maar dalk kan hulle hoor ek is opreg. Ek hou regtig van mense en gee om en probeer altyd empaties te wees. Dis ook een van die redes hoekom ek nooit omgee as mense met my kom gesels nie.
“Ek streef ook daarna om die regte ding te doen en glo dat ons bereid moet wees om mekaar te verstaan. Jy hoef nie oor alles saam te stem nie, solank jy net probeer begryp waar ander se standpunte vandaan kom. Ons moet leer om nie mense net dadelik te oordeel nie. Dit is iets wat ek by my ma en pa geleer het. Om net Martelize te wees. Oop en eerlik. ’n Luisteraar het dit op ’n kol ‘onopgesmuk’ genoem. Ek probeer nie aansit nie, maar ek weet ook ek is beslis nie perfek nie.”
Het jy raad vir jongmense wat graag in radio wil werk?
Martelize glo dat ’n studierigting wat met die media te make het kan help, maar dat ’n graad in joernalistiek nie noodwendig nodig is nie. “Wys jy stel belang, klop aan by gemeenskapsradiostasies en gaan kyk wat doen hulle. ’n Mens kan baie leer deur net te sit en kyk en in te neem. Maak koffie, wees hulpvaardig. Dit verg harde werk teen min vergoeding. Leer soveel moontlik van die medium. So kan jy byvoorbeeld ’n kursus volg om te redigeer – ’n vaardigheid wat van groot waarde is as jy by ’n radiostasie wil werk.
“Daag op.
Ek het al vrot siek uitgesaai en ons almal het mos maar afdae, maar dis belangrik om ’n positiewe beeld uit te straal. Mense het genoeg probleme en stres van hul eie. Jy as omroeper moenie daartoe bydra nie.”

Wat sou jy as jou grootste uitdaging as omroeper beskou?
“RSG is uniek, want ons gehoor is so divers en verteenwoordig ’n wye groep mense met ’n groot verskeidenheid voorkeure. Dit gaan dus daaroor om vir almal uit te saai – van die musiek tot die onderwerpe waaroor gepraat word. Dit is nogal ’n uitdaging om vir almal binne 15 minute in een program tevrede te stel.”
Sê jy maklik ‘ja’?
Martelize glo daarin om nie dinge te veel te oordink nie. “Soms is dit nodig om by die diep kant in te spring en net te swem, want anders gaan jy dinge gereeld misloop. Dit is egter nodig om behoorlik te beplan en voorbereid te wees. Veral in my geval, waar ek spesifieke behoeftes het, maar ook weet dat daar nie altyd vir alles voorsiening gemaak kan word nie. Ek het egter besluit om nie vasgevang te word in ’n watte-toegedraaide lewe nie, ongemak in die gesig te staar en die lewe te kies.”
Hierdie gesindheid van Martelize het daarvoor gesorg dat sy al menige interessante en opwindende reise saam met die mense van Live the journey ervaar het, onder andere om die gorillas in Rwanda te ervaar. Sy vertel dat Jurgen Schoeman en sy span weet wat hulle doen, maar dat sy natuurlik soms bietjie op haar senuwees is, maar nooit bang nie. “Ek druk maar my trots in my sak, vra hulp en gaan aan. Ek het die keuse gemaak om die wêreld te ervaar na die beste van my vermoë.”
Verduidelik jou filosofie oor gemaksones.
“Gemaksones is lekker, en jy kan herlaai, maar ’n mens kan nie daarin groei nie. Dis nodig om jouself bloot te stel om ander se siening te verstaan en te weet waardeur ander mense gaan, al maak dit jou ongemaklik of ontstel dit jou. Ek vind dat ek baie energie uit ongemaklike situasies skep.
“Om jouself te dwing om buite jou gemaksone te beweeg, hoef ook nie onmiddellik te gebeur nie. Doen dit stappie vir stappie, Dit gee jou kans om geleidelik aan te pas.
“Soos tydens buiteuitsendings. Ek kan nie verstaan hoekom die toilette altyd so ver van die verhoog af is nie,” lag sy. “Maar, hoekom moet ek buiteuitsendings vermy net omdat ek in ’n rolstoel is. Daar moet mos ’n oplossing wees vir alle uitdagings! Ons is heeltemal te geneig om teruggehou te word en te wil bly daar waar ons gemaklik voel, maar deur altyd ‘nee’ te sê, laat jou nie regtig lewe nie – jy leef dan maar net van dag tot dag.”

Vertel oor jou reis vandat jy as 13-jarige skielik verlam geraak het.
“Ek was deur die jare bevoorreg om spesiale ervaringe te hê en dit bly positief. Die verlies lê egter daarin dat jy nie meer die vryheid het om dit te kan doen soos altyd nie.”
“Ek was in die eerste kwartaal van graad agt toe ek een oggend geweldige pyn in my bene ervaar het, op die bed gaan lê het om te kyk of dit nie wil help nie … en toe nooit weer kon loop nie. Die rede kon nooit met sekerheid vasgestel word nie, maar dit is toegeskryf aan inflammasie in my rugmurg.
“Natuurlik het dit ’n massiewe effek op my lewe gehad, veral omdat ’n mens nie die toekoms kon voorsien nie en die verwagtinge oor wat ek in die lewe gaan bereik ook skielik op die agtergrond geskuif is.
“Ek was net so dankbaar dat ek na ’n kwartaal kon teruggaan skool toe. Omdat ek geleidelik van my spiere en gevoel teruggekry het, was ek onseker oor wat gaan gebeur en het ek gehuiwer om by organisasies vir gestremdes in te skakel en net probeer om my lewe so normaal moontlik te laat verloop. Maar … ek moes baie dinge prysgee, nie net oor die breperkinge van die rolstoel nie, maar ook ’n mens se liggaam. Omdat ek kan voel, is ek elke dag in pyn van die baie sit, en kan ek na 35 jaar baie aktiwiteite nie meer baasraak nie, maar dan kry ’n mens maar iets anders of doen dit anders – daar is altyd opsies.”
Vertel oor jou liefde vir kosmaak en braai.
Dink jy ’n mens kan alles oor die kole doen?
Met Matie Brink as jou pa, is dit seker onvermydelik dat ’n mens in kos sal belangstel. Hy was ’n avontuurlustige kok en Martelize beaam dat dit haar steeds inspireer. “Ek dink altyd aan kos en wat ek volgende gaan voorberei. Ek is ook baie lief om te eksperimenteer en wil alles self kan maak. Dis een van die redes hoekom ek in my resepteboeke mense aanmoedig om iets nuuts te probeer en hulself uit te daag.
“Volgens my kan jy 99,99% van alles oor kole gaarmaak. Ek het al selfs koek gebak in ’n pot oor die kole. Die hele ervaring van vuurmaak is vir my magies. Dis nie net nog ’n manier om kos gaar te maak nie. Hoewel ek niemand oordeel oor die tipe hout wat hulle verkies en of hulle brikette of gas gebruik nie, skep hout vir my die atmosfeer en dra dit grootliks by tot die geur en die reuk van die kos wat jy gaarmaak.”

’n Gesonde leefstyl is vir jou belangrik.
Het jy wenke om dit te handhaaf?
Martelize reken dit bly maar ’n uitdaging om gesond te leef. “Ek probeer hard om gedurende die week gesond te eet en te oefen, maar naweke gee ek bietjie skiet, en is ek nie so streng nie. Dit gaan maar oor ’n gesonde balans. Ek kan allermins aan ander voorskryf, want ek maak baie foute, maar mens moet soms kan afskakel ook. Ek het egter baie respek vir diegene wat dit meestal kan doen.”
Beskryf jouself in ’n paar woorde.
“Lojaal, vriendelik en meestal ’n goeie mens.”
Wat is vir jou die mooiste eienskap van ’n mens?
“Empatie. Om werklik om te gee vir elke mens en dier rondom jou.”
Jy saai in Afrikaans uit.
Wat beteken die taal vir jou?
“Ek is trots daarop om die geleentheid te hê om elke dag uit te saai in die taal wat ons almal s’n is en behoort te wees.
Wat is jou gunstelingkos?
“Ek geniet dit om ’n broodjie te bak. Warm, varsgebakte potbrood met my ma se snoekpatee moet my laaste maaltyd wees.”
Rooi- of witwyn?
“Ek gee nie om wat voorgesit word nie, maar self koop ek rooiwyn.”
Gunstelingmusiek?
“Ek het ’n wye smaak. Het grootgeraak in die grunge era van Pearl Jam en Nirvana. En dan Led Zeppelin, The Cure, Rolling Stones – met ander woorde ‘rock’ in al sy verskillende vorme. En dan luister ek ook na sangers soos Anton Goosen.”
Gunstelingboek?
Martelize lag lekker wanneer sy erken dat haar pa se eerste potjiekos-resepteboek een van haar gunstelingboeke is. En dan is Alan Paton se Cry the beloved country spesiaal. “Dit spreek van twee mense uit verskillende wêrelde wat uit baie hartseer saamgaan en vrede vind.”
Gunstelingaanhaling?
“As jy iets wil verbeter, maar agteroorsit en wag dat dit vanself gebeur, kan jy jou nie self as deel van die oplossing ag nie, want eintlik het dit net by praat gebly en het jy niks gedoen nie.”
*Afrikaans.com bedank Martelize vir die lekker gesels. Mag die toekoms nog vele avonture inhou.








