Skrywer: Seugnet van Zyl
Solank as wat daar nuus is, sal sy stories skryf.
’n Bekende boekresensent moedig almal nou aan om met die misdaadfiksieskrywer Irma Venter se kenmerkende aanslag kennis te maak.
Jonathan Amid skryf as jy nog nie een van Irma se boeke gelees het nie, is dit nou die ideale geleentheid om met haar 11de boek, Die drie weduwees, te begin.
Die drie weduwees is Irma se vierde boek in die Ami Prinsloo-reeks. Irma het lesers in 2021 aan die ondersoekende joernalis Ami Prinsloo in Minder as niks bekendgestel. Die verkeerde vrou het ’n jaar later gevolg en toe Al wat tel en nou het Die drie weduwees pas verskyn.
Jonathan skryf al drie Irma se vorige boeke in dié reeks was uitstekend, “maar Die drie weduwees is sowaar so vernuftig aanmekaargesit, so slim ontwikkel, so skerp in die karakterisering, so gelaai met slim en veelseggende detail en so oortuigend as ’n spanningsroman en karakterstudies dat jy wil opstaan en hande klap teen die einde. Die verhaallyne is onvoorspelbaar, daar is wendings wat jou laat besef dat hierdie skrywer allermins enige byt of angels hier prysgee en die dialoog is so gestroop, pittig en skerp soos altyd”.
Afrikaans.com het met Irma gesels om die mens agter die stories beter te leer ken.
Irma is self ’n joernalis by ’n mediamaatskappy in Kaapstad, waar sy in handel en nywerheid spesialiseer. Sy fokus meestal op die motorbedryf. Sy is aan die Oos-Rand gebore en het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Port Natal in Durban voltooi. Ná skool het Irma kommunikasiekunde (joernalistiek en radio) en internasionale politiek op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer. Sy was ook redakteur van die Wapad-studentekoerant.
Sy het reeds op 17 besluit dat sy eendag ’n boek wil skryf. Irma het nog altyd van die misdaadgenre gehou, omdat sy mal is oor raaisels en hoe hulle aanmekaargesit en ontrafel word.
Voor Irma die Ami-boekreeks geskryf het, het sy bekendheid met haar S-reeks verwerf. Anders as die Ami-reeks, het die sewe boeke in hierdie reeks, waaronder, Skoenlapper, Skrapnel, Sondebok, Skarlaken, Sirkus, Sondag en Sewe-en-veertig, eenwoordtitels en die Ami-reeks drie.
Sy verlekker haar daarin om ’n storie aanmekaar te sit wat heeltemal haar eie kopwerk is.
Die lewe. Mense. Suid-Afrika se mense. Suid-Afrika se nuusstories. Suid-Afrika se uitstekende joernaliste, dien as inspirasie vir Irma se skryfwerk.
“Boek-maak is ’n organiese proses, wat mettertyd begin leef en bene kry, en dit bly lekker.”
Sy glimlag op die vraag oor waar haar inspirasie vir die Ami Prinsloo-reeks vandaan kom.
“Solank as wat daar nuus is, sal daar Ami-stories wees. Sy is immers ’n joernalis en ons bly in ’n baie interessante land wat daagliks talle moontlike boeke oplewer. Ek hoef nooit ver te gaan soek om iets te vind waarmee Ami haar kan besig hou nie.”
Irma vertel toe sy besig was om Die drie weduwees te skryf, het sy reeds ’n idee vir die volgende boek gekry.
“Ja, ek werk inderdaad aan Ami nommer vyf. Die voorlopige titel is Een vir Een en dit sal die eerste Ami-boek wees wat in die Kaap afspeel.”
Danksy haar werk, bly sy al vier jaar in die Kaap, maar sy sal altyd lief bly vir Pretoria, waar sy in die Moot gebly het.
Die Moot speel ’n groot rol in Die drie weduwees.
“Ek was op soek na ’n lekker groot, uiteenlopende buurt wat ek goed ken, en die Moot was die antwoord. Dit kon seker netsowel Bellville gewees het, of Kempton Park, of talle ander plekke in Suid-Afrika. Ek was baie gelukkig in die handvol jare wat ek in die Moot gebly het. Dit was vir my ’n gemeenskapsbuurt met ’n gesonde siel.”
Leef die boekkarakters in haar kop?
“Inderdaad lewe die karakters in my kop. Ek skryf nou al vir meer as vyf jaar oor Ami, so ek weet waarvan sy hou en wat sy haat. Wat sy eet, haar voorkeur in mans, haar oefenroetine – maak nie saak wat nie. Op ’n manier is dit lekker, want ek en sy is vriende, maar op ’n manier is dit ook moeilik, want sy begin ’n wil van haar eie ontwikkel oor wat sy wil, en nié wil doen nie.”
Hoe vind sy tyd om boeke te skryf met haar voltydse werk?
“Ek staan baie vroeg in die oggende op om te skryf en begin dan met my dagtaak as joernalis. Albei take vul my met diep vreugde. Beide prosesse is vir my ’n manier om die lewe – en die lewe in Suid-Afrika, spesifiek – te absorbeer en te verteer; om ’n sinvolle bydrae te lewer.”
Tussen die twee ambagte, vind Irma se kop aan die einde van die dag rus, waar feite en fiksie hulle balans vind as mens die 24 ure van die dag bymekaartel.







