Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Afrikaans Amptelik 100 bewys dat ware verandering moontlik is.
Tydens die onlangse Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport se kultuurtoekennings vir 2025, was dit ’n riem onder die hart om te hoor dat die Afrikaans Amptelik 100-projek ook genomineer is. Die Departement staan vir bemagtiging, diversiteit en meertaligheid en die toekennings erken jaarliks uitnemende bydraes tot die kunste, kultuur, erfenis, taal, biblioteke, argiewe, museums en geografiese name. Sê René Arendse, adjunk-koördineerder, Afrikaans Amptelik 100: “Dit was vir ons ’n groot verrassing en al het ons nie die kategorie gewen nie, was dit ’n eer en prestasie om saam met organisasies en instansies soos die Suidoosterfees en die Universiteit van Wes-Kaapland genomineer te word. Om saam met hierdie instansies deel te wees van ’n narratief wat Afrikaans herposisioneer as ’n inklusiewe, inheemse taal, was ’n groot eer.”
Afrikaans.com het met René gesels oor die Afrikaans Amptelik 100-projek wat op 25 Oktober amptelik met die makietie in die Paarl afgesluit word.
Ons wou meer weet oor die uitdagings en suksesse, wat dit vir haar op persoonlike vlak beteken het en of dit dan nou die einde van die projek beteken?
René vertel dat die Afrikaans Amptelik 100-veldtog, soos oorspronklik beplan, aan die einde van hierdie jaar tot ’n natuurlike einde sal kom. “Dis ’n mooi gevoel van voltooiing,” sê sy. “Wat as ’n eenmalige projek begin het om Afrikaans se 100-jarige bestaan as amptelike taal te vier, het veel groter geword as wat enigeen van ons kon voorsien. Teen alle verwagtinge in het ons daarin geslaag om ’n veldtog wat aanvanklik as kontroversieel beskou is, te omskep in ’n viering van inklusiwiteit en herbesinning — een wat in al nege provinsies én vier ander lande weerklank gevind het.”
Sy voeg by dat die grootste uitdagings was om mense se persepsies van Afrikaans te verander, en om ’n taal wat vir soveel mense seer, skaam of kwaad verteenwoordig, weer as iets helend en versoenend te laat beleef. “Ons is ongelooflik dankbaar vir die pad wat ons saam met soveel gemeenskappe kon stap — vir die oop harte, eerlike gesprekke en die nuwe sin van trots wat oral begin deurbreek het. Die projek mag eindig, maar die beweging wat daaruit gebore is, sal beslis bly groei.”
“Ons moet ons kinders weer saggies lief maak vir Afrikaans. Ons hoef nie te baklei nie. Ons moet net gemeenskaplikheid bewerkstellig.”

René vertel dat die Afrikaans Amptelik 100-veldtog beslis blywende verandering teweeggebring het. “Ons het soveel mylpale bereik wat ons nooit voorsien het nie,” sê sy. “Nasionale en provinsiale taal- en kultuurorganisasies het hulle steun aangebied en ons werk begin raaksien. Gemeenskappe en vennote het finansieel bygedra en skenkings gemaak wat ’n tasbare verskil gebring het. Een van die groot hoogtepunte was dat ons kon help bemiddel vir ’n skenking van R1 miljoen aan ’n historiese Bo-Kaapse kultuurgroep — ’n gemeenskap wat al dekades lank Afrikaans en Nederlands as deel van hulle erfenis laat voortleef, en nou vir die eerste keer op só ’n vlak erkenning ontvang het.”
Sy vertel verder dat skole regoor al nege provinsies — en selfs in Namibië — die eeufees gevier het, elk op hul eie unieke manier. Buiten die projek se eie amptelike feeste kon Afrikaans Amptelik 100 ook die internasionale Namafees in Carnarvon en nege ander kleiner taal- en kultuurfeeste landwyd ondersteun.
“Dit was ongelooflik om te sien hoe die idee van ’n gedeelde, inklusiewe Afrikaans begin wortelskiet — nie net op groot verhoë nie, maar in dorpe, skole en gemeenskappe regoor die land.”
Afgesien van teenstand uit sommige oorde, het die Afrikaans Aamptelik 100-bestuur nie moed opgegee nie. “Dit was party dae moeilik. Want hoe maak jy skade wat vir honderde jare aangerig is, ongedaan. Die bagasie en die seer wat mense steeds met hulle saamdra, hoe maak jy dit minder seer? Ons kon nie idealisties wees en dink ons kan dit met een projek laat verdwyn nie. Ons moes ’n diepe verskuiwing aan die gang sit. Dit is hoekom ons besluit het om minder te praat en meer te doen.

“En uiteindelik het ons die voorreg gehad om betekenisvolle verhoudings met die gemeenskap van die Bo-Kaap en ander te bou – verhoudinge wat met eerlike gesprekke, luister en respek gegroei het. Ons grootste taak was om by te dra tot ’n nuwe verstaan van Afrikaans en om die taal se narratief te verbreed, sy geskiedenis vollediger te vertel, en veral om persepsies oor wat Afrikaans is – en vir wie dit is – te help verskuif.
“Ek vertel graag die staaltjie van die oom wat aanvanklik een van ons groot teenstanders was, wat later tydens die Woordfees opgestaan het en erken het dat hy die verskuiwing kon sien. Ek kon dit maar net beaam en het vir hom gesê dat ons wel moeilik afgeskop het, maar dat dit ons laat besef het om minder te praat en meer te luister.”
René noem dat Afrikaans Amptelik 100 se opdrag was om Afrikaans se 100-jarige bestaan as amptelike taal te vier. “Ons het egter geweet dat dit nie net bloot vieringe of partytjies kon wees nie. Ons het hier te doen gehad met ’n taal wat voorheen verdeeldheid gebring het. Dit was daarom belangrik om deur ons doen en late versoening teweeg te bring. Ons het ons voor ’n toe deur bevind en moes die deur oopmaak. Die seer en kwaad in die oë kyk. En dit is hoekom ons besluit het om op gemeenskaplikheid te fokus – daardie dinge waaroor ons saamstem.
“Toe die mense dus vir my sê dat Afrikaans nog nooit iets vir hulle gedoen of beteken het nie, het ek nie met hulle gestry nie, maar gevra of ons wel kon saamstem oor waar Afrikaans begin het. En dat hierdie vieringe ’n geleentheid was om eienaarskap te neem en Afrikaans huis toe te bring.”
René vertel ook dat sy diegene wat die taal blameer het, moes oortuig dat dit nie die taal is wat mense seermaak nie, maar die mense wat die taal misbruik. “Mense maak mense seer – nie taal nie.”
Die bestuur van Afrikaans Amptelik 100 het vroeg reeds besluit dat hulle moes teruggaan na die begin, maar dat daar begrip moes wees – juis omdat die trauma so diep lê. “Ons taak was opvoeding, en om bewuswording, begrip en verdraagsaamheid te bewerkstellig.”
René voel sterk daaroor dat Afrikaans nie haar identiteitsmerker is nie. “Nee, my karakter, waardes en die keuses wat ek maak, dit is wat my identiteit weergee. Ek weet baie mense sê jou taal is jou identiteit, maar ek glo dit nie heeltemal nie.
My taal bepaal nie of ek openhartig, rassisties, ’n goeie of slegte mens is nie. My binneste bepaal dit.
As ek more Duits, Frans of Zoeloe moet praat, is ek steeds René. My taal is ’n instrument om uit te druk wat ek van binne is.” Volgens haar is dit ons elkeen se keuse hoe ons ons taal gaan gebruik om ’n nuwe narratief te skryf. Ons het elkeen ’n verantwoordelikheid teenoor ons kinders en kleinkinders om by te dra tot ’n nuwe begin vir Afrikaans en ontslae te raak van die stigma en die bagasie van die verlede sodat Afrikaans kan voortleef as ’n taal wat toeganklik en vriendelik is.

“Ek is ’n groot voorstander van moedertaalonderrig. Afrikaans is die som van al sy variëteite. Op die ou end moet ons nie skaam wees om ons kinders na Afrikaanse skole te stuur nie.”
“Nog ’n hoogtepunt was die besluit om langtafel-etes te reël. Om tafels te dek waar mense kon saamsit en saam eet. Dit was om daardie tafels, met die heerlike kos uit die gemeenskappe, waar ’n mens net weer tot die besef gekom het dat ons eendersheid baie groter is as ons andersheid. So saam waar almal jou taal praat, voel jy deel van die gemeenskap, want jy behoort.
“En dan ons skolekompetisie. Die skole se kreatiwiteit en entoesiasme het ons hoogste verwagtinge oortref. Die meeste inskrywings is uit die Noord-Kaap ontvang. Ons maak die top-tien-skole op 25 Oktober bekend en sal in November ons wenskole aankondig.”
Hoe moet ons hierdie suksesse wat behaal is, verder neem?
“Vir my is vooruitgang ingemessel op drie pilare, naamlik die onderwys, die kunste en die media. Dit is waar ons ondersteuning moet wees – maar binne ’n meertalige landskap.”
René voel ook sterk oor die ekonomiese ontwikkeling van die taal. “Ons moet deur mentorskap, entrepreneurskap en besighede ons kinders van jongs af leer dat besigheid ook in Afrikaans kan floreer. Vertel die stories van sukses in en deur Afrikaans. Versterk die boodskap dat ons ons drome deur Afrikaans kan vlerke gee. Op die manier kan ons ’n dieper voetspoor vir Afrikaans skep.”
René sê ook dat bewuswording op sosiale vlak belangrik is, maar dat ons moet wegbeweeg van die idee dat Afrikaans ’n huis vol kamers is, want dan plaas ons onsself weereens in boksies. Afrikaans moet saam onder een groot dak wees. “Ons almal moet rondom dieselfde tafel sit. Elkeen van ons moet deel wees van die verandering. Kom ons wees die verskil binne die konteks van ons taal – sy Afrika-konteks. Hou op baklei. Dis maklik om te blameer en glo my daar is rede daarvoor, maar ons groter taak is om verantwoordelikheid te neem en iets te doen!”
Die deur is oopgesluit en die toekoms wink
“Ons het net die deur oopgesluit. Nou moet ons saamstaan en waarde toevoeg. Met die reëlings het ons oral waar ons byeenkomste gehou het, plaaslike diensverskaffers gebruik. Ons het die plaaslike gemeenskappe gehelp om die groter prentjie raak te sien. Om te besef daar is genoeg vir ons almal, solank ons saamwerk. So kan ons mekaar oplig.”
Wat het dit vir jou op persoonlike vlak beteken om deel van die Afrikaans Amptelik 100-projek te wees?
René erken, met trane in haar oë, dat sy aan die begin van hierdie reis altyd gesê het dat niks wat sy ervaar of moes deurmaak persoonlik is nie, “maar totdat dit wel is”. Sy vertel dat sy dikwels aan haar pa dink, ’n oud-Afrikaanse onderwyser van die Bo-Kaap en iemand wat Afrikaans innig liefgehad het. “As hy vandag hier kon wees,” sê sy sag, “sou ek vir hom wou sê: ‘Daddy, ons het Afrikaans huis toe gebring.’”
Daardie oomblik van besef het haar laat verstaan hoekom hierdie projek oor haar pad gekom het. Sy moes opstaan, vasbyt, en met waardigheid aanhou beweeg want, soos haar ma altyd gesê het, sy is net soos haar pa: deeglik, en hardkoppig daarby.
Sy het geleer dat ware verandering nie deur woede of verdediging kom nie, maar deur geduld, luister en deernis.
“Wanneer iemand sê Kaaps is ’n minderwaardige of ‘onopgevoede’ manier van praat, het ek geleer om dit nie as seer te hoor nie, maar as ’n teken dat daar nog verhale is wat vertel moet word, oor wie ons is, en waar ons vandaan kom. Hierdie reis het my geleer om te verstaan eerder as om te oordeel; om my ore toe te maak vir die lawaai, en om mense – stadig maar seker – weer saggies lief te maak vir Afrikaans.
“Dis hoekom ek aspris sal vashou aan my oortuiging dat ons elkeen ’n keuse het om aan te hou hoop, want ons kan kies hoe ons die narratief gaan verander. Vir my was en sal die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal altyd die begin van ’n nuwe hoofstuk in ons taal simboliseer. ’n Taal wat geleentheid vir versoening, gemeenskaplikheid en vreugde dra.”

Ons sluit af met die aangrypende gedig van die digter Diana Ferrus: Afrikaans, ’n versoeningstaal.
Afrikaans, ’n versoeningstaal
Deur Diana Ferrus
“Dit is – het hulle gesê – die taal van die verdrukker.
Dit kom – het hulle gesê – uit die mond van Europa.
Dit het – het hulle gesê – ’n enkele styl, net een vir kommunikeer.
Maar uit die buik van Afrika kom sy
Uit die monde van slawe, Europeërs en inheemse volke
dans sy op die maat van oeroue tromme en handgemaakte kitare
Dra sy kostuums van vele kleure en sing sy in ’n duisend stemme.
Nou, na die stormjare, dans sy nie meer so flink,
maar sy omhels die skouers van haar susters en kus versoenend op elke wang.
Aan die geveg oor identiteit het sy geen erg
In die Afrika-renaissance vind sy haar weg.”
Lees meer oor Afrikaans Amptelik 100 hier TUIS – AFRIKAANS 100
Lees oor die digter, Diana Ferrus hier Diana Ferrus: ʼn Belangrike stem in die Suid-Afrikaanse poësielandskap – Afrikaans.com
René Arendse in gesprek met Diana Ferrus. Klik hier #afrikaansaanlyn – René Arendse gesels met Diana Ferrus – Afrikaans.com
Luister en kyk:
Diana Ferrus dra haar aangrypende gedig, Afrikaans, ‘n versoeningstaal voor.







