Skrywer: Seugnet van Zyl
Leon Schuster wil mense net laat lag
Lewensgroot, hy bring lag, een van die beste storievertellers en die beste van alle tye.
Só word Leon Schuster deur ander bekendes in ’n nuwe dokumentêr oor dié grapmaker se lewe opgesom.
In dié dokumentêr, Schuster, vertel Leon dat hy by sy ma, Jessie, geleer het hoe om poetse te bak.
Min het Jessie geweet dat haar jongste nie net as grapjas en poetsbakker, filmmaker, komediant, akteur en sanger bekend sou word nie, maar dat hy ook ’n reusebydrae tot nasiebou sou lewer.
Oh Schucks soos hy alombekend geword het danksy sy vele flieks wat die land laat skater het, is onlangs by die Silwerskermfees vir sy lewensbydrae tot die vermaakwêreld in Suid-Afrika vereer.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het in September vanjaar ook ’n eretoekenning aan Leon vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek, rolprente en radiowerk by sy huis in Randburg, Johannesburg oorhandig.
Met die oorhandiging van die toekenning het die FAK sy waardering uitgespreek vir Leon se volgehoue werk om die Afrikaanse taal en kultuur op ’n toeganklike en vreugdevolle manier te bevorder.



Leon is al dekades volksbesit, en nou word sy lewensverhaal vir die eerste keer in ’n dokumentêre reeks van vyf episodes op kykNET (DStv-kanaal 144) vertel.
“Leon Schuster is ’n nasionale skat en seker naas Madiba, oor generasies heen, die bekendste mens in Suid-Afrika,” sê Rian van Heerden, vervaardiger van Schuster.
“Dit was vir my egter vreemd dat sy storie nog nooit in diepte vertel is nie. Ek wou graag die uitdaging aanpak om sodoende hopelik sy nalatenskap te verewig.”
Met Afrikaans.com se inloer by Leon oor die onlangse toekennings en dokumentêr, sê hy dadelik hy hou nie van selfverheerliking nie.
Hy sê hy was baie skepties oor die maak van die dokumentêr.
“Dis nie vir my belangrik dat ek vereer word nie.”
Hy praat met lof van Rian, vir wie hy reeds jare lank ken.
“Hy is uiters professioneel en het my amper met vrae uitgevang wat my byna laat bollemakiesie het.”

Leon sê dan met ’n lag in sy stem dat hy deesdae soos ’n oupa voel.
Hy het al vier operasies aan sy rug ondergaan nadat hy met die verfilming van Mr. Bones 3 geval het. Liga-rugby en die verduur van vele klappe van mense wat hy in sy rolprente kwaad gemaak het, het dié besering volgens hom net vererger.
“My rug kneuk my verskriklik op,” sê hy dan droogweg.
“Ek kan nie werk nie. My rug kneuk my kop op. Dis só seer.”
Hy kan nie meer bestuur nie en ’n verpleegster sien na hom by sy huis om.
Ondanks die konstante pyn en dat dokters sê hy vir die res van sy lewe net die helfte van die gebruik van sy rug sal hê, sê Leon hy kyk net boontoe en met die hulp van die Here pak hy elke dag aan.
Leon, gebore en getoë in Bloemfontein, het ’n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf, waar hy vir die Shimlas rugby gespeel het. Ná ’n draai as onderwyser het sy loopbaan in alle erns in 1975 by die SAUK begin. Hy het aanvanklik by die SAUK aangesluit omdat hy ’n sportkommentator wou word. Hy het die radioprogram, Monitor, aangebied en nuus gelees op die destydse Afrikaanse diens. Met die radioprogram Die Vrypostige Mikrofoon het hy bekendheid verwerf. Later het hy Waar en wolhaar en Koukus saam met Fanus Rautenbach aangebied. Van 1975 tot 1984 het Leon as omroeper/- en regisseur vir die SAUK gewerk.

Flieks soos You Must Be Joking en Oh Shucks, It’s Schuster het van Leon ’n huishoudelike naam gemaak. Hy het ook vir een van die grootste Suid-Afrikaanse treffers gesorg toe hy in 1995 sy liedjie “Hie’ kommie Bokke” uitgereik het.
Leon se narratiewe rolprente, soos There’s a Zulu on My Stoep en Mr Bones, het plaaslike loketrekords verpletter, met Suid-Afrikaners van alle agtergronde wat aanklank gevind het by sy komiese blik op die land. There’s a Zulu on My Stoep het ook gewildheid in Amerika geniet, maar uit sy 18 vollengterolprente is dit Mama Jack wat vir Leon die naaste aan die hart lê.
“As iemand wat vreugde vir Suid-Afrikaners gebring het,”sê Leon is hoe hy onthou wil word.

In die vyf episodes van Schuster word daar gekyk na Leon se jeugjare in Bloemfontein, sy jare as radio-omroeper en die latere sukses wat hy met rolprente soos You Must Be Joking en Mama Jack behaal het.
In dié dokkie word daar ook onderhoude gevoer met mense wat saam met Leon gewerk het en met van diegene wat deur hom uitgevang is. Eddie Eksteen, Carike Keuzenkamp, Jack Parow, Helen Zille, Alfred Ntombela (ook bekend as Shorty), Rob van Vuuren en Desmond Dube is van die bekendes wat hulle stories deel.

Leon vertel in Schuster dat sy hele lewe oor gekskeer gegaan het en hoe hy sy ma se telefoonrekening in sy jongdae opgejaag het met poetse oor die foon. Hy het agt flieks gemaak waar hy met mense gekskeer. Van al die poetse wat hy al in sy lewe aangevang het, deel hy in die dokumentêr wat sy gunstelingpoets van alle tye is.
Rian sê Schuster beloof om ’n kant van Leon te wys wat Suid-Afrikaners nie ken nie.
“Daar sal beslis genoeg humor en vermaaklike staaltjies wees, maar ook emosie en die trane van ’n geliefde hanswors.”
Schuster is op Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), en die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Nog interessanthede oor Leon Schuster:
- Hy was die stem van Sarel Seemonster in Wielie Walie
- Hy is die komponis en skrywer van trefferliedjies soos “Ek sien vandag die son weer skyn”, asook “Drakensberg van verlange” en “Troepie Doepie” wat hy vir Rina Hugo geskryf het.
- Sy eerste poging as sanger was die kortspeler, Gerrie, Seerhandjies Coetzee en sy eerste langspeler, Leon Schuster het die musiekmark in 1982 getref.
- Hy was die aanbieder van Telemuzik op TV4.
- Sy album, Hie kommi Bokke! is met ’n FNB Sama-musiekprys bekroon.
- Die meeste van sy langspelers het goue status en sy skaterlagrolprente het goue status bereik.
- Hy het 18 flieks gemaak en 23 albums uitgereik.







