Persverklaring; Die WAT
Is jy ’n doring met die skep van nuwe woorde? Dan is die WAT se Nuutskeppingskompetisie nommerpas vir jou.
Wie weet dalk is jou neologisme vanjaar die wenner. Jy moet egter opskud.
Die kompetisie sluit op Dinsdag 14 Oktober om 12:00.
Meer oor die kompetisie
Die WAT se jaarlikse Nuutskeppingskompetisie vind tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees in samewerking met Spektrum op RSG en die ATKV plaas.
Jy kan nou reeds jou inskrywings stuur aan wat@sun.ac.za, met “Nuutskepping” in die onderwerpveld. Inskrywings vir vanjaar se kompetisie sluit op Dinsdag 14 Oktober om 12:00.
Vanaf Maandag 13 Oktober sal daar elke dag in Spektrum aangekondig word vir watter drie inskrywings gestem kan word, ten einde die drie dagwenners en algehele wenner te bepaal. Die algehele wenner word op Vrydag 17 Oktober aangekondig. Die ATKV is weer die borg van ’n R500-kontantprys vir elk van die dagwenners en vier nagte in ’n ATKV-oord vir die algehele wenner.
Hoe lyk so ’n nuutskepping?
Die nuutskeppings moet verkieslik woorde wees wat ’n nuwe verskynsel op ’n treffende manier beskryf of wat ’n alternatief vir ontoereikende bestaande woorde bied. Dit moet dus ’n voorstel vir ’n woord wees waaraan daar ’n behoefte in Afrikaans is. Die nuutskeppings hoef nie te rym of te allitereer nie.
US Woordfees
Is jy by die Woordfees in Stellenbosch van Maandag 13 Oktober tot Vrydag 17 Oktober? Gaan kuier dan by die WAT se Borg ’n Woord-stalletjie. Hulle is in die Vierkant agter die US Kunsmuseum.









