Skrywer: Seugnet van Zyl
Drama bruis deur sy bloed
Vir die eerste keer in dekades is Anrich Herbst weer op die kassie en in ’n sepie te sien.
Kykers onthou vir Anrich veral as die ougat Wimpie (toe 15 jaar oud) in Orkney snork nie, as Dewald Vorster in Egoli: Plek van goud en natuurlik as Duncan Haines in Isidingo. Anrich is veral bekend vir sy rol as Wimpie. Mense herken hom vandag steeds as dié karakter. Hy het ook in Die vierde kabinet, Die plek van die vleisvreters, Die boekklub en onlangs in Die nuusmakers verskyn.
Drama bruis deur sy bloed. Sy ma, Kristie Herbst, was in Nommer asseblief as Belinda Jonker te sien, en in Trompie en die Boksombende was sy Mev. Gerritse. Kykers sal ook sus Karleine onthou vir reekse soos Die sonkring en Grondbaronne. Ja, die toneeltalent loop diep deur die Herbst-are.
Anrich is nou weer in die kykNET-sepie Suidooster te sien.
Vertel ons bietjie meer oor jou rol in Suidooster
“Mike is ’n siviele ingenieur wat in die ooste van Pretoria bly saam met sy vrou, Amanda. Hulle het ’n dogter, Frankie, wat in die Kaap kom werk het. Ons weet nog nie of daar nog kinders is nie … Mike en Amanda is al meer as twintig jaar getroud. Mike is op ’n plek in sy lewe waar hy gemaklik is met homself. Mike het ’n sukses gemaak van sy loopbaan en sy huwelik. Hy verwag dat Frankie dieselfde paadjie sal loop as wat hy geloop het en dat sy ook dieselfde waardes openbaar as waarin hy en Amanda glo. Dan, onverwags, ontmoet hy ’n vrou wat iets in hom wakker maak en hom laat voel asof hy skielik nuwe lewe kry. Ná jare se tevrede wees met sy lewe soos dit is, erken hy vir die eerste keer aan homself dat hy dalk na iets meer smag as die verhouding waarin hy en Amanda is. Wat gaan hy hieromtrent doen? Is hulle huwelik sterk genoeg om dit te oorkom? Gaan hy daarvoor baklei?”
Is dit lekker om weer saam met Lindie Strydom te werk sedert Egoli?
Lindie speel Anrich se vrou, Amanda in Suidooster.
“Dis baie lekker! Ons was egter nooit op dieselfde tyd by Egoli nie. Sy was bietjie na my daar. Ons het ’n waardestelsel wat baie ooreenstem, so ons kom baie goed oor die weg.”
Julle verhouding is nou onstuimig.
Is dit lekker om dit te vertolk en oor te dra?
“Dit was soms harde werk om Mike se oortuiging te vind. Dis ’n interessante rol wat soms vra vir skokkende woorde om by Mike se mond uit te kom! Gelukkig is ons net die akteurs wat die skrywers se woorde hardop sê en hulle benader hulle werk met ‘n plan. Ek hoef nie veel te dink daaroor nie. Ek en Lindie was wel in ’n kompetisie met mekaar om te sien wie die meeste simpatie by die kykers kon afdwing, maar uiteindelik was ook dit in die hande van die skrywers.”
Christia Visser speel die ander vrou.
Het jy geweet van dié kinkel? Hoe is dit om teenoor twee vroue te speel?
“Ek het geweet wat ou Mike gaan aanvang, ja. Die teks het my hierin ook gelei: Mike raak verlief op Christia se karakter, terwyl hy en Lindie se karakter ’n heel ander verhouding het. Christia is ‘n briljante aktrise. Ek het beslis die twee vrouens anders benader.”
En die res van die geselskap op Ruiterbosch?
“Ons almal werk hard saam om ’n puik produk te skep. Daar is samehorigheid en ’n gevoel van tuis wees, van die vervaardigers dwarsdeur tot wie ook al die minste geskat word. Ons kry heerlike kos, die produksiespan is baie vriendelik en professioneel, die grootbase is betrokke, bereikbaar, vriendelik. Dis ’n groot eer om deel te wees van die masjien. Ek het ‘n goeie verhouding met al die akteurs, maar natuurlik, uit die aard van die rol, het ek baie tyd spandeer met Mienke en Lindie, beide twee warm mense wat my baie tuis laat voel het. En moenie vergeet nie: ons het baie FUN!”
Is jy nou al gewoond aan die sepiestyl?
“Ek is, ja. Dit het my so twee weke geneem om aanvanklik te dink ek is gemaklik. Toe weer ’n week van onseker wees en toe eers het ek dit werklik begin regkry om die gedagtegange te kan hanteer. Baie van die sepiestyl (vir my) het te doen daarmee om vinnig regie te kan verteer en ’n positiewe instelling te hê oor wat van my verwag word. En jy’s reg, daar is ’n sepiestyl. Ek het dit nooit regtig besef nie, maar soos Mienke Ehlers aan my genoem het, was een van die redes hoekom sy die rol van Frankie wou doen, juis omdat sy die tegniek wou aanleer (en bemeester, as dit moontlik is).”


Jy is al so bekend as stemkunstenaar.
Wat geniet jy daarvan? Verg dit anderste voorbereiding?
“Dit voel vir my baie soos speel! Ek is baie bevoorreg/geseënd om van jongs af blootstelling te kon hê aan daardie deel van die bedryf. Dit is ook ‘n “stiller” plek om te werk en ek geniet daardie deel nogals baie. Ten opsigte van my voorbereiding hou ek my stem gesond en warm dit op voor ek aan die werk spring.”
Anrich het in 2023 aan Xtine Stepcic, ’n juweliersontwerper en -vervaardiger, op die lughawe in Barcelona, Spanje verloof geraak. Hulle het mekaar vroeër daardie jaar ontmoet waar hulle kinders saam aan skoleatletiek deelgeneem het. Hy het twee kinders uit ’n vorige verhouding wat saam met Xtine se twee kinders op skool is.
Hulle het verlede jaar begin om frases uit Orkney snork nie! soos “Poeksie Woepsie”, “Worsie Wapsie” en “ôk maar lekker stupid” op T-hemde te verewig.

Daar is nog nie trouplanne nie, maar hulle sien saam uit na die somer, waar hulle binnekort weer met die druk van nog Orkney-hemde besig gaan raak.

Hy beskou sy tuisateljee as ’n bietjie van ’n man cave.
“Die werk wat ek daar doen, stuur my gedagtes in ander, vars rigtings. Ek probeer wel ook om my woorde vir die volgende dag reeds te ken teen die tyd wat ek by die huis kom sodat ek kan ontspan deur te kook, iets op die TV te kyk of speletjies saam met ons kinders te speel.”
Hy en Xtine doen ook pilates saam wanneer hul kans kry en probeer ook gereeld wegglip, selfs al is dit net vir ’n dag of twee.
Anrich en sy ma, Kristie (82), is tans besig met ’n opvoering, Soms met son.
Hy sê dis ’n vrolike feesviering van ons taal.
“Ek en my ma is saam al meer as ’n honderd jaar in dié bedryf.”
As verteller in dié produksie deel Anrich dat hy sy liefde vir Afrikaans en die woordkuns by sy ma gekry het.
“Ek verduidelik vir mense my ma se rol daarin en hoe sy dit gedoen het en dan wys sy vir hulle. Ek sing ook van die mooiste Afrikaanse liedjies.”
Of Anrich oor die radio ’n boek voorlees of voor die televisiekameras inskuif, hy doen dit in sy moedertaal, Afrikaans








