Deur Marietjie Havenga,
Skoleondersteuningsentrum: Onderwysspesialis
Díe waarde van legkaartbou
Wanneer ’n kind voor ’n legkaart sit en vol konsentrasie probeer uitwerk waar elke stukkie pas, gebeur daar iets wonderliks – nie net op die tafel nie, maar in hul koppe. Wat vir ons na net ’n prettige aktiwiteit lyk, is in werklikheid diep denke en breinontwikkeling wat plaasvind.
Legkaartbou is nie net ’n lekker tydverdryf nie – dit vorm die grondslag van belangrike vaardighede soos visueel-ruimtelike denke, probleemoplossing en volgehoue aandag. Dié vermoëns is nodig vir sukses in vakke soos wiskunde, lees en selfs wetenskap.
Wat leer kinders regtig wanneer hulle legkaarte bou?
1.) Probleemoplossing en strategiese denke
Elke legkaart is soos ‘n klein laboratorium vir denke. Kinders ontleed, beproef, faal, pas aan — en leer daarmee dat foute deel is van leer. Dis uitvoerende funksies in aksie: beplanning, werkgeheue, selfregulering en aanpasbaarheid.
2.) Visuele diskriminasie
Om subtiele verskille in kleur, vorm en detail raak te sien help nie net met legkaarte nie — dis ook noodsaaklik om eendag ’n ‘b’ van ’n ‘d’ te onderskei of soortgelyke letters tydens lees te herken. Dit is visuele geletterdheid-in-wording.
3.) Hand-oog-koördinasie en fynmotoriese vaardighede
Elke keer as ’n legkaartstukkie geplaas, gedraai, of vasgedruk word, oefen die kind sy/haar handjies om fyn en presies te werk. Dis indirekte voorbereiding vir potloodgreep, snywerk en ander belangrike skoolgereedheidsvaardighede.
4.) Volharding en selfregulering
Kinders leer om aan te hou probeer, selfs al pas die stuk nie die eerste, tweede of vyfde keer nie. Só kweek ons deursettingsvermoë en selfbeheersing – belangrike boustene vir latere akademiese en sosiale sukses.

Maak legkaartbou betekenisvol én lekker
1.) Laat kinders hul eie strategie volg
Moenie paniekerig raak as hulle nie “by die hoeke begin” nie. Sommige kinders begin sommer by die kat se ore in die middel van die prent — en weet jy wat? Dis ’n geldige denkstrategie. Hul brein soek betekenis, nie reëls nie.
Laat hulle verduidelik hoekom hulle daar begin het. Jy gaan verbaas wees oor die logika agter daardie sogenaamde “chaos”.
2.) Gebruik taal om denke te stimuleer
In plaas daarvan om te sê: “Dit pas nie,” probeer eerder: “Wat sien jy op dié stukkie?”
Só help jy hulle om visuele sluiting (om die geheel uit dele af te lei) en metakognisie (dink oor hoe hulle dink) te ontwikkel. En boonop oefen hulle taal en luistervaardighede sommer saam.
3.) Kies legkaarte volgens vaardigheid én belangstelling
Begin met vier tot ses stukke en werk op na twaalf tot meer stukke. En moenie onderskat hoe belangrik die prent is nie — kinders werk baie harder aan iets met honde in ruimteskepe as byvoorbeeld generiese geometriese vorms.
Moenie te vinnig die moeilikheidsgraad verhoog nie — laat hulle ook weer en weer ‘n bekende legkaart bou. Dis nie herhaling nie, dis bemeestering en dit bou aan hulle selfvertroue.
4.) Kyk, sonder om te onderbreek
Dit klink eenvoudig, maar is kragtig: kyk. Stilweg. Sonder om reg te maak of te help. Jy sien waar hul denke is, watter strategieë hul gebruik, en hoe hul volhard. Só leer jy die kind beter verstaan.
5.) Moedig samewerking aan
Wanneer kinders saam bou, ontwikkel hulle nie net kognitief nie, maar ook op sosiale vlak. Hulle leer om te wag, te kommunikeer, idees te deel en selfs kompromieë aan te gaan (soos om nie altyd die kat se ore eerste te bou nie).
Bou die brein, een stukkie op ’n slag
Legkaartbou lyk eenvoudig — maar dis soos ‘n mini-breinopleidingsessie, verpak in prettige prentjies en kartonstukkies.
Deur kinders die vryheid te gee om hul eie denke te volg, met net genoeg ondersteuning en goeie vrae, help ons hulle om nuuskierige, selfdenkende probleemoplossers te word.
En die beste van alles? Dis pret.
Hierdie artikel is met trots deur die Skoleondersteuningsentrum verskaf. Besoek gerus hul webtuiste om meer te leer. https://skole.co.za/







