Geskryf namens die AON deur:
Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Ontwikkel so jou kind se vaardighede
Eksperimentering is een van die ses komponente van ’n ideale 21ste eeuse leeromgewing.
Die ander vyf is: lewensvreugde, verkenning, ontdekking, speel en kreatiwiteit.
Hoe verskil verken, ontdek en eksperimenteer?
Kinders verken wanneer hulle sonder ’n bepaalde verwagting ondersoek instel, ontdek wanneer hul ondersoeke vrugte afwerp en eksperimenteer wanneer hulle met ‘n vooropgestelde agenda optree om ’n hipotese (voorspelling) te toets, vergelykings te tref, of oorsaak-en-gevolg uit te toets.
Twee soorte eksperimentering kom van nature algemeen onder jong kinders voor.
Kinders eksperimenteer instinktief terwyl hulle voorwerpe en verskynsels spelenderwys vergelyk, bv. “Kom ons kyk watter vlieër styg die vinnigste!”
Hulle eksperimenteer ook gereeld om ’n hipotese te toets, bv. “Kom ons kyk of ons groter borrels kan blaas as ons meer seep in die mengsel gooi!”
*Die hipotese (voorspelling) is in hierdie geval dat die optimale grootte van die borrels direk verband hou met hoeveel seep daar is. Hierdie soort eksperimentering behels oorsaak-en-gevolg.
Daar is 4 redes hoekom eksperimentering kinders op die 21ste eeu help voorberei.
Eksperimentering ontwikkel kritiese denke. Kinders analiseer terwyl hulle verskynsels vergelyk, voorspellings waag en na oorsaak-en-gevolg kyk. Hulle evalueer terwyl hulle resultate interpreteer.
Dit stimuleer kreatiwiteit. Kinders oefen om vanuit verskillende perspektiewe na te kyk na verskynsels. Hulle oefen ook om met innoverende verklarings, oplossings en navorsingsidees vorendag te kom.
Dit bou veerkragtigheid. Eksperimente werk nie altyd volgens verwagting uit nie, en dis hoe dit hoort! Kinders ontwikkel veerkragtigheid terwyl hulle aanpassings maak en weer probeer.
Kinders leer om soos wetenskaplikes te dink. Kinders wat spelenderwys eksperimenteer volg tot ’n mindere of meerdere mate die wetenskaplike metode: waarneming → vraagstelling → ontwerp → data invordering → analise → gevolgtrekking.
Wenke
Hoe om eksperimentering aan te moedig.
Skep ’n veilige omgewing waarin kinders gemaklik voel om hul eie idees te toets, sonder ’n vrees vir mislukking of dat hulle ongerief sal veroorsaak.
Verskaf oop-end-tipe (open-ended) voorwerpe soos blokke, kunsapparaat en natuurlike voorwerpe waarmee kinders maklik kan eksperimenteer.
Vra vrae wat kinders nuuskierig maak. Bespreek vergelykings, en begin sinne gereeld met “Ek wonder …” , bv. “Ek wonder wat ’n mens die verste sal kan gooi – boontjiesakke, tennisballe of ___ ?”
Vra vrae oor oorsaak en gevolg en hoe verskynsels met mekaar verband hou, bv. “Ek wonder of ’n groot boot vinniger of stadiger as ’n kleintjie sal sink wanneer albei ’n gat inhet wat ewe groot is?”
Dokumenteer kinders se ontdekkings om te wys dat jy self nuuskierig en opgewonde is oor hulle vrae, metodes, waarnemings en gevolgtrekkings.
Kyk uit vir funksionele spel en bou daarop. Tydens funksionele spel hanteer kinders voorwerpe op die tipiese manier, bv. Hulle was met ’n waslap, bou met boublokke, of maak merke op papier met vetkryte. Vra vrae: “Wat sal gebeur as jy meer blokke oppak?” of “Wat sal gebeur as jy die kar teen ’n afdraende laat afry?”
So gebruik jy kinders se vryspel as ’n vertrekpunt om gerigte spel te fasiliteer.
Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk geplaas. Klik hier om meer oor hulle te leer.







