Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Neem vandag die eerste stap na ’n gesonder lewe.
‘n Mens is nooit te oud om te begin oefen, gewig – veral liggaamsvet – te verloor of slap spiere te verstewig nie. Al wat dit vereis, is die wil, dissipline en ’n verbintenis om jou doelwit te bereik.
Waarskuwing: As jy redelik lank onaktief was, is dit raadsaam om jou dokter te vra om ’n paar toetse te doen om seker te maak daar is nie onderliggende gesondheidsprobleme wat dalk jou goeie voornemens om fiks te word en gewig te verloor, kan belemmer nie.
Doen die volgende:
- Stel ’n doelwit. Wat wil jy bereik? Wil jy gewig verloor, fikser word, uiteindelik 10 km draf of sommer net beter oor jouself voel?
- Neem ’n daadwerklike besluit en hou daarby totdat jy jou doel bereik het.
- Gaan gimnasium toe as jy kan – ten minste 3 tot 4 keer per week. Om saam met ander te oefen kan dikwels as motivering dien.
- Heroorweeg jou eetgewoontes. Kies ’n dieet wat by jou kosvoorkeure pas sodat jy nooit voel jy kom jouself te na nie. Hier is twee dinge wat jy kan doen:
- Oorweeg die onderbroke vas-dieet (“intermittent fasting”) – m.a.w. jy eet wat jy wil, maar slegs binne ’n bepaalde tyd in die loop van 24 uur, bv. 16 ure vas en 8 ure eet. Dit verskil van mens tot mens.
- Beperk jou kalorieë volgens jou unieke metaboliese tempo.
Wat kan jy verwag?
- Verhoogde energievlakke, stamina en sterker spiere sodat jy die “jonger” manne kan wys waar Dawid die “gewigte” begrawe het.
- Amper al jou “oumens”-pyne verdwyn of raak minder – jy voel ligter, soepeler en sterker en daai pynpille en spierverslapppers kan maar op die rak in die apteek bly.
- Jou algemene gesondheid verbeter (bloedtoetse sal dit waarskynlik staaf).
Dus:
Stel vandag nog ’n doelwit, kry ’n plan van aksie gereed, wees gedissiplineerd en verbind jouself tot jou “nuwe” leefstyl. Onthou: Verandering gebeur nie oornag nie, en jy kan nie ’n towerstaf swaai en dink jy is nou fiks en gesond nie. Dit verg volgehoue vasbyt en dissipline, maar na ’n paar maande behoort jy die resultate te kan sien en voel.
Want … jy is nooit te oud om jouself beter te laat lyk en voel nie.
Bron: quora.com (Dayne Vickers)







