Skrywer: Nicolette Kritzinger
Veroorsaak dit ook spanning in jou huis?
Ek lees onlangs ’n artikel oor die mees algemene dinge wat spanning in ’n huwelik kan veroorsaak. Finansies, verskillende ouerskapstyle, swak kommunikasie.
Dit was nogal vir my vreemd dat hulle nagelaat het om die grootste stressor te noem: rugby.
Dis Saterdag en die Bokke draf later vanmiddag teen die All Blacks uit. Arme Christien moet regstaan vir die tien gaste wat Kobus vroeër die week in ’n oomblik van passie genooi het.
Kobus het in 1974 laas aan ’n rugbybal gevat. Hy hyg as hy yskas toe stap en die Springboktrui wat sy vrou in 2007 vir sy verjaardag gekoop het bedek nou nie meer al die belangrikste plekke nie.
Nietemin, het hy al teen Maandagmiddag oorweeg om vir Rassie te bel om sy dienste as hulpafrigter vir Saterdag se wedstryd aan te bied. Hy wil net hê Rassie moet die strategie verstaan.
Hierdie is nie ’n vriendelike toets teen die All Blacks nie. Hierdie is die derde wêreldoorlog.
Die Bokke skop eers vyfuur af, maar teen eenuur is al die versterkings reeds uitgelê. Alles wat ’n hartaanval op 32 kan veroorsaak word uitgepak: biltong, droëwors, aartappelskyfies en ’n verdagte oranje chip dip wat niks bevat wat vrylik in die natuur voorkom nie. Ruan se kind het nou-nou daaraan geruik en het intussen al drie keer gedreig om die hond te byt.
Dit is altyd vir my snaaks om die verskillende rugby-ondersteuners dop te hou.
Willie. As dit nou nie vir die besering was wat Willie in graad 7 opgedoen het toe hy oor sy skooltas gestruikel het en sy kuitspier gerek het nie, dan sou hy vandag uitgedraf het in ’n Springboktrui. Hy dink nie hy is beter as Siya Kolisi nie. Hy wéét hy is.
Marissa. Marissa is nie hier vir die rugby nie. Sy is hier vir Pieter-Steph du Toit se bobene.
“Sien jy nou, Danie! Jy kon ook so ’n onderlyf gehad het. Maar nee, jy sny mos nie die vet van jou tjops af nie!”
En dan is daar Martie en Vaatjie. Hul seun Ruan is onlangs gekies vir die o. 7C-rugbyspan by sy laerskool. Hy sou stut in die eerste span gewees het, maar blykbaar het Nico se ouers die heining om die klubhuis geborg en toe word Ruan in die proses benadeel. Volgens Martie en Vaatjie, is Ruan die volgende Eben Etzebeth.
Ek wil nou nie duiwelsadvokaat wees nie, maar as ek nou so vir Martie en Vaatjie kyk, weet ek nie of hulle geneties die potensiaal het om ’n Bok te baar nie. Maar dis nou maar net my opinie.

Dis tyd vir die volkslied. Kobus se hand is op sy bors. Die trane wel in sy oë op.
Nie eers op sy troudag of met die geboorte van sy eerste kind was Kobus so emosioneel nie.
Christien deel nie sy sentiment nie. Sy het hom die dood voor die oë gesweer as hulle nie stiptelik om seweuur eet nie, want anders gaan sy hul DStv-pakket kanselleer en sy Faf-onderbroek vir liefdadigheid skenk.
Nou probeer arme Kobus om te braai, sy bierglas vol te hou en vir Handré Pollard te oortuig om nie balbesit oor te gee nie … alles op een slag. Hy sweet tans meer as die spelers op die veld.
Die spel is skaars twee minute aan die gang toe breek Nieu-Seeland deur doellyn toe.
Kobus skree! Dit is ’n oerklank wat jy nie sommer in die natuur sal teëkom nie.
Mense sê altyd as ’n man se stem eers gebreek het, kan hulle nie sekere toonhoogtes bereik nie. Maar hier is Kobus – drie oktawe bo die notebalk, besig om in E-mineur vir Cheslin Kolbe te verduidelik hoe mens ’n Nieu-Seelander moet tackle. Dis angswekkend en merkwaardig op dieselfde tyd.
En dan … die verwagte aanmerking: “Jy kan mos nou sien dis ’n forward pass! Is die ref blind?! Hy is mos nou besig om ons te beroof.”
Nou, kyk, daar is twee goue reëls as dit by rugby kom.
As ons wen, is dit omdat ons land eenvoudig die beste spelers ter wêreld het en omdat Rassie ’n masjien is.
As ons verloor, is dit die skeidsregter se skuld.
Ongeag hoe hard Kobus pleit; dis ’n drie vir die Kiwi’s.
Christien begin bekommerd raak. As die Bokke vanaand verloor is die aand verby. Dan verklaar Kobus weer ’n week van rou waarin hy sy Springboktrui in koeksoda week, sy aandetes slegs in gedempte lig eet en sy onderlip begin bewe as enigiemand in sy teenwoordigheid die woord “rugby” sê.
Die vorige keer wat die Bokke verloor het, het Kobus al sy braaitoerusting verkoop, biltong afgesweer en op die familie- WhatsApp-groep verklaar dat hy nie meer as ’n Suid-Afrikaner identifiseer nie.
Maar nie hierdie keer nie. Rassie fluister-skree ’n paar oorspronklike Afrikaanse nuutskeppings in iemand se oor en voor ons ons oë uitvee skop Manie oor en Faf duik raak. Dis altyd merkwaardig om te sien wat vrees kan doen.
Die eindfluitjie blaas. Die wedstryd is ons s’n.
Daar was nog altyd iets aan rugby wat ek glad nie verstaan nie.
Die meeste van ons weet nie eers wat die verskil tussen ’n losskakel en ’n regterflank is nie. Tog daag ons elke Saterdag op, in ons groen en goud, en skree ons ons harte uit asof ons lewens daarvan afhang. Ons praat met vreemdelinge in die ry by Spar oor die naweek se wen, ons huil saam met kennisse om ’n braaivleisvuur as ons verloor en ons koop rugbytruie ten duurste sodat ons kan voel soos Speler 23 – gereed om uit te draf as die Bokke ons nodig kry.
Ek weet nie presies hoe nie, maar die Springbokke het iets reggekry wat regerings wêreldwyd al jare lank sukkel om te doen – om mense te bind. Of ons nou wen of verloor.
En ek weet nie van jou nie, maar dit laat my hart nogal groen klop.
Sterkte, Bokke, met die res van die toetse wat voorlê. Ons steek solank die vure aan.








